Die Keerpunt

Die Keerpunt

Lyli Dunbar

Vir byna twee dekades het ek Engels op hoërskool gegee en die grootste deel van die dag saam met tieners verhale gelees. Ek het ‘n uitdeelstuk vir my leerders saamgestel om die sleutelelemente van ‘n goeie verhaal te leer. Saam sou ons die intrige ontleed, die sleuteloomblikke identifiseer en bespreek wat die verhaal so onvergeetlik gemaak het. ‘n Verhaal wat goed geskryf is, gryp jou hart aan en laat jou dink oor hoe jou keuses jou lot kan verander.

God skryf die beste verhale. Josef se verlossingsverhaal gee my hoop wanneer my eie lewe ‘n onverwagse wending neem. God het ‘n gebroke familie wat deur afguns en selfsug verskeur is, gekies om verlossing vir ons almal te bring. Ek kan sien hoe die vyand probeer het om verdeeldheid en chaos te skep, maar God het ‘n tragedie in triomfantelike herstel omskep. Net soos Josef se verhaal goed geëindig het, glo ek dat my ingewikkelde situasie ook ’n mooi einde sal hê.

Sonder konflik, misluk verhale. Die hoofkarakter moet een of ander probleem oplos of ‘n struikelblok oorkom. Dit is maklik om te sien wanneer ek ‘n boek lees, maar moeilik om te aanvaar wanneer dit in my eie lewe afspeel. Ek beland op my knieë en bid dat God dinge sal verander en vir my my gelukkige einde sal gee.

Miskien beleef jy op hierdie oomblik ‘n tragedie in jou eie familie. Ek hoop dat jy bemoedig sal word deur die gebeure in Josef se lewe te ontleed, want God is nog nie klaar geskryf aan jou verhaal nie. Jou keerpunt kom nog, en God gaan die eer kry. Net soos Josef gaan jy dalk uitkom waar jy nooit verwag het om te gaan nie, maar jy is nooit alleen nie. God is die held wat altyd veg om jou te red, en Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie.

Josef se verhaal leer ons dat ons pyn nie ongesiens by ons God verbygaan nie. Die planne van die vyand kan nie sy goddelike plan vir ons lewens verydel nie. Ongeag waar hierdie lewe ons heen lei, God seëvier uiteindelik.

Hoe ons op onvoorsiene gebeure reageer, kan vir diegene in ons invloedsfeer die rigting na redding aandui. Josef het nooit aan bitterheid toegegee nie. Hy het deur die konflik volhard en vertrou dat God die bladsy sou omblaai en op die regte tyd sy verhaal sou herskryf. Kom ons kies om ‘n beter verhaal met ons lewens te skryf:

In plaas daarvan om “ons sin te kry”, kan ons ons aan God se wil onderwerp.

Eerder as om onsself af te sluit, kan ons genade betoon en ons teenstander na die tafel toe nooi. Waar die vyand ons probeer verdeel het, kan ons vandag kies om aan te hou veg vir verlossing. Net soos Josef, kan ons nee sê vir vergelding en ons oopstel vir God om oortuiging te bring en herstel te bewerkstellig.

God se genade het ‘n invloed gehad op elke gebeurtenis in hierdie verhaal. Nie een karakter is as onredbaar afgeskryf nie. Die keerpunt het gekom toe Juda en sy broers oplaas hulle sonde en selfsug erken het. Josef se vyandige broers het in nederigheid op die grond neergeval en vergifnis gevra. Hulle het besef dat hulle nie hulself kon red nie. Gelukkig het God hulle broer presies daar geplaas waar hy namens hulle kon intree.

Hierdie pragtige verlossingsverhaal is ‘n voorafskaduwing van ‘n nog groter liefdesverhaal wat deur Christus waar gemaak is. As deel van God se verlossingsplan het Jesus vlees geword en aarde toe gekom om sondige mense te red. Ons Verlosser het ongelooflike verwerping en vervolging verduur om sy lewe op te offer. Hy het tot die einde toe volhard omdat Hy vir ons almal se redding geveg het.

God het die donkerste dag in die geskiedenis omgekeer toe Jesus die dood verslaan en die oorwinning behaal het. Geen verhaal is vir God te donker om om te keer nie. Wanneer ons vertrou dat God die verloop van sake in ons lewe sal orden, kan ons met groot verwagting na môre uitsien. Ons slot sal altyd baie groter wees as wat ons kan vra, kan dink of ons kan voorstel.

Vriendin, jou verhaal is veilig in God se magtige hande. Hy sal altyd sake omkeer en sy geliefdes red.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse