

My oupa het onlangs sy 96ste verjaardag gevier. Getrou aan sy geaardheid, was dit nie vanuit ’n gemakstoel in ’n aftreeoord nie. Inteendeel, hy het op ‘n kameel by die piramdes in Egipte gery.
Daarteenoor ken ek ‘n jong ma wat in ’n groot, pragtige huis in ’n welgestelde kusdorp in Kalifornië woon. Tog verlaat sy nooit haar bed nie. Sy het alles wat die wêreld kan bied, maar sy geniet niks daarvan nie.
Die omstandighede van hul elkeen se lewens verskil natuurlik heelwat van mekaar. Die belangrikheid van ons lewe is nie ons omstandighede nie, maar ons reaksie daarop.
Ons ervaar almal beproewings en hartseer. Dit is ‘n onvermydelike deel van die lewe – ongewens, maar altyd teenwoordig; ongevraagd, maar nietemin altyd deel van die oomblikke van ons lewens.
My oupa het ook sy deel van swaarkry gehad. Hy het een van sy tien kinders verloor in ’n verskriklike en voorkombare ongeluk toe sy kind slegs een-en-twintig jaar oud was. My ouma het longkanker gehad, en hy het haar deur haar lyding versorg totdat sy op die ouderdom van een-en-sewentig in hulle huis oorlede is. Hy het ’n vervreemde seun en het nou die meeste van sy vriende oorleef. Maar elke keer wanneer ek hom sien, is hy dankbaar. Hy leef elke dag vanuit ’n hart vol dankbaarheid. Ek het nog nooit iemand anders heeltemal soos hy ontmoet nie.
Een van my kinders het onlangs vir hul oupagrootjie gevra hoe hy dit regkry om op sy ouderdom nog so aktief en lewenslustig te wees. Sy antwoord was eenvoudig: ingesteldheid.
Met danksegging
Vir my is dit hoe ‘n lewe lyk wat Filippense 4:6-7 uitleef. Vrees is oorwin. Angs is verslaan, en danksegging is die roer wat die koers van ons lewens bepaal. Paulus sê sterk en duidelik dat ons nie besorg moet wees nie. Hy sê ook spesifiek om “oor niks” besorg te wees nie. Die gedeelte dat ons nie besorg moet wees nie maak vir my heeltemal sin. Natuurlik moet ons nie besorg wees nie. Dit is sleg vir ons liggaam en gemoed. Dit beroof ons van die ervarings en vreugdes van die lewe. Ek begryp egter nie die “oor niks”-gedeelte ten volle nie. Behoort ons nie besorg te wees wanneer ons met ’n kankerdiagnose gekonfronteer word, wanneer ’n kind van die regte pad afgedwaal het of wanneer ons ons werk verloor het nie? Is dit nie tot ’n mate selfs wys om besorg te wees wanneer dinge nie goed gaan nie? Klaarblyklik nie. Paulus maak dit duidelik wanneer hy sê “maar”.
Ons het ‘n alternatief vir angs. Alhoewel angs moontlik ons eerste, instinktiewe reaksie kan wees, kan ons kies om anders te reageer. En dit is nie om net soms anders te kies nie, maar om dit “in alles” te doen. So, hoe doen ons dit? Paulus sê vir ons: “deur gebed en smeking en met danksegging”.
Ek het hierdie vers al baie keer in my lewe gelees. Ek het dit al gememoriseer en al telkens daarna teruggekeer wanneer ek met die sorge van hierdie wêreld gekonfronteer word. Hierdie keer het dit egter op ’n ander manier tot my gespreek. Ek het dit nog altyd gelees as: “maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking [aan God bekend]. Met danksegging.” Maar dit is eintlik: “maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend”. Dit verskil is subtiel wat die grammatikale struktuur betref, maar dit het ’n diepgaande geestelike betekenis.
Die een begrip skei gebed en smeking van die danksegging. Die ander een verweef hulle met mekaar en wys dat ons gebede en smekinge uit ’n hart van dankbaarheid behoort te kom. Sien, ons gebede en smekinge kan óf kom vanuit ’n hart wat probeer om God se wil by sy eie begeertes aan te pas, óf vanuit ’n hart wat aan God se wil oorgegee is. Dit spruit óf vanuit ’n plek wat die goedheid van God bevraagteken, óf vanuit ’n diepe wete dat God ons liefhet met ’n liefde wat ons verstand te bowe gaan en dat Hy die beste vir ons wil hê. Wat verlore kan gaan in die grammatikale verskil is nie die goedheid van God nie, maar ons dankbaarheid daarvoor.
Om God te vertrou te midde van die moeilike oomblikke
Ons is almal geneig om weg te dwaal van die teenwoordigheid van God, om staat te maak op ander dinge en om te glo dat ons beter weet as God. Ons genadige God laat ons dit dikwels toe. Maar wat as ons, in plaas daarvan om vir God te probeer sê wat ons wil hê, EERDER vertrou dat Hy beter weet en iets beter vir ons beplan? Miskien is sommige van die omstandighede waarin ons onsself bevind juis deur ons liefdevolle Vader toegelaat omdat Hy wil hê ons ‘n hart van dankbaarheid moet ontwikkel.
Ek dink dit is baie belangrik om daarop te let dat vers 7 nie sê dat God ons omstandighede sal verander nie. Dit sê dat Hy ons harte en gedagtes sal verander.
Soms haal God ons nie uit die moeilike situasie waarin ons onsself bevind nie omdat Hy wil hê dat ons sy vrede moet ervaar wat ons harte en gedagtes bewaak te midde van die omstandighede. Dit was beslis die geval in my eie lewe. Ek kan eerlik sê dat dit juis in die moeilikste omstandighede van my lewe was dat ek God se vrede die sterkste ervaar het.
Sien, die Here is meer besorg oor ons harte en ons gedagtes as oor ons omstandighede. Hy is só persoonlik, só deernisvol en só naby. As Hy net altyd die omstandighede van ons lewens sou verander wanneer ons daarvoor vra, maar nie omgee oor ons harte en gedagtes en dit beskerm nie, sal ons, ten beste geestelike bedorwe brokkies wees.
Jesus self het hierdie innerlike worsteling beleef toe Hy die Vader gevra het om sy omstandighede te verander. Terwyl Hy in die tuin van Getsame gebid het en van angs bloed gesweet het oor die lyding wat op Hom gewag het, het Hy gevra: “… as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matteus 26:39). Die Vader het nie sy omstandighede verander nie, maar Hy het wel ons almal s’n verander.
Jesus het die dood gesterf wat ons verdien sodat ons van sonde en die dood bevry kon word. Hy het in ons plek gesterf sodat ons vir ewig saam met Hom kan leef. Jesus se woorde kort voordat Hy gekruisig is, som dit alles op ’n besonder treffende manier op. Hy het gesê, “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Johannes 16:33).




