Die Heiligheid van God

Die Heiligheid van God

Melissa Fuller

Weeklag is ‘n kragtige praktyk. Soos ons ons pyn teenoor God uitspreek, verklaar ons ook ons geloof in Hom. Wanneer ons na Hom roep, erken ons die manier waarop sonde pyn en lyding veroorsaak het in die wêreld wat Hy geskep het. Weeklag is ‘n manier om ons geloof in Hom uit te druk, selfs terwyl ons ‘n gebroke wêreld ervaar.

Terwyl lyding soms deur die gebrokenheid van die wêreld veroorsaak word, word sommige lyding deur spesifieke sondes in ons lewens veroorsaak. Die mense van Juda het dit eerstehands ervaar.

God het die volk Israel gekies om sy uitverkore volk te wees, die nasie deur wie Hy die hele wêreld sou seën deur die Messias, die Verlosser van die wêreld. As gevolg van die sondes van Israel se konings is die nasie in twee koninkryke verdeel, Israel en Juda. Israel, die noordelike koninkryk, het uit tien stamme bestaan, terwyl Juda, in die suide, uit die stamme van Juda en Benjamin bestaan het. Die noordelike koninkryk van Israel is in 722 v.C. deur die Assiriërs oorgeneem. Die suidelike koninkryk het nog sowat 125 jaar oorleef totdat dit ook vernietig is, hierdie keer deur die Babiloniërs. 2 Kronieke bied ‘n gedetailleerde verduideliking van waarom die inwoners van Juda deur sy vyande vernietig is:

“Die Here die God van hulle voorvaders het voorturend aan hulle sy wil bekend gemaak deur middel van sy boodskappers, want Hy was begaan oor sy volk en sy woning, maar hulle het die boodskappers van God uitgelag, sy woorde geminag en sy profete gespot totdat die toorn van die Here oor sy volk losgebreek het. Die straf was onherroeplik. Die Here het die konings van die Galdeërs teen hulle laat optrek, en dié het die jongmanne van Juda doodgemaak binne in die heiligdom en nie jongman of meisie, grysaard of invalide ontsien nie. Die Here het almal in die mag van die koning van Babel gegee. Alles wat in die tempel was, of dit groot was of klein, die skatte van die huis van die Here, van die koning en sy amptenare, alles het hy na Babel toe gevat. Daarna het hulle die tempel afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles wat van waarde was, verwoes. Almal wat nie doodgemaak is nie, is na Babel toe weggevoer, waar hulle die koning van Babel en sy seuns se onderdane was totdat die Perse die bewind oorgeneem het. So is die woord van die Here vervul wat deur middel van Jeremia gekom het. Die ballingskap het aangehou totdat die land vir sy sabbatsjare vergoed is. Die hele tyd dat die land woes gelê het, het dit ‘n sabbatsrus geniet, ‘n volle sewentig jaar”       (2 Kronieke 36: 15-21).

God het getrou aan die mense van Juda geleentheid op geleentheid gegee om Hom te volg. Soms het die mense berou gehad oor hulle sonde en na Hom teruggekeer. Maar dikwels het die mense hulle tot valse gode gewend, afgode aanbid en soos die goddelose nasies rondom hulle geword – die nasies wat hulle opdrag gekry het om te vernietig.

God is barmhartig, lankmoedig en vol liefde. God is ook heilig, regverdig en jaloers. Toe God se mense voortdurend van Hom weggedraai het en ander gode aanbid het, het Hy aan hulle geleenthede gegee om hulle te bekeer en na Hom terug te keer. Maar hulle harte was verhard. God het sy uitverkore volk gedissiplineer deur toe te laat dat hulle deur die Babiloniërs verower word. Hy het ander nasies as gereedskap gebruik om sy heiligheid, geregtigheid en toorn aan sy volk te toon.

Die Boek van Klaagliedere verskaf aan ons ‘n eerstehandse verslag van die vernietiging van Jerusalem. Die profeet Jeremia, dieselfde profeet wat dekades lank die mense van Juda geroep het om hulle te bekeer, het geween oor die vernietiging van die stad en die tempel. Hy het diep hartseer uitgespreek oor wat met God se volk gebeur het. Hy het geweeklaag oor die sonde van die nasie en hulle rebellie teen God erken.

Tog het Jeremia, selfs in sy klaaglied, hoop gegee. Hy het uitgeroep in erkenning dat God sy volk vernietig en gedissiplineer het. God se heiligheid is deur sy mense bespot en Hy het uiteindelik sy oordeel oor hulle uitgestort. Jeremia se klaaglied het ‘n erkenning van die heiligheid van God getoon. Hy het verklaar dat God reg was om hierdie oordeel oor sy volk te bring omdat hulle teen Hom gesondig het en geweier het om hulle te bekeer. Jeremia se klaaglied is ‘n verklaring dat ongehoorsaamheid aan God vernietiging bring en dat bekering die enigste pad terug na Hom is.

God is regverdig en heilig. Hy kan nie en sal nie sonde duld nie. En God is vergewensgesind; Hy laat toe dat sy mense hulle bekeer en na Hom toe terugdraai. Omdat Jesus vir ons gesterf het, het Hy die straf geneem wat ons verdien het vir ons sonde. Hy is nou ons voorspraak, en gaan voortdurend namens ons voor die Vader. As ons gelowiges in Christus is, kan ons, wanneer ons ons van ons sonde bekeer, die vertroue hê dat ons ten volle vergewe is en herstel is tot ‘n volmaakte verhouding met Jesus Christus en God die Vader.

Dalk lees jy hierdie en het jy nog nie besluit om Christus met jou lewe te vertrou nie. Dalk glo jy steeds dat jy al die goeie en slegte dinge wat jy doen, moet uitbalanseer en seker maak dat jy oordeel vermy op grond van jou eie meriete. Gelukkig is dit nie die geval nie. Vandag kan jy glo dat Jesus Christus die Seun van God is wat aarde toe gekom het om jou te red van die straf wat jy verdien. Hy het jou plek ingeneem en Hy het die toorn van God verduur – die straf wat jy moes ontvang – sodat jy ‘n verhouding met God kan hê. Nou, wanneer jy in Hom glo, en glo dat Hy ‘n volmaakte lewe geleef het, gesterf het en weer opgestaan het en dat sy offer al is wat jy nodig het om herstel te word met God, kan jy lewe in Hom hê!

Hy is medelydend en lankmoedig, en Hy is heilig. Sy heiligheid is die rede hoekom Hy nie sonde kan verdra nie. Vandag ervaar ons nie die toorn van God soos Jeremia dit ervaar het nie. In plaas daarvan is die toorn van God oor sy Seun, Jesus, uitgestort sodat ons Hom kan ken. Wanneer ons ons geloof in Christus plaas, word ons vergewe en met Hom herstel.

Week 2 Uitdaging:

Maak tyd hierdie week om stil te sit en na te dink oor die wonderlike dade van die Here. Skryf dit neer in jou joernaal of op ‘n stuk papier wat jy in jou Bybel kan hou. Skryf ‘n paar van die dinge neer wat God vir jou gedoen het, die gawes wat Hy vir jou gegee het en die beskrywing van sy barmhartigheid en genade teenoor jou.

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse