Aanvaar

Aanvaar

In Januarie het ek 30 geword, en as daar iets in my jonger jare was waarvoor ek ongelooflik bang was, dan was dit om deur mense verwerp te word. Ek het nog altyd uit plek uit gevoel – te veel vir sekere groepe en nie genoeg vir ander nie. Ek was altyd groter as kinders van my eie ouderdom, en hulle en die ouer kinders het my selde aanvaar. Een dag het God my oë oopgemaak om myself te sien soos Hy my sien. Voor die fondament van die aarde gelê is, het God my gekies. Selfs voor ek gebore is, het Christus aan die kruis gesterf, en sy dood en opstanding het verseker dat ek geheel en volkome, foute en al, aanvaar is deur God.

Wanneer ons in opregtheid en oorgawe na God kom en ons lewens aan Hom oorgee, aanvaar Hy ons en is ons Syne. Die Skrif sê dat daar blydskap in die hemel is oor een sondaar wat hom bekeer.

Maak nie saak watter foute jy het nie, watter ontoereikendhede, dit maak nie saak wat die kleur van jou vel is, jou intelligensie of opvoedkundige vlak, of jy kort of lank is, arm of ryk is nie, as jy jou geloof in Christus geplaas het, is jy ‘n dogter van God. As ‘n dogter van God is jy deur Hom aanvaar en sien Hy jou en behandel Hy jou as Syne.  

Wat moet ons reaksie wees op die feit dat God ons aanvaar het?

Eerstens, danksegging vir hierdie genadegawe van aanvaarding deur die Koning van die heelal. Dit is ‘n eer wat ons nooit kan terugbetaal nie. Dankie Jesus!

Tweedens moet ons ander mense in alle eerlikheid en liefde aanvaar, met dieselfde genade wat ons ontvang het. Om iemand te aanvaar, beteken om hulle in ons huise sowel as in ons harte te aanvaar, deur maaltye en aktiwiteite te deel. Jesus is ons perfekte voorbeeld van hoe om ander te aanvaar, ongeag wie hulle is. Die Skrif sê dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Christus was nie bevooroordeeld teenoor enige iemand nie, en dus moet jy en ek ook nie wees nie. Ons was almal sondaars, geïsoleer van God, maar Christus het ons na Hom toe teruggebring. Ons moet streef daarna om genadig te wees en ander in liefde te aanvaar.

Wanneer ons mekaar aanvaar soos God ons aanvaar het, bring ons eer aan Hom. Ek wil God altyd eer, en dit is een manier hoe ek dit kan doen.

Die wêreld is so uiteenlopend en ek weet dit kan moeilik wees om almal te aanvaar. Die vroeë kerk het geworstel om eenheid tussen die Jode en nie-Jode te bring. Ons is nie alleen in ons stryd vir eenheid nie, en ons moet aanhou om alle gelowiges in Christus te eer en te verwelkom. Ons moet uit ons pad uit gaan om partydigheid te vermy, deur diegene wat jy nie normaalweg mee sal praat nie, te groet, verskille te minimaliseer en op gemeenskaplike belange te fokus om tyd saam deur te kan bring. Hierdeur aanvaar jy ander soos Christus jou aanvaar het en God ontvang die eer.

Dierbare Vader, dankie dat U my as U eie aanvaar. Dit is ‘n voorreg wat ek nie verdien nie, wat ek nooit kan terugbetaal nie en ek is dankbaar. Ek wil hê dat my lewe U altyd tot eer sal wees. Ek bid dat U my vandag en altyd sal help om mense in my huis en in my hart te aanvaar en dat ek in liefde en met genade met hulle sal verkeer. In Jesus se Naam, amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse