Altyd deur God Onthou

Altyd deur God Onthou

Ebos Aifuobhokhan

Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daar die oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. – Johannes 19:26-27

Ek het hierdie vers gelees en ek het gebid, “Jesus, hoe kon U nog aan die welsyn van jou moeder dink terwyl U in angs aan die kruis was, verraai en gehaat deur die mense wat U kom red het? Hoe?” In reaksie hierop het die Heilige Gees my herinner aan Jesaja 49:15:

Kan ’n vrou haar eie baba vergeet,

haar nie ontferm oor die kind

wat sy in die wêreld gebring het nie?

Selfs al sou so iets kon gebeur,

Ek sal jou nie vergeet nie.

Ons sal nooit die diepte, lengte en breedte van God se liefde vir ons ten volle kan verstaan of begryp nie. En eerlikwaar, ek dink nie dit is daar vir ons om te verstaan nie, maar ons moet dit geniet en in die volheid daarvan leef.

Ons is nooit sonder hulp nie. Ons word nooit vergeet nie. God se hart is vir ons gevul met ewige en blywende liefde wat niks – en niemand – kan verander of van ons wegneem nie. Ons tekortkominge, mislukkings, foute, sterkpunte en vermoëns, niks wat ons is of ooit sal doen, kan God se liefde vir ons keer nie.

Dit is ’n liefde wat my laat vra: “Waarom het U my so lief? Wat het ek al ooit gedoen of gesê om te verdien om so onvoorwaardelik liefgehê te word?”

En die antwoord is, niks! Ons kan nooit iets doen of sê om liefde so suiwer en eg soos dié van Christus, te verdien nie. Hy is net lief vir ons. Eenvoudig! Hy is net lief vir ons.

God is bedag op ons. Hy is nie onbewus van wat in ons lewens aangaan nie. Hy is nie onverskillig teenoor ons nie. Hy het ons lief met ’n ewige liefde wat tyd, ligging, ras en afstand oorskry. Jy is nie vir sy hart verborge nie. Jou naam is in die palm van sy hand gegraveer. Geliefde, jy word nie vergeet nie. Moenie toelaat dat jou huidige beproewinge jou verblind van die liefde wat altyd daar is vir jou nie. God werk agter die skerms namens jou.

Solank jy jou lewe aan Hom oorgegee het, is jy deel van sy familie. Sy wakende oë is op jou, en sy liefde omring jou. Moenie toelaat dat die duiwel jou anders vertel nie. Moenie toelaat dat die onaangenaamhede rondom jou jou anders vertel nie. Moenie toelaat dat jou ontoereikendheid jou anders vertel nie. Jy is geliefd, versorg en word altyd deur God onthou.

Jesus is gister, vandag en vir altyd dieselfde. As Hy daar was vir Maria, sy aardse moeder, is Hy ook hier vir jou, sy geliefde dogter.

Moenie jou geloof veloor nie! Hy is altyd daar. Hy is altyd daar om jou te help. Selfs wanneer daar niemand anders om is nie, is Hy te alle tye jou altyd-teenwoordige hulp. Selfs wanneer jy niks kan sien werk soos jy dit wil hê nie, selfs wanneer jou natuurlike sintuie Hom nie kan voel nie. Hy is daar. Tel jou Bybel op en lees dit, praat met Hom in gebed, en sy teenwoordigheid en vreugde sal jou hart vul met die versekering dat jy geliefd, onthou, gekoester en nooit vergeet is nie.

Liewe vriendin, jy moet hierdie woorde glo. Jy is nooit sonder sy hulp nie.

Van Nigerië,

Ek het jou lief.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse