Die Droom Van Jou Hart

Die Droom Van Jou Hart

Deur Andrea Howey

Nie almal sal hulle moontlik hiermee vereenselwig nie, maar het jy al ooit toegekyk hoe iemand anders dieselfde drome wat jy vir jou lewe gekoester het, uitleef? Miskien is dit ‘n droom of gebed waaraan jy lank vasgehou het, en mettertyd begin dit al meer onmoontlik en buite bereik voel. Maar kyk jy om jou, voel dit asof daar net waar jy kyk, iemand anders is wat hulle blye nuus bekend maak van daardie einste ding wat jy so heimlik begeer het dat dit in jou eie lewe sou uitspeel.

Miskien is dit jou droom om getroud te wees, maar met elke jaar wat verbygaan (en elke vriend of vriendin se troue wat jy bywoon), voel dit asof daardie hoop al minder raak. Miskien kon jy net nog nooit jou loopbaandoelwit bereik nie, terwyl jy toekyk hoe vriende en kollegas in hulle veld vordering maak, nuwe ondernemings aanpak en klaarblyklik sonder inspanning sukses behaal. Miskien is dit jou gebed dat jou kinders en familie in hulle wandel met die Here sal groei, in alles voorspoedig mag wees, maar nou bevind hulle hul te midde van hartseer en moeilike tye in ‘n moeilike situasie en bid jy dat die Here hulle sal herstel en weer stewig op hulle voete sal plaas. Of dalk is dit die begeerte na kinders van jou eie, net soos dit Ragel se gebed en smagting was (Genesis 29:31—30:24).

Ragel moes toekyk hoe haar eie lewensdroom in haar suster Lea se lewe uitspeel. En hoewel Lea se verhaal allesbehalwe maklik was, het dit vanuit Ragel se oogpunt gelyk asof dit vir Lea so maklik was. Kind na kind, jaar na jaar.

Dikwels kan dit vir ons so voel. Wanneer dit lyk asof almal om ons oorvloed beleef op daardie einste gebied waarvoor ons God al so lank bid en vra, kan dit pynlik wees om te aanskou.

Selfs al vertrou ons die Here met ‘n hoopvolle hart, kan dit steeds ons harte laat pyn en smag om self ‘n deurbraak te beleef.

Miskien het jy al die gesegde gehoor wat lui: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek” (Spreuke 13:12 – 1953 vertaling). Weet jy wat dit ons nog kan maak? Paniekerig! Desperaat. Irrasioneel. Angstig. Moedeloos.

Uitgestelde hoop kan ons al hoe meer mismoedig en angstig laat voel of ons droom ooit  bewaarheid sal word. Dit kan ons irrasionele dinge laat doen om iets te laat gebeur of omstandighede, tydsberekening, of waaraan ons ook al kan dink, laat bekonkel om ‘n resultaat af te dwing wat op die ou end nie so bevredigend is as wat ons gehoop het nie.

Liewe vriendin, ek wens daar was ‘n maklike antwoord, ‘n presiese formule of datum op die kalender wat vir ons die dag en wyse kon aandui waarop God ons hart se droom en gebed sal bewaarheid soos ons gevra het.  

Maar een ding weet ek van God, Hy hoor ons smekinge en sien ons pyn, en ken die begeerte van ons hart. En luister hierna: dit maak nie saak of ons uit die staanspoor iets verkeerd aanpak, en of ons geheel en al onskuldig is nie, God hou niks teen ons nie. Hy weerhou nie iets om ons te straf of aan ‘n lyntjie te hou nie. Hy sien die pyn van ons teleurstelling. Hy sien hoe ons stry om sag en rein van hart te bly om saam met ander bly te wees oor hulle sukses en verhoorde gebede, al bly ons eie hartsbegeerte onvervuld.   

Een van die beste dinge wat ons kan doen is om Hom te bly vertrou met daardie drome en versugtinge van ons hart. Ons kan moed hou met die wete dat, net soos Hy van Ragel onthou het, dink Hy ook aan ons. Hy sien ons. Hy het nie van ons vergeet nie. Niks gaan ongesiens by God verby nie. En Hy stel ons op so ‘n wonderlik volmaakte wyse in staat om in die volheid van sy volmaakte plan vir ons lewens te stap dat, selfs al dink ons ons kon die perfekte storielyn skryf vir hoe dit behoort te ontvou, sou ons dit nie so goed soos Hy kon skryf nie.

Eendag, op sy volmaakte, heilige en liefdevolle manier, sal jy sien op watter maniere Hy in hierdie seisoen van wag en glo en bid aan jou gedink het. Dan sal jy net soos Ragel kan sê: “God het my smeking gehoor. En Hy het my skande weggeneem.”

Vandag, oral waar dit voel asof jou hoop uitgestel en jou droom deur almal behalwe jyself uitgeleef word, hoop ek jy sal dít onthou:

In die verborge plekke sien God jou.

In die areas waar jy teleurstelling ervaar wil God jou hart met hoop en goedheid en waarheid bedien.   

Op die eensame plekke begeer Hy om jou nader aan Hom te trek.

Op die plek wat vol vrae en onsekerheid voel, sien Hy jou en sal Hy jou lei en wys wat jy moet doen.

Op die vergete plekke wanneer jy agtergelaat en verwerp voel, sien Hy jou en sê: “Jy is nie vergeet nie, en Ek het nie my belofte aan jou vergeet nie.”

In die plekke waar jy skaamte ervaar, sê Hy: “Ek sal die heerlikheid wees en die een wat jou kop optel. Ek sal jou skaamte wegneem.”

Op die plekke waar jy wag, sien Hy jou en werk in jou, werk deur situasies tot jou voordeel en beskerming, en is Hy besig om jou voor te berei en te versterk vir ‘n nog groter doel vorentoe.

Op die plekke waar jy die swakste voel, sien Hy jou en is oorgehaal om jou met sy sterkte en krag te besiel.

Bly op Hom hoop en vertrou. Hy hoor jou smekinge en sien die hoop van jou hart. Hy slaan ag op jou, en Hy het ‘n goeie hoop en toekoms vir jou lewe. Hou moed.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse