Die Krag van “Wag”

Die Krag van “Wag”

deur Angela | Oktober 15, 2019 | Ester

Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd. Spreuke 25:11

Ek kan amper die toneel in my verbeelding sien…

‘n Pragtig versierde tafel met al die koning se gunstelinge. Van die eerste tot die laaste gang is elke detail van hierdie belangrike aand noukeurig beplan en uitgevoer. Ester was ‘n koningin wat haar koning geken het, en haar koning het gehou van bankette. Om die waarheid te sê, hy het sommer baie daarvan gehou.

Watter beter manier kon daar dan wees om namens haar volk met haar koning te praat as om hom en sy vriend eers na ‘n spesiale dinee uit te nooi! Kom nou, meisies, ons weet tog almal dat een van die beste paaie om by ons mans se harte uit te kom, deur hulle mae loop! Ester was nie dom nie.

Maar iets het daardie aand by die banket gebeur. Iewers tussen die aptytwekkers en die nagereg het Ester ervaar dat God haar lei om te wag met die rig van haar versoek aan die koning. Stel jou voor hoe moeilik dit vir haar moes gewees het! Die druk van duisende mans, vroue en kinders se lewens was op die spel. Haar woorde moes foutloos wees, die maaltyd eksie perfeksie. Alles moes presies volgens plan verloop … en toe het dit nie. Persoonlik sou ek, in sulke situasies, dit eerder agter die rug wou kry as om die spanningsvolle gewag ‘n dag langer uit te rek en nog ‘n dinee te beplan. Maar nie Ester nie. Sy was ‘n vrou wat bereid was om op die Here te wag, al het dit nie op daardie tydstip vir haar sin gemaak nie. Haar vertroue was stewig in God, in sy wil en in sy tydsberekening geanker. Sy was gewillig om te wag as dit was wat haar Here haar gelei het om te doen.

En dus het sy gewag.

“As die koning my goedgesind is, en as die koning dit goedvind om aan my wens te voldoen en my versoek toe te staan, kom dan môre saam met Haman na die maaltyd toe wat ek vir u sal berei. Dán sal ek my wens aan die koning bekend maak.” Ester 5:8

Ester was ‘n koningin wat die krag van wanneer om te praat en wanneer om stil te bly, geken het.

“Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd.” Spreuke 25:11

Die regte woorde op die regte tyd gesê, op die regte plek … dit is wat Ester beoog het. Soms weet ons wat gesê moet word, maar die tydsberekening is verkeerd. Ester het ervaar dat God die “wag-knoppie” druk en daarom stel sy haar versoek uit.

“God het dit op Ester se hart gedruk om haar versoek nog ‘n dag uit te stel; sy het nie geweet nie, maar God het geweet wat daardie selfde aand sou gebeur.”- Matthew Henry

God was aan die werk in Ester se wagperiode.

Hy doen dieselfde vir ons.

Liewe vriendin, moenie ontmoedig raak as jy ‘n wagperiode beleef nie. Moenie moedeloos raak as dit vir jou voel asof God jou die “wag-knoppie” laat druk het nie. Miskien is dit die begeerte om te trou maar die regte man het nog net nie sy opwagting gemaak nie. Of miskien is dit die verlange om met ‘n gesin te begin, maar God het jou nog nie met ‘n kind geseën nie. Miskien, net miskien, is dit in die stilte, die onbeantwoorde gebede, die vertraging … in die pouse van die lewe dat God agter die skerms werk, besig om ‘n ongelooflike verhaal van ‘n ommeswaai van gebeure te skryf wat nog onthul moet word.

Ek dink soms dat God sy beste werk doen in die “pouses” van ons lewens.

Moenie ontmoedig raak, liewe suster, as jy ‘n “pouse” beleef nie … jy weet nooit wat God se môre mag oplewer nie

‘n Slapelose nag was op die horison en ‘n ongelooflike ommeswaai van gebeure was op die spel. 

Kom ons praat: Wat het God jou in die wagtye of pouses van jou lewe geleer? Kom ons bemoedig mekaar vandag!

Lief God Grootliks

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse