Die voorsienigheid van God

Die voorsienigheid van God

Deur Jen / 1 November 2019 / Ester

Hier is ons aan die einde van ons Ester-studie en ek hoop van harte dat jy met nuwe oë na hierdie verhaal kon kyk. Ek bid dat jy hierdeur geseën is en dat dit jou gehelp het om meer van God te wete te kom.

Die verhaal van Ester is ‘n pragtige beeld van die volmaakte werking van God se hand deur mense en gebeure. Van ‘n jong Joodse meisie wat koningin gemaak word en haar lewe waag om die Joodse volk te help red, tot Mordegai se onwrikbare getrouheid, en die ondergang van die bose Haman, het Ester ‘n sprokiesverhaal einde.  Ester bly koningin, die Jode is veilig en Mordegai word verhef  tot ‘n prominente posisie, tweede in bevel onder die koning.

Voordat ons hierdie studie afsluit, wil ek hê ons moet ‘n bietjie dieper delf en vlugtig kyk na die leer oor die voorsienigheid van God. Ek hou van hierdie leer want dit stel my in staat om ‘n kykie op die grootheid en almag van God te kry en dit vervul my met ontsag, vrede en aanbidding.

“Ek weet, die Here is groot, ons Here is verhewe bo al die gode. Alles wat die Here wil, doen Hy, in die hemel en op aarde, in die see, in al die oseane.” – Psalm 135:5-6

Ons moet begin met ‘n baie goeie definisie van wat die voorsienigheid van God is. Die Heidelbergse Kategismus gee presies so ‘n definisie.

Die almagtige en oral teenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom. – Heidelbergse Kategismus, V/A 27

God is die almagtige God, wat beteken dat Hy nie net ‘n mate van mag het nie, maar dat Hy alle mag besit. Hy is nie net ‘n bietjie nie, maar volkome in beheer. Dit het geweldige toepassings vir ons in alle areas van ons lewens, maar ek wil net ‘n paar uitlig.

1. Die Voorsienigheid van God Speel Klaar met Vrees en Bemoedig

Die meeste van ons, indien  nie almal nie, het al tye van vrees en angs deurgemaak. Dit gebeur gewoonlik omdat ons nie meer in beheer van ons omstandighede voel nie. Maar die ding is – ons het nooit beheer gehad nie. Die voorsienigheid van God leer ons dat dit nie die mens, of Satan, of hierdie wêreld is wat in beheer is nie, net God. Die Here maak dood en Hy maak lewend (1 Sam. 2:6), Hy maak arm en hy maak ryk (1 Sam. 2:7), Hy stuur die weer (Job 38) en beheer die diereryk (Jes 7:18). God is in beheer, en omdat ons weet dat ons God ook goed en betroubaar is, oorwin sy voorsienigheid ons vrese en vertroos ons harte. Wees bly dat jy nie in beheer is nie want jy sou dinge vererger het. Jou regverdige God heers teenswoordig in jou lewe en in alle dinge.

Die Here is regverdig in al sy handelinge, getrou in alles wat Hy doen.  – Psalms 145:17

2. Die Voorsienigheid van God Vernietig ons Eiegeregtigheid

Hoe gereeld dink ons hooghartig oor onsself? Miskien oor die feit dat ons kinders goed gemanierd is of omdat ons ‘n mooi huis het. Miskien verstaan ons die Woord van God maklik terwyl ander sukkel. Miskien is ons huwelike gelukkig. Enige van of al hierdie dinge is nie net as gevolg van jou pogings nie. Alles is geskenke. Wat jy ook al besit, is deur God aan jou gegee. Ons praat van geld, status, skoonheid, verstand, wysheid, talente of enigiets anders, alle goeie dinge is geskenke van God aan ons om Hom te verheerlik. (Jakobus 1:17). Dit geld natuurlik ook die dinge wat seermaak. Ons beproewings kom ook deur God se voorsienigheid. Jy sukkel dalk finansieel of het ‘n hele paar gesondheidsprobleme. God het daardie dinge in jou lewe toegelaat sodat jy jou oë op Jesus moet vestig en eerstehands kan ervaar dat Hy regtig al is wat jy nodig het.

3. Die Voorsienigheid van God moedig Geloof, Liefde en Nederigheid aan

Hoe meer jy God se hand wat beheer uitoefen oor alles bestudeer en begryp, hoe nederiger  sal jy raak en hoe meer sal jy jou God liefhê en vertrou. Hy is die beliggaming van wysheid. Hy kan niks verkeerd doen nie en maak nie dom keuses nie. Is dit nie wonderlik dat Hy die een is wat alles bepaal nie? Ja, soms mag dinge dalk ‘n bietjie deurmekaar lyk. Soos die Psalmskrywers, sal ons dikwels baie vrae hê. Maar niks word aan die toeval oorgelaat nie, niks is ‘n ongeluk nie, en niks gebeur deur die noodlot of karma nie. In plaas daarvan kan ons snags rustig slaap met die wete dat God se hand aktief by alles betrokke is, tot in die fynste besonderhede van die lewe. Hy is aktief, Hy is betrokke en Hy is volmaak. Dit moedig ‘n nederige, lewenskragtige geloof aan.

Hoewel God se naam nooit in Ester genoem word nie, sien ons sy hand dag en nag aan die werk. Ons sien hoe Hy die gebeure wat Hy bepaal het, liefdevol bewerkstellig terwyl Hy vir sy mense sorg. Ons verstaan miskien nie alles wat God doen nie omdat ons eindig en God oneindig is; ons sien net ‘n deel van die prentjie maar God sien die geheel. Maar ons kan Hom met ons lewens vertrou en ons dae vreugdevol tegemoetgaan, ongeag wat dit mag inhou omdat dit altyd God se magtige hand insluit.

Kyk na Jesus,

Baie dankie dat jy die Ester-studie saam met ons meegemaak het! Ons neem nou ‘n ruskansie van twee weke voordat ons met ons nuwe studie, die Bergrede, begin. Kom sluit gerus weer by ons aan en nooi ook jou vriendinne!

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse