Die Brood van die Lewe

Die Brood van die Lewe

Brittany Salmon

Een van die dinge wat ek nog altyd van Jesus bewonder het, is hoe Hy selde ‘n vraag beantwoord het soos mense dit verwag het. Dwarsdeur die Evangelies sien ons mense wat na Hom toe kom vir ‘n lys van moets en moenies of ‘n spesifieke antwoord, maar Jesus het selde aan hulle verwagtinge voldoen. En tog, alhoewel sy antwoord dalk nie was wat ons sou verwag nie, is dit meer as waarop ons ooit kon hoop.

En dit is wat ons sien gebeur aan die einde van Johannes 6.

In hierdie hoofstuk het Jesus die 5 000 mense gevoed en op water geloop en mense was aangetrokke tot sy tekens en wonderwerke. Nadat Jesus die siekes genees het en die hongeres gevoed het, het Jesus van die skare onttrek, maar hulle het Hom gevolg. In plaas daarvan om hulle weg te wys, hou ek daarvan dat Jesus hulle ontmoet het presies waar hulle was.

In ontsag en nuuskierig oor die wonderwerke wat Jesus gedoen het, het die mense gevra: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”

Dit is ‘n geldige vraag. Dink aan hoe gereeld ek en jy onsself al daardie vraag gevra het. “Wat moet ons doen om die wil van God te volg? Hoe lyk dit om soos Jesus te lewe? Wat presies moet ek doen om gered te word?” Ek weet nie van jou nie, maar dit is nie vrae wat ek net gevra het toe ek die eerste keer ‘n gelowige geword het nie. Dit is vrae wat ek myself dwarsdeur my geloofsreis al gevra het.

Maar Jesus, wat verby hulle vrae kyk, het hulle nie ‘n lys gegee van dinge om te doen nie. Hy het nie vir hulle gesê hoe om op te tree nie. Hy het vir hulle gesê Wie om te glo.

So wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?

En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het … dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee… Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Johannes 6:29 – 35).

Sien jy dit raak? Nadat Jesus die 5 000 mense gevoed het en in hulle fisiese behoeftes voorsien het, het Jesus gesê dat Hy die Brood van die Lewe is. Net soos God manna uit die hemel vir die Israeliete voorsien het terwyl hulle in die woestyn was, het die Vader sy Seun, die Brood van die Lewe, aan die ganse mensdom voorsien.

Om 5 000 mense te voed was wonderbaarlik omdat dit aan die behoeftes van baie voldoen het, maar dit was ook soveel meer as dit. Die wonderwerk was ‘n teken dat Jesus die Seun van God was, die beloofde Brood van die Lewe en wie in Hom glo, sal toegang hê tot die ewige lewe en nooit weer honger ly nie.

Dit is die Evangelie. Dit is Goeie Nuus vir ons almal.

Ons kom na God toe en vra Hom: “Wat moet ek doen om gered te word? Wat verlang U van my?” En in plaas van ‘n lys van moets en moenies, sê Hy: “Glo in My. Glo in die Brood van die Lewe wat jou honger sal stil op ’n manier wat jy nog nooit ervaar het nie.”

Vriendinne, eerder as om te fokus op ‘n lys van dinge wat jy vir God kan doen, spandeer vandag tyd om te besin oor wat Hy vir jou gedoen het. Glo en verkondig die waarheid dat Christus na hierdie wêreld gekom het en dat Hy baie wonderwerke gedoen het sodat ek en jy seuns en dogters van Christus genoem kan word. Hy is die Brood van die Lewe wat gekom het sodat ek en jy nooit weer honger sou ly nie.

Mag hierdie goeie nuus jou vertroos en bemoedig in watter seisoen God jou ook al het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse