Die Keuse Is Joune

Die Keuse Is Joune

Deur Angela | September 23, 2019 | Ester

Liewe vriendinne,

Ek is so bly dat julle by ons aansluit vir ons studie van die ongelooflike boek, Ester. Dit is geen toeval dat ons vir die volgende ses weke deur hierdie kragtige boek gaan werk nie, “met die oog op ‘n tyd soos hierdie.” Voordat ons begin wil ek hê dat jy weet dat daar vir jou gebid is. Ongeag of jy ‘n Christen is vandat jy kan onthou en jou Bybel al ‘n bietjie stukkend raak, en of jy ‘n nuwe Christen is en dit die eerste keer is wat jy God se Woord lees… jy is welkom hier.

Vir diegene van julle wat nuut is en onbekend is met ons SOAP metode, dit word hier verduidelik.

Kom ons begin… ek kan eenvoudig nie langer wag nie!!!

God se Woord is waarlik ongelooflik! Ester is ‘n boek wat ongeveer 470 V.C geskryf is en dit gaan oor ‘n meisie wat ‘n weeskind was in antieke Persië, en haar ongelooflike reis om koningin van die kragtige Persiese Ryk te word. Deur God soewereiniteit en Ester se vasberade gehoorsaamheid, het Hy Ester gebruik om haar mense van uitwissing te red. Selfs al is God se naam nooit in die boek Ester geskryf nie, is sy Goddelike vingerafdrukke reg deur die boek sigbaar. Ons leer uit Ester dat daar niks soos “toeval” is nie, en alhoewel God met tye soms ver of selfs afwesig voel in ons lewens, is Hy nie. Moenie geflous word nie… dinge wat in ons wêreld gebeur is nie toevallig nie, en dit is ook nie lukraak nie… Alhoewel vrees met tye kan inkruip, moet ons onthou dat niemand: nie ‘n koning, president of terroris God se planne vir sy mense tot niet kan maak nie. Hierdie ongelooflike verhaal van ‘n “niemand” wat ‘n “iemand” word, is vir elkeen van ons… veral in die lig van die wêreld rondom ons.

Ons leef in ‘n tyd van onsekerheid. Maar, elke dag as ons ons oë oopmaak om die seën van nog ‘n sonsopkoms te verwelkom… het ons ‘n keuse. Ons kan kies om ons lewens in vrees te leef of ons kan kies om ons lewens in geloof te leef. Ester demonstreer hierdie keuse vir ons. Soos ons hierdie kragtige verhaal saam lees, wees bemoedig dat God in die besonderhede van Ester se lewe en ook in joune is. God se wil word volbring deur die goeie, die slegte, die gelukkige en die pynlike dae van ons lewens.

Ongeag van wie in beheer is in ons lande, God is steeds op die troon in die hemel.

Ons leef in moeilike tye. Net soos Ester, duisende jare gelede in antieke Persië, voel dit soms asof ons wêreld uit beheer uit spin… en dat die bose besig is om te wen. Maar skep moed my liewe vriendinne, en hou vas aan die versekering wat ons in Deuteronomeum 31:6 vind…

Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.

God is altyd met ons.

Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.

Ons word geroep om moed te hou en dapper te wees, wat vir my vertel dat daar tye in ons lewens gaan wees waar ons óf ‘n lewe van geloof óf vrees moet kies.

Hou moed, God sal dít wat Hy begin het, end-uit voer.

Filippense 1:6 herinner ons aan hierdie waarheid:

Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

Alhoewel hierdie lewe moeilik, teleurstellend en met tye hartverskeurend kan wees, hou ons aan die waarheid wat ons in Romeine 8:28 vind, vas:

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Soos ons hierdie studie saam begin, bid ek dat jy bemoedig sal word deur Ester se voorbeeld en dat jy sal kies om doelgerig ‘n lewe van dapperheid, selfopoffering en vol geloof sal leef. Ons het nie al die antwoorde nie. Situasies in ons lewens mag buite beheer wees… maar ons kan kies om ons lewens op Hom, die Een wat al die antwoorde het en wat die hele wêreld “in sy hande” het, te fokus.

Ons vertroue en geloof is in Hom geanker.

Hê God Groots Lief,

Kom ons gesels:

Omdat vandag die eerste dag van ons studie is, sal ons graag wil weet van waar julle by ons aansluit en wat is een ding waarna jy uitsien om meer van te leer in die boek Ester?

Week 1 Uitdaging: Kies geloof bo vrees! Skryf in jou joernaal hoe jy hierdie week doelgerig gaan veg vir geloof en nie ingee tot vrees nie! Skryf sommige van die verse in vandag se bloginskrywing neer. Reik dan uit na ‘n vriendin en laat haar bid vir jou in hierdie area van jou lewe! Ons moet mekaar in gebed ondersteun!

Week 1 Leesplan

Week 1 Memoriseervers

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse