Bid vir Jouself

Bid vir Jouself

Brittany Salmon

Ek weet nie van jou nie, maar dis dikwels vir my makliker om vir ander te bid as vir myself. Ek sal in gesprek wees met ‘n vriendin en hulle vertel van ‘n probleem met ‘n kind of ‘n siek familielid, en dan is dit glad nie vir my ‘n probleem om die poorte van die hemel storm te loop en God te vra om in te gryp nie. En tog, wanneer ek vir myself moet bid, is dit net asof ek nie mooi weet wat om te sê nie.

 Ek het agtergekom dat, wanneer my woorde te kort skiet, die Psalms regtig baie help om leiding te gee. Dit is hoekom die SOAP-metode so belangrik is en waarom dit vir die lewe van ‘n gelowige so noodsaaklik is om oor die Skrif na te dink. As ons God se Woord in ons harte bewaar, word dit ons gids as die pad onduidelik raak. Dit dui die weg aan, gee ons die woorde en verlig ons pad.

Ek hou daarvan dat Dawid in die Psalms nie skroom om groot versoeke aan God te rig nie. Ons sien hoe hy vir skuiling en geregtigheid vra en dat God met sy vyande sal afreken. Ons sien hom vra vir vergifnis, redding, veiligheid, voorsiening en gesondheid. Daar is nie ‘n versoek wat nie in die Psalmboek gevra word nie, en nog meer, ons sien hoe aan rou emosie—vreugde, verdriet, woede, wanhoop, hoop, ensovoorts—uitdrukking gegee word.

Soos die skrywers van die boek Psalms, moet ons ook met vrymoedigheid na die troon van God gaan. Hebreërs 4:16 sê: “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” Wanneer ons dan vir onsself bid, moet ons wat vir ons in die Skrif uiteengesit is, uitleef en as ‘n gids gebruik.

Kom ons pas vandag se SOAP-gedeelte toe om vir onsself te bid: Psalm 103:1–5

“Ek wil die Here loof,

met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.

Ek wil die Here loof

en nie een van sy weldade vergeet nie.

Dit is Hy wat al my sonde vergewe,

wat al my siekte genees,

wat my red van die graf

en my met liefde en ontferming kroon,

wat my die goeie in oorvloed laat geniet,

my die jeugdige krag van die arend skenk.”

As ons dié gedeelte as riglyn gebruik om vir onsself te bid, sou jy byvoorbeeld só kon bid:

“God ek loof U, help my om U met elke greintjie van my wese te prys. O God, U is heilig, goed en lofwaardig. Help my om nie u goedheid en getrouheid te vergeet nie. God, vergewe my my sonde en genees my hart van smagting na dinge wat u hart haat. God, verlos my uit die put van sonde en help my om te onthou dat u Woord sê dat ek, omdat ek ‘n kind van God is, nooit u liefde of medelye hoef te verdien nie. U liefde vervul my meer as enigiets wat hierdie wêreld kan bied. Vader, dankie dat U my verlos het en dat U ‘n God is wat ons geroep hoor. Amen.”

Dit verg so ‘n bietjie oefening, maar ek het oor die jare geleer jy kan nie verkeerd gaan as jy Skrif oor jouself en jou geliefdes bid nie. Die gebruik van die Skrif gee vir my woorde wanneer die hartseer van die lewe my sprakeloos laat. Dit keer dat my gebede te selfgesentreerd, te aardsgesind raak, en rig dit eerder op dinge daarbo. Mees belangrik herinner dit my aan die karakter van God wanneer ek te veel op aardse omstandighede ingesteld is.

Ons hemelse Vader wil graag van ons hoor. Werp daarom julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle (1 Petrus 5:7). Sonder hierdie week doelbewus tyd af om te oefen om vir julleself te bid deur gebruik te maak van die gedeeltes wat ons bestudeer. Vra God om jou geloof te laat groei, jou geroep te hoor en genesing te voorsien in die gebroke areas van jou lewe. Vra Hom, en kyk dan met verwagting hoe Hy op jou geroep reageer. Want die ding omtrent God se Woord is dat dit nooit onverrigter sake terugkeer nie en altyd tot stand bring waarvoor die Here dit bedoel het.

En dit is ‘n belofte.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse