Die Koste van die Ewige Lewe

Die Koste van die Ewige Lewe

Grace Ann Hopkins

Toe ek gaan sit om ons Skrifgedeelte vir vandag te lees, het ek geweet ek sal die hele hoofstuk moet lees om die konteks van Jesus se woorde te verstaan, maar die vyand het my begeerte en aandag van God se Woord afgetrek. Enigiets anders het gelyk na ‘n beter gebruik van my tyd. Daar is inderdaad ‘n geestelike stryd rondom ons aan die gang!

Vriendin, die vyand wil nie hê jy moet die Woord van God hoor nie, want hy is ‘n leuenaar en hy haat die waarheid (Johannes 8:44). Die vyand weet dat God se Woord die waarheid is en dit het die mag om jou ten volle vry te maak (Johannes 8:32), so hy sal enigiets doen om jou daarvan weg te hou, of dit nou beteken om jou apaties teenoor dit, of net ‘te besig’ daarvoor te maak.

Toe ek vandag se Skrifgedeelte begin lees, kon ek myself nie keer nie. Ek het die presiese woorde van Jesus, my Verlosser en Beste Vriend, opgeslurp. Hy het direk oor my gepraat, met my. Hy het spesifiek vir my gebid. Opregte trane het in my oë opgewel tot by die punt dat ek nie kon sien nie. Dit was trane van blydskap, trane wat kom wanneer jy besef hoe diep geliefd jy is.

Ek het op daardie oomblik geweet dat Jesus lewe en dat Hy naby my was en wou hê dat ek sy hart vir my moes ken. Hierdie oomblik het so intiem en warm en veilig en vreedsaam gevoel omdat ek in die waarheid van God gebly het en nie in die vyand se leuens dat ek onsigbaar, vergete, ongeliefd en alleen was nie. My God se Woord het gesê dat ek aan Hom behoort en dat ek in Hom leef. Dit het gesê dat ek deur Hom geken en geliefd is, selfs al het die wêreld my nie omhels nie.

Liewe vriendin, Jesus het vir jou gebid en bid op die oomblik vir jou. Het jy geweet dat Jesus Christus aan die regterhand van God sit en vir ons intree (Romeine 8:34)? Dit is duidelik in Johannes 17 dat God se hart vir jou is om Hom intiem te ken. Hy het so ver gegaan om sy geliefde Seun, Jesus, aarde toe te stuur om sy karakter en natuur aan jou te openbaar: ’n karakter van diepe barmhartigheid, deernis en lojale liefde (Psalm 145:8). Jesus is God in die vlees, wat sy tuiste op aarde gemaak het met die uitsluitlike doel om God se liefde vir jou te demonstreer.

Jou sonde het Hom nie afgeskrik nie, maar sy volmaakte liefde vir jou het Hom altyd net nader getrek. God se hart is dat niemand verlore mag gaan nie, maar dat almal tot bekering kan kom (2 Petrus 3:9). Dit beteken dat Hy wil hê jy moet in ‘n intieme verhouding met Hom wees. Dit is waarom Hy sy Seun gestuur het. Vir my gee dit nuwe betekenis aan Jesus se woorde in Johannes 17:3: “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.”

Vriendin, miskien het jy die waarheid dat God jou persoonlik liefhet, uit die oog verloor. Ek moedig jou aan om die koste van die ewige lewe te oorweeg. Wat moes Jesus doen sodat jy kon lewe? Hy het sekerlik sy alles vir jou gegee. Al wat oorbly is dat jy dit glo. Jy is verseker die moeite werd om liefgehê te word, want Jesus het jou as sy bloed werd geag. Ek kon dit nie beter verkondig as hierdie nie: “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir die goddeloses gesterwe. ‘n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ‘n regverdige nie. Ja tog, vir ‘n goeie mens, sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe.  Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:6–8).

Week 6 Uitdaging:

Glo jy Jesus is die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe? Hoekom of hoekom nie? Kan jy dit aan ‘n vriend verduidelik wat Christus nie ken nie? Vra hierdie week vir God om vir jou ‘n deur oop te maak om te deel hoe Jesus die Seun van God is en die enigste weg na die ewige lewe.  

Week 6 Leesplan:

Week 6 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse