Betroubaar en Waar

Betroubaar en Waar

Elke paar jaar begin ek ‘n Bybelleesplan wat my ‘n jaar vat om die hele Skrifverhaal van voor tot agter deur te lees. Ek moet egter erken dat ek gewoonlik, as ek by gedeeltes kom met geslagsregisters wat oor verskeie verse strek, so ‘n bietjie teleurgesteld was oor die dag se leesstuk.  “Ag, dis net ‘n lys mense,” sou ek dan dink, en vinnig deur die name (waarvan ek baie nie eers kon uitspreek nie) lees en aangaan met my dag.

Dit het alles verander toe ek kweekskool bygewoon het. Ek het ‘n professor gehad wat eenkeer so ‘n bietjie aangedaan geraak het terwyl hy besig was om ‘n geslagsregister te lees. So deur die trane het hy gesê: ”Studente, hierdie gedeeltes mag dalk vir julle vervelig lyk, maar hierdie lys name bewys dat God sy beloftes nakom.”

Genesis 25:12-18, wat ons vandag bestudeer, is so ‘n gedeelte, ‘n verslag God getrou is, dat Hy sy beloftes nakom en dat Hy doen wat Hy sê Hy gaan doen.

Onthou jy nog in Genesis 15 toe God sy verbond met Abraham gesluit het? Onthou jy toe Hy vir Abraham gesê het om in die lug op te kyk en die sterre te tel, want dit is hoe baie nakomelinge hy sou hê? Wel, hier in Genesis 25 sien ons die bewys daarvan!

Josua 21:45 sê, ” Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom.”

My vriende, moet asseblief nie die hoofsaak in hierdie gedeelte miskyk nie. Dit is nie net ‘n lys name nie. In hierdie geslagsregister sien ons dat God se belofte waar geword het. Dit is ‘n bloudruk wat terugwys na sy betroubaarheid en getrouheid aan sy mense.

Ek weet nie van jou nie, maar vir hierdie vermoeide siel is dit goeie nuus. As jou wêreld  verslaan is en dit voel of daar oral om jou verdeeldheid, onenigheid en hartseer is, het jy beslis nie ‘n behoefte aan ‘n artikel oor drie stappe hoe om jou beste lewe te lei nie. Wat ons eintlik nodig het, is die goeie nuus dat, omdat ons ‘n God dien wat sy beloftes hou, “alle hartseer onwaar gaan raak” (soos die groot J.R.R. Tolkien eenkeer gesê het).

Daarom, òf daar donker tye kom òf ons tye van oorvloed beleef, onthou ons dat die God wat sy beloftes aan Abraham nagekom het, dieselfde God is wat sy beloftes aan ons nakom. Wat is ‘n paar van daardie beloftes waaraan ons vandag vashou?

Hier is ‘n paar van my persoonlike gunstelinge:

  • Hy belowe verlossing aan almal wat sy Naam aanroep. Romeine 10:13, “Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”
  • Hy belowe wysheid aan almal wat Hom daarvoor vra. Jakobus 1:5, “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”
  • Hy belowe om ons sondes te vergewe. Hebreërs 8:12, “Oor hulle ongeregtighede

            sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.”

  • Hy belowe dat ons nooit alleen is nie en in Christus ‘n helper het. Hebreërs 13:5b-6, “God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’ Daarom kan ons met vertroue sê: ‘Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?’”
  • Hy belowe dat Hy eendag weer sal kom en wanneer Hy kom, sal Hy alles nuut maak. Die Openbaring 21:5, “Toe sê Hy wat op die troon sit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’ En daarna sê Hy: ‘Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.’”

My vriende, ons het die gawe ontvang van God se beloftes wat in sy Heilige Woord vir ons opgeteken is. Soos ons Genesis verder bestudeer, wees op die uitkyk na die beloftes wat God aan sy mense maak, maar wees ook bedag op die baie maniere hoe God sy woord hou. Onthou ook, die God wat in Genesis sy belofte gestand gedoen het, is dieselfde God wat vandag sy beloftes nakom. Hy is in alles betroubaar en waar.

Aan watter belofte van God moet jy hierdie week vashou? Oorweeg dit om hierdie week Josua 21:45 te oordink of te memoriseer, en vra God om jou te help om Hom as betroubaar en waar te ag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse