Die Skande van Onvrugbaarheid

Die Skande van Onvrugbaarheid

Deur Crystal / 13 Januarie 2021 / Verlos van Skande

In ons Skrifgedeelte vandag bevind ons ons in die verhaal van Abraham en Sara. Abraham (genoem Abram op hierdie stadium) het reeds God se belofte ontvang dat Hy aan hom ‘n erfgenaam en ‘n nageslag sal gee wat so baie soos die sterre in die hemel sal wees (Genesis 15:1-16). Dit was ‘n ongelooflike belofte wat gemaak is aan ‘n paartjie wat al baie oud was en wie se kanse om ‘n kind te verwek, besig was om vinnig uit te hardloop. In ‘n seisoen van tekort, het God oorvloed belowe.

Ons kan aanneem dat Sara (op hierdie stadium genoem Sarai in ons Skrifgedeelte vandag), gehoor het van hierdie besoek van God en al die wonderlike dinge wat sou kom – en dit sou begin met ‘n seun. Dit was haar hartsbegeerte om ‘n seun te hê en dit was ook ‘n kulturele verwagting. In ‘n seisoen van onvrugbaarheid, was leegheid al wat Sarai kon sien. Die belofte is nie vervul op die tyd wat sy dit wou gehad het nie, en dus het sy die saak in eie hande geneem.

Skande kan dit doen. Skande vertel ons om ons eie planne te maak, ons eie oplossings te vind, ons eie agendas na die voorgrond te bring, om enige een en enige iets wat ons kan gebruik om daardie doel te bereik, te gebruik en om God se proses aan te jaag. Sarai se besluit het tot ‘n oplossing gelei, maar nie die een wat God belowe het nie. Die uitkoms van Sarai se aksie was nie feesviering nie, maar verdeeldheid, jaloesie en woede. Sarai het haar eie planne vertrou in plaas van om God se planne te vertrou. Deur te wag op God, op sy tydsberekening te vertrou en te glo in sy beloftes, plaas dit die beheer reg waar dit hoort – uit ons hande uit en in God se hande in.

Onvrugbaarheid was letterlik vir Abraham en Sara, maar vir baie van ons is daar ‘n droom, ‘n begeerte of ‘n belofte van God wat ons nog moet sien realiseer. Dit is die eerste ding waaraan ons dink wanneer ons wakker word en die laaste ding op ons harte voor ons aan die slaap raak. Miskien het ons vir ‘n paar nabye vriende daarvan vertel en nou voel dit ongemaklik en is dit vir ons ‘n verleentheid wanneer hulle vra hoe dit gaan. Elke keer wanneer daar ‘n geleentheid op ons pad kom en die geleentheid gaan verby sonder ons, dan begin ons twyfel. Of, as jy soos ek is, begin ons om ‘n plan te maak. Hoe ons die wagperiode navigeer is belangrik.

Wanneer iets waarop ek gewag het en voor gebid het, nie uitwerk soos ek verwag het nie, of op die tyd waarvoor ek gehoop het nie, begin ek om bietjie vir bietjie beheer terug te neem. ‘n E-pos hier, ‘n slim uitgewerkte sosiale media plasing daar, ‘n terloopse woord aan ‘n vriend oor ‘n rol wat hulle kan speel en voordat ek dit besef, is dit my wil – nie God s’n – wat ek besig is om na te streef. In die seisoene wanneer ek waarlik op God gewag het, was ek getuie van die wonderbaarlike, toe sy belofte waar geword het op die perfekte tyd. Of dít wat onmoontlik gelyk het, het gebeur, omdat alles vir God moontlik is. Aan die ander kant, wanneer ek voortgesnel het op my eie tydsberekening, het ek misluk, teleurgesteld gevoel, onredelike verwagtings gehad en getwyfel.

Ons kan vandag hoop vind in Abraham en Sara se verhaal. God het hulle onvrugbaarheid gebruik as ‘n wonderbaarlike beginpunt in die lyn van nasate wat eendag ‘n babaseuntjie sou verwelkom wat in ‘n krip lê en wat gebore is om die wêreld te red. ‘n “Nog nie” van God beteken nie nooit nie, net dat dit nog nie sy perfekte tydsberekening is nie. Selfs as ons nooit die ware vervulling van sy belofte sien nie, kan ons steeds ‘n nalatenskap van geloof, en nie skande nie, skep vir generasies wat na ons kom. God is ‘n Beloftehouer en wanneer ons dit glo, kan ons Hom ook verheerlik en eer as die Een wat ons van skande verlos.

Crystal

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse