Die standvastigheid van vreugde

Nat sokkies. Stadige bestuurders. Koue koffie wat eintlik warm behoort te wees. Dit is maar net ‘n paar van die dinge waarvan ek nie hou nie en waaroor ek gou kan kla. Ek laat so maklik toe dat die klein irritasies van die lewe my ontneem van die vreugde wat ek in elke deel van my lewe van Christus Jesus ontvang.

Hierdie week kyk ons na die volgende twee vrugte van die Gees: vreugde en vrede. Ons gaan ontdek dat ons lewens nie deur ons uiterlike omstandighede bepaal hoef te word nie. As ons in Christus Jesus is, kan ons leef met ’n vreugde wat nie maklik weggeneem kan word nie; blywende vrede.

Die voorbeeld van vreugde

Een van die mooiste voorbeelde hiervan kry ons in Handelinge 16, waar Paulus en Silas gesing het terwyl hulle in die tronk was.

Vroeër daardie dag het Paulus en Silas ’n slavin teëgekom in wie daar ‘n waarsêersgees was. Sy het aanhoudend geskreeu dat Paulus en Silas dienaars van die ware God is. Paulus het omgedraai, die bose gees beveel om uit die meisie te gaan en haar gesond gemaak. Hoewel hierdie wonderwerk die meisie se lewe vir altyd ten goede verander het, was haar eienaars glad nie daarmee tevrede nie. Hulle het ’n oproer teen Paulus en Silas aangehits, hulle laat slaan en in die tronk laat gooi.

Paulus en Silas het alle rede gehad om ontsteld, moedeloos en kwaad te wees en selfs te wonder waarom God dit toegelaat het. Maar in plaas daarvan het hulle lofliedere aan God begin sing. Die verhaal gaan verder met ’n aardbewing, die tronkbewaarder wat van die dood gered word, en die krag van die evangelie wat hom en sy hele gesin tot geloof bring.

Waarom kon Paulus en Silas sing in plaas daarvan om te kla? Hulle het God geken en op Hom vertrou. Hulle het geweet dat God hulle geroep het om die evangelie aan die heidene te verkondig. Dit sou nie maklik wees nie, maar dit was die moeite werd.

Hulle albei se lewens is radikaal verander deur die waarheid dat Jesus die Messias is. Daarom was hulle bereid om enigiets te verduur en alles op die spel te plaas.

’n Lewe van vreugde

Die evangelie verander werklik alles in ons. Wanneer ons besef dat God ons volkome vergewe het deur ons geloof in Jesus, verander dit ook die manier waarop ons ander vergewe. Ons wil nie meer aan bitterheid en onvergewensgesindheid vasklou nie. Ons wil hê dat ander dieselfde vergifnis moet ervaar wat ons ontvang het.

Omdat ons aan Jesus behoort, besef ons dat ons tyd nie eintlik aan ons behoort nie. Ons begin selfs anders na onderbrekings kyk as geleenthede wat God oor ons pad bring sodat ons Christus se liefde aan ander kan wys en die goeie nuus van die evangelie met hulle kan deel.

Die evangelie herinner ons ook daaraan dat ons omstandighede nie die laaste sê het nie.

Ongeag wat oor ons pad kom, weet ons dat daar iets oneindig groter as enigiets wat hierdie wêreld kan bied, vir ons in die hemel wag. Hierdie waarheid help ons om deur die moeilike dae te kom.

Al hierdie dinge, en nog baie meer, vloei voort uit die vreugde van die Here deur die lewensveranderende krag van die evangelie. Vreugde is meer as net ’n emosie. Emosies kom en gaan. Hulle word deur ander faktore beïnvloed. Vreugde is ’n standvastigheid en ’n vaste vertroue wat gewortel is in die Persoon van Jesus Christus wat deur die krag van die Heilige Gees in ons werk.

Vandag kan jy kies om vreugde te hê omdat jy aan Christus behoort. Wanneer jy in die versoeking kom om toe te gee aan vrees, skaamte, woede of enigiets anders wat jou vreugde wil steel, draai na Christus toe. Gaan na Hom in gebed. Vra die Heilige Gees om jou aan die waarheid van die evangelie te herinner.

Soos vreugde ’n kenmerk van Paulus en Silas was, kan dit ook vandag ’n kenmerk van jou lewe wees. Soek Hom, die Een in Wie ware vreugde gevind word. Hy is daar vir jou en Hy wag dat jy na Hom toe kom.

Week 2: Leesplan

Week 2: Memoriseervers

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs