Die Gawe Van God Se Barmhartigheid

Die Gawe Van God Se Barmhartigheid

Lyli Dunbar

Tien jaar voordat ek my man ontmoet het, het ek gedink dat God beplan het dat ek met ‘n ander man sal trou. Ek het met hierdie verhouding voortgegaan en geglo dat ek presies weet wat God se wil was—maar dit was nie. Ek was skielik alleen gelaat met ‘n gebroke hart en ek het gewonder wat het skeefgeloop. Nou besef ek dat ek my weg oopgedruk en oopgebeur het waar dit nie my plek was om te wees nie. Ek het nooit werklik dít wat ek wou hê oorgegee en volkome aan God se wil onderwerp nie.

In die nadraai van my hierdie hartseer tyd het ek op die rusbank in my sitkamer gesit en uitgeroep na God. Ek het erken dat ek gewillig was om nooit te trou as dit God se plan vir my lewe was, en ek het voorgeneem om nie te probeer om “dit te laat gebeur nie”. As dit God se plan was dat ek ‘n sielsgenoot vind, kon ek vertrou dat Hy ‘n weg sal baan terwyl ek voortgaan om Hom te vertrou. In tussentyd het ek besluit om in vrede met my huidige omstandighede te leef. Waar ookal God my sou lei, ek wou my lewe leef in die strewe om Jesus te ken.

Omdat God barmhartig is, beskerm Hy ons van ons dwaasheid en Hy vergewe die gebrokenes van hart vir hulle selfsug. Sy planne vir ons is perfek en Hy sal altyd sy wil vir ons lewens bewerkstellig. Maak nie saak wat nie, jy kan vertrou dat God dit “sal laat gebeur” as dit sy plan vir jou is.

Ongelukkig het Isak se familie baie hartseer beleef omdat elke lid van sy familie probeer het om “te doen wat hulle wil,” in plaas van om aan God se will oor te gee. As die hoof van die huishouding het Isak geweet dat God reeds vir Jakob aangewys het om die seën te ontvang, maar hy het besluit om oor te gee aan wat die mense verwag het. Dit het onregverdig gelyk om nie sy eersgeborene te seën nie, dus het hy die norms van die kultuur gevolg en was hy ongehoorsaam aan die Woord van God.

Die filosofie van die wêreld is om te “doen wat jou gelukkig maak.” Esau se hoofprioriteit was om homself gelukkig te hou en hy het toegegee aan sy selfsug. Hy het alreeds sy geboortereg aan Jakob verkoop vir ‘n warm maaltyd, maar toe het hy besluit dat daardie plan nie vir hom werk nie. Hy het nie verplig gevoel om sy woord te hou nie, want dit het nie aan sy doelwitte voldoen nie. Sy eindelose najaging om te kry wat hy wou hê, het Esau net meer ontevrede met sy lewe gelaat.

Jakob en Rebekka het geweet wat God wou hê, maar hulle het gefaal om te vertrou dat God ‘n weg sou baan in ‘n onmoontlike situasie. Miskien het hulle verskonings gemaak vir hulle slegte gedrag omdat hulle gevoel het dat hulle iets wat nie reg was nie, wou herstel. Hulle het probeer om God se werk te doen deur die metodes van die wêreld te gebruik om te konkel en leuens te vertel. Ongeregtige keuses eer nooit vir God nie.  

Vier gebroke mense het hulle manier geëis, maar, in sy genade, het God sy belofte gehou. Ongeag hulle verskriklike keuses, het God getrou gebly. Uit hierdie onvolmaakte familie het die Almagtige God verlossing aan die hele mensdom gebring. God het hierdie hartseer situasie gebruik om Jakob te bring na presies waar hy moes wees en Hy het alles voorsien wat hy sou benodig om vrugbaar te wees. Ja, Jakob het van sy kinderhuis weggevlug en moontlik nooit weer vir Rebekka gesien nie, maar God het ‘n groter plan gehad om ‘n nuwe familie te laat voortkom. Deur Jakob, het God sy geloofsfamilie saamgeroep en saamgebring:

“God die Almagtige sal jou seën:

Hy sal jou vrugbaar maak en jou ‘n groot nageslag gee.

Jy sal ‘n baie groot volk word.”

–Genesis 28:3

Miskien het jy soos ek ongelooflik gefaal om te wag vir God om dinge te laat gebeur en jy het ‘n gemors van dinge gemaak. Vriendin, God se getrouheid word nooit deur ons mislukking verhinder nie. God seën steeds gebroke mense wat na Hom draai en oorgee. As jy jou alles aan Hom oorgee, sal Hy jou seën, meer as wat jy kan vra of jou kan indink.

Vandag kan jy en ek in gebed ons hande voor die Here oophou en vra vir sy barmhartigheid:

Here, help my om vandag te vertrou dat U ‘n plan vir my lewe het en dat U dit sal laat gebeur op u tyd en op u manier. Vergewe my dat ek vereis dat dit op my manier geskied. Ek wil my verwagtings laat gaan en ophou om dinge sonder U te “laat gebeur.” Doen vandag wat U met my moet doen. Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse