Met Die Oog Op ‘n Tyd Soos Hierdie

Met Die Oog Op ‘n Tyd Soos Hierdie

Deur Whitney | Oktober 8, 2019 | Ester

Hier is ons nou… die week met die bekende hoofstuk en bekende vers.

“met die oog op ‘n tyd soos hierdie…”  

Dit lyk asof dit ‘n romantiese verhaal is tot by hierdie bekende gedeelte van die boek, maar die waarheid is dat die glansryke, filmagtige tonele van bankette en skoonheidsbehandeling en rykdom en eer al lankal verby is sodra ons by Ester, hoofstuk 4 uitkom.

Geen glans. Geen eer. Geen maklike pad van hier af nie. Selfs Ester se posisie as koningin waarborg nie meer haar toekoms nie.

En hierdie onvoorspelbare, kronkelende, drama-gevulde pad herinner my baie aan die Christelike lewe. O, moet nie ‘n fout maak nie; ons weet goed hoe die verhaal van alle Christene eindig. Maar die finale oorwinning waarborg nie ‘n lewe vol gemak nie.

Ek onthou die skoonheid, opgewondenheid en die oorweldigende vreugde wat ek vroeg aan die begin van my verhouding met my Verlosser gehad het. Ek het Jesus se opoffering vars en nuut ervaar en sy genade het my tot in my binneste geruk. Ek was jonk, hoopvol en gewillig om die dinge van die wêreld op te gee net om die naam van die Een wat Sy lewe vir my gegee het, te kan verhewe.

En toe êrens – op die een of ander manier – te midde van al die moeite wat dit vat om te leef, het die lewe ingewikkeld en effens te gemaklik geraak, en die risiko’s – die opofferings wat eens die moeite werd was – het skielik te veel geword om te dra.

“Vir ‘n tyd soos hierdie?” God, ek dink ek gaan dié ene uitsit. Sekerlik is dit nou iemand anders se beurt…

Dit was nie God wat verander het nie.

Nee, God het nie minder soewerein, minder betroubaar of minder waardig geword nie. Ek het net gefaal om Hom te sien soos wat ek Hom voorheen gesien het..

En selfs nou, in my menslikheid, is my natuurlike neiging gewoonlik om God te beperk voordat Hy kans gehad het om te begin werk. Ek wil weet hoe dit alles gaan uitwerk voordat ek daaraan sal dink dat die risiko die opoffering werd is. Maar wanneer ons God probeer “beperk” om deur ons te werk, is dit ons wat uitmis. Jy sien, wanneer jy sê, “Nie ek nie, nie nou nie…” beperk dit God nie in die uitvoering van Sy plan nie, dit beperk net ons deelname in die groter verhaal wat Hy skryf wat ons nog nie kan sien nie.

Hoe berei ons onsself voor om deur God gebruik te word? Oorweeg hierdie lesse vanuit Ester hoofstuk 4:

  1. Belê nóú met wysheid, want dit gaan later saak maak.

Ester se invloed het nie begin met een gewaagde besluit in die paleis daardie dag nie. ‘n Reeks van regte euses (gelei deur Soewereiniteit) het haar gelei na ‘n posisie van koninklikheid en respek, wat van groot belang was vir haar doeltreffendheid toe die tyd aanbreek om vir haar mense op te staan. Wat jy nou doen, maak saak. Of jy nou sestien of sestig is, om vandag doelbewus te belê, kan vir jou deure oopmaak wat God môre kan gebruik.

           2.Daar is ‘n tyd om te treur, maar moet nie aanhou treur nie.

 Hoofstuk 4 begin met ‘n intense toneel waar Mordegai diep treur oor sy mense, wat verstaanbaar is: hulle is pas ter dood veroordeel. Dink net hoe anders sou die hoofstuk geëindig het as Mordegai in die toestand van rou gebly het? Op ‘n stadium het Mordegai die besluit geneem om van iemand in bittere wanhoop oor te gaan na iemand wat een van die belangrikste aanstigters is in die aksieplan om die Joodse volk te red. Treur vir solank as wat jy nodig het, maar moet nie dat jou rou jou hoop op God wegvat nie en moenie treur tot op die punt waar God jou nie kan gebruik nie. “Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.” ~ Psalm 30:6

  1. Berei voor vir die stryd deur eers stil te raak.

Alhoewel gebed nie spesifiek in die hoofstuk genoem word nie, gaan dit gepaard met vas in die Ou Testament. Voordat Ester en van haar knegte ‘n oorhaastige besluit geneem het, het hulle vir drie dae gevas en gebid. Hoeveel keer het ek nie al te vinnig opgetree en haastige besluite geneem, sonder om vir God te raadpleeg nie, net om terug te kyk en spyt te wees oor my oorhaastigheid? As ons nederig onderdanig is aan God se gesag, wysheid en krag tydens ons swakheid, en ons met eerbied én onderdanigheid voor Hom buig, eers dan is ons behoorlik voorbereid vir die stryd.

  1. Herken die potensiaal van jou posisie.

God het Ester vir ‘n spesifieke tyd op ‘n spesifieke plek geplaas. Haar antwoord was nie: “Miskien later” of “ek is nie toegerus soos ander mense nie”, of “My lewe is op die oomblik goed en ek voel regtig nie lus om dit op te mors nie.” In plaas daarvan het sy eienaarskap van haar invloedryke rol geneem en nie teruggestaan toe dit beteken dat die pad nie maklik sou wees nie. God plaas ons in verhoudings in die werksplek, die huis, die kerk, die sokkerveld, die hofsaal, die hospitaalkamer en duisende ander plekke tussenin, en gee ons elkeen unieke areas van invloed waar ons dapper vir Hom kan leef. Besef jy die potensiaal van jou posisie, of spandeer jy jou tyd deur desperaat te wens dat God eerder iemand anders sal kies?

  1. Wees gereed om die regte risiko’s te neem.

 Risiko is ‘n moeilike ding, want daar is ‘n verskil tussen dwase risiko’s en godverheerlikende risiko’s. Nietemin, daar is baie verhale in die Bybel waar gewone mense God-verheerlikde risiko’s geneem het, wat daartoe gelei het dat God hulle op buitengewone maniere vir sy koninkryk gebruik het. In die woorde van John Piper: “Dit is reg om te waag vir die saak van God”, en in die woorde van Ester, somtyds – so gewaagd as wat dit klink – is dit reg om te sê: “As ek moet omkom, moet ek maar omkom.”

  1. Onthou aan Wie jy behoort.

Wanneer gewaagde besluite opduik, sal die einde van die verhale – meer dikwels as glad nie – nie altyd duidelik wees nie. Uitkomste word nie in hierdie wêreld belowe nie… net die finale oorwinning wat ons deur Jesus se dood vir ons sonde ontvang. Maar met God aan ons kant, kan ons met ‘n geruste hart “ja” sê vir waarheen Hy ons lei, want Sy soewereiniteit lei altyd tot ons voordeel en Sy eer. As ons tyd spandeer in God se Woord, onthou wie Jesus is en wat Hy vir ons gedoen het, word ons weer daaraan herinner dat ons veilig in Sy arms is, dat Hy meer as in staat is om sy wil uit te voer, en dat Hy meer as waardig is vir ons lewens…

“Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God,

“Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op.

~ 2 Korintiërs 3:5, 12

By Sy voete,

Kom ons gesels: Met watter een van hierdie ses punte sukkel jy die meeste? Deel jou antwoord in die kommentaar hier onder. Ek sal geëerd wees om hierdie week vir jou te bid.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse