Die Leiding van God

Die Leiding van God

Deur Jen | Oktober 11, 2019 | Ester

Hoofstuk 4 van Ester wys vir ons waarom Ester juis koningin moes wees. God het dinge so bewerk dat, toe Sy mense in die moeilikheid was deur die boosheid van Haman, Ester daar sou wees om hulle te help.

Dit sou nie maklik vir Ester gewees het nie. Die koning het haar vir ‘n hele maand nie gesien nie, en niemand, nie eens die koningin, loop sommer net by die koning in nie. Nie as jy jou lewe liefhet nie. En ek is seker dat Ester meer as net ‘n bietjie senuweeagtig was om ongenooid voor die koning te verskyn. Ester het leiding en bemoediging nodig gehad vir die moeilike keuses en God het aan haar wysheid verskaf deur Mordegai.

Ek is die tipe vrou wat hou van stap vir stap instruksies, hoe meer besonderhede gegee word, hoe beter vir my omdat ek myself altyd bevraagteken. Maar die lewe kom nie so met gedetaileerde besonderhede nie.

Hoeveel kere wonder ons wat ons volgende stap moet wees? Wat is God se wil vir my lewe in hierdie omstandighede? Sou ons nie almal daarvan gehou het dat God met ons in ‘n helder, duidelike stem gepraat het en vir ons vertel het presies wat om te doen nie? Ek weet ek sou daarvan gehou het.

Om die wil van God te onderskei, is baie meer gekompliseerd gemaak as wat dit regtig is. Daar is eintlik net twee maniere in die Bybel waarop daar van die wil van God gepraat word. Een manier is sy wil van doel en die ander is sy wil van gebod.

Deur God se wil van doel eindig ons waar God ons wil hê, selfs al beplan ons nie doelbewus om daar te wees nie. Sy wil van doel is sy soewereine wil – wat Hy beplan het, sal gebeur. Ons sien hierdie tipe wil van God dwarsdeur die boek Ester. God het al die gebeure so beplan dat Ester sou eindig waar sy was, wie sy was sodat God se mense gered sou word. Niemand en niks kan God se wil van doel stuit nie.

En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil, doen Hy. Psalm 115:3

Die ander soort wil waarvan in die Bybel gepraat word, is die wil van gebod. Dit is wat God aan ons geopenbaar het en van ons verwag.

Chuck Swindoll het gesê: ”hoe beter ons die Woord van God leer ken, hoe minder verwarrend is die wil van God.” Hoekom is dit so? Omdat God sy wil vir ons in die Bybel openbaar het. Wat wil God van my hê? Hoe wil Hy hê moet ek lewe? Die antwoorde is alles reg daar in die Bybel.

Alles wat ons nodig het om te lewe en heilig te wees (1 Tes. 4:3; 1 Tes. 5:18; 1 Pet. 2:!5; Ps. 119:105) vind ons in ons Bybels. Dit is een van die redes waarom ons dit so getrou moet studeer. Is dit maklik? Nee, want ons gevoelens beïnvloed ons en soms hou ons glad nie van wat ons lees nie. Ander kere is dit harde werk om die verse te verstaan, en om die waarheid te sê, soms is ons net nie lus om soveel moeite in te sit nie. Maar Spurgeon het gesê: “Ons verantwoordelikheid is om die goeie ou paaie uit te soek en daarop te loop (Jer. 6:16) selfs al druis dit teen ons eie wil.”

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Spreuke 3:5-6

Ons eie wil verhinder ons soms om God se wil te doen. Ons hou nie van wat ons lees nie, en ons weier om te gehoorsaam. Dit is nie ‘n goddelike reaksie nie en dit veroorsaak dat ons hardkoppig word en op ons self wil staatmaak. Ons werk is om ons wil in lyn te bring met die wil van God, soos in die Bybel openbaar word.

Ons het die lewe nog nie uitgepluis nie, maar God het reeds. Ester het ‘n moeilike taak voor haar gehad, gelei deur God se wil van gebod (beskerm die onskuldiges, eer die Here) en voorberei deur God se wil van doel. Sy moet die koning nader, en haar lewe waag, sodat haar mense ‘n kans kan hê om te oorleef.

Is ons gewillig om God se leiding te volg selfs al voel dit nie goed nie?

Gevoelens kom en gaan,

En gevoelens is bedrieglik;

My waarborg is die Woord van God-

Niks anders is die moeite werd om te glo nie.

Martin Luther

Een ding wat ons moet onthou is dat die Bybel die wil van God vir ons openbaar en dat dit ook ‘n Boek vol beloftes is. Die grootste belofte is dat waar ons afgeskeep het en aan die wil van God ongehoorsaam was, Jesus dit in stand gehou en volmaak vir ons gevolg het. God belowe dat alles lei tot die terugkeer van Jesus en die verlossing van Sy mense. Dít is ons hoop en vreugde.

Kyk na Jesus,

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse