Die Realiteit van Jesus

 

 

Ek moet toegee dat ek soms wonder hoe iets wat so lank gelede al geskryf is, vandag op my lewe van toepassing kan wees. Nietemin maak dit my opgewonde om jou (en my ook) daaraan te herinner dat ons ‘n God dien wat tydloos is en wie se Woord nooit onverrigter sake na ons sal terugkeer nie (Jesaja 55:11).

Wanneer ek Genesis 3 deurlees, kan dit nogal ontmoedigend wees om te praat oor hoe die eerste mense nie eers deur ‘n paar hoofstukke kon kom sonder om te sondig nie. Dit laat my wonder waarom God hoegenaamd mense gemaak het. (Dis goed om sulke vrae vir God te vra want Hy het ons na sy beeld geskep om diep na te dink, en Hy wil graag sy karakter aan ons openbaar. Hy skrik nie vir ons vrae nie, want sy Woord gee vir ons antwoorde).

Die waarheid is dat God ons gemaak het omdat Hy ‘n diep verhouding met ons wil hê. Hy wil ons intiem ken en wil hê dat ons Hom intiem moet ken sodat ons die groot vreugde daarvan kan smaak om deur Hom liefgehê te word. God hou die sondige menseras vir ‘n baie besondere doel in stand.

Na die sondeval, in Genesis 3:8-19, lees ons ‘n dialoog tussen God, Adam en Eva. Nadat hulle gesondig het, het hulle besef dat hulle kaal is, en hulle het verstaan hoe skaamte voel. Hulle natuurlike reaksie was om vir God weg te kruip. Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?” (Genesis 3:11)

Kortom, Adam het die skuld op Eva gepak en Eva het die slang wat haar bedrieg het, blameer. God het toe die slang en die hele mensdom vervloek en daarom is dit nie die meeste mense se gunsteling Skrifgedeelte nie. Hierdie gedeelte bring baie vrae na vore: Hoe moet ek op hierdie vervloeking van die slang en die mensdom reageer? Hoe help hierdie gedeelte my om God se karakter te verstaan? Hoe kan ek bly wees nadat ek so iets gelees het?

Ofskoon ons almal dalk mag dink dis die einde van ons blydskap (hoewel ons nog net tot by hoofstuk 3 gekom het), is dit ons realiteit. Maar wat eintlik tussen die reëls van hierdie realiteit versteek is, is pragtig. As ons mooi oplet, sien ons dat vers 15 ‘n ommeswaai bring van wat lyk na ‘n hopelose en neerdrukkende verhaal, na die mooiste verhaal in die wêreld. Hierdie is die eerste bybelse verwysing na die evangelie. Dit is God se eerste belofte om eendag die hele mensdom van die vloek van sonde te verlos.

Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag.

Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”

— Genesis 3:15  

God belowe dat die vrou se nasaat die slang, God en die mens se vyand, sal verslaan. Ons sal later uitvind dat hierdie nasaat Jesus Christus is!

Galasiërs 4:4-5 sê vir ons, “Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.”

Jesus se sending na die wêreld toe met die uitsluitlike doel om vir die hele mensdom te sterf, is die vervulling van daardie eerste belofte in Genesis 3. Ek is so dankbaar dat ons kon sien hoe hierdie belofte in Christus vervul is. Dit gee vir ons ‘n baie duidelike openbaring van God se karakter as ons getroue Handhawer van sy beloftes.

As ons deur Genesis 3 lees, sien ons dat sonde vir seker ernstige gevolge het, maar ons sien ook God se versekering dat dit nie die einde van die verhaal is vir dié wat in Jesus glo nie. Die voorafskaduwing van ‘n Verlosser in Genesis 3:15 is ons eerste straaltjie van hoop.

Die waarheid is dat God soewerein is. Hy het geweet dat almal sou sondig en te kort skiet aan sy groot heerlikheid, en Hy het nog altyd ‘n aksieplan gehad het om die mensdom van die gevolg van sonde (naamlik ewige pyniging en skeiding van Hom) te verlos.

Sonde is ‘n werklikheid, maar Jesus ook. En dis presies waarom God die mensdom in stand gehou het sodat ons sy passievol toegewyde liefde vir ons (wat deur die werk van Christus voltooi is) kon aanskou en leef om Hom te verheerlik. Romeine 5:8 sê: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

Laastens, vriendin, maak gerus ‘n tydjie om Romeine 5:18-21 te lees om alles saam te vat. Net soos sonde, wat lei tot veroordeling, by Adam (die begin van die mensdom) begin het, het lewe vir alle mense gekom deur die lewe, dood en opstanding van Jesus Christus, God se sondelose Seun. Die wet is ingestel om ons sonde bloot te lê en ons behoefte aan God se genade te beklemtoon, en deur die wet word God se karakter geopenbaar.

Ons was dood in ons sondes, “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!” (Efesiërs 2:4-5). Loof God vir sy goedheid en genade!

Mag jy, soos jy verder deur hierdie studie lees, bemoedig word dat die Bybel een groot verhaal is, alles oor Jesus. In die begin het God die wêreld in Jesus se teenwoordigheid geskep, en van die begin af het Hy ‘n plan gehad om dit deur Jesus te verlos. Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe (Johannes 4:16), en Hy kan vandag aan jou behoort (sien sy uitnodiging aan jou in Johannes 11:25-26).

Met God se Liefde,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse