Daar Is ‘n Beter Manier

Daar Is ‘n Beter Manier

Grace Ann

Deuteronomium 30 het my diep geraak toe ek dit lees. Dit is ‘n kragtige gedeelte waarin Moses die Israeliete vir oulaas voor sy dood bemoedig het. Op hierdie tydstip het hulle al veertig jaar lank in die woestyn rondgedwaal en ek kan my nie indink hoe moeg en verward hulle moes gewees het nie. Dit is op hierdie punt dat Moses die volk aanspoor om na hulle eerste liefde terug te keer. Hy vermaan hulle deur hulle te herinner aan God se karakter wat so liefdevol en genadig is. Moses het die waarheid oor sonde en verlossing verklaar; hy het vir die Israeliete gesê dat diegene wat God liefhet in die Beloofde Land sou woon en die lewe hê, maar dié wat nie aan God toegwyd is nie, nie die Beloofde Land sou binnegaan nie en sou omkom. Ek kan amper die dringendheid in Moses se stemtoon hoor wanneer hy verklaar: “Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe!” Dit was die belangrikste keuse wat die Israeliete ooit moes maak – om God te kies. Dit is ook die belangrikste keuse wat ons ooit sal moet maak.

God gaan ons nooit forseer om Hom te kies nie. Ofskoon God desperaat daarna smag dat ons na Hom toe sal gaan en by Hom bly, laat Hy daardie besluit aan ons oor. En terwyl Hy wag, bid Hy vir ons (Romeine 8:34). Sy liefde is so geduldig. Hy sal aan ons sy bly terwyl ons vrae vra en twyfel of woede uitspreek. Hy bly lojaal as ons dislojaal teenoor Hom is, wanneer ons op al die onvervullende plekke van die wêreld soek na liefde. God se liefde oortref enige soort menslike liefde wat ons al ooit beleef het; dit het geen fisieke of emosionele grense nie.

Vriendin, ek wil jou vandag vra, het jy al vir God gekies? Miskien het jy nog nooit jou geloof in Hom geplaas nie. Miskien glo jy in Hom maar vlug op die oomblik om die een of ander rede van Hom af weg. Ek wil hê jy moet weet dat Hy jou gemaak het, en Hy wil jou hê. Die plan wat Hy vir jou het is een vol hoop, onvoorwaardelike liefde en die ewige lewe. Jesus sê self daar is ‘n breë pad na die dood en baie bewandel dit want dis maklik en almal doen dit. Die pad wat na die lewe lei is egter smal en min kies om daarlangs te loop (Matteus 7:13-14). Watter pad kies jy vandag? Ek hou van God se liefdevolle versekering dat wat Hy van ons vra, nie vir ons te moeilik is om te doen nie. Hy het ons nie alleen en hulpeloos gelaat nie, want Hy het sy Lewenswoord gegee om ons elke tree van die reis te lei.

God weet jy is ‘n mens, en Hy het innige deernis met jou. Die Israeliete het God gekies, weggedwaal, God gekies, weggedwaal, en die kringloop het net aanhou herhaal. Toe Hy hulle gered het, was hulle verheug maar het gou weer van Hom vergeet. Tog het Hy hulle met lojale liefde sy volk bly noem, maak nie saak wat nie. Vriendin, niks wat jy gedoen het of ooit sal doen, kan jou van God se liefde vir jou skei nie. God dink aan, en veg sonder ophou vir jou en het jou innig lief. As jy tot inkeer kom, is Hy altyd bereid om te vergewe. Psalm 103:11-12 sê dat sy liefde so groot is as die afstand tussen hemel en aarde, en Hy verwyder ons sonde so ver van ons af as wat die ooste van die weste af is. Dit is nooit te laat om die weg van die lewe en waarheid – om God bo jou begeertes en die wêreld – te kies nie. Hy het alles wat jy nodig het om hierdie keuse te maak vir jou gegee, en Hy sal elke lewenstree op hierdie aarde saam met jou wees, totdat jy  van aangesig tot aangesig by Hom kan wees.   

Ek wil jou met die woorde van ons geliefde Jesus uit Johannes 10:10 groet: “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Jesus het die pynlikste dood gesterf om jou uit die mag van die sonde en dood te red. Hy het die dood oorwin sodat jy nou oorvloedige lewe, en vir altyd die ewige lewe kan hê. Dink vandag na oor sy opoffering. Terwyl jy jou Godgegewe behoefte aan liefde en waarde in al die plekke van die wêreld probeer bevredig, hoor ek Hom persoonlik, met soveel liefde, by jou pleit en sê:  

My geliefde!

Kyk vir my!

Daar is ‘n beter manier…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse