Vind Vreugde in God se Liefde en Goedkeuring

Reëls Nakom teenoor Goedkeuring Soek  

As jy al ooit heelwat tyd saam met jong kindertjies deurgebring het, het jy seker al opgelet dat hulle groot genot uit baie dinge put, maar die nakoming van reëls is dikwels nie een daarvan nie. My tweejarige jongste se verhouding met reëls en gesag wissel voortdurend en hou my en my man op ons hoede. Sy nuutste gunstelingaktiwiteit is om elke keer wanneer sy ousus nie die reëls nakom nie, daarop te wys dat hý dit wel doen.

“Mamma, ek druk nie my vinger in my neus nie.”

“Pappa, ek kla nie.”

“Mamma, ek het nie my hare gesny nie.”

‘n Mens kan dalk geneig wees om te dink dat hy reëls gehoorsaam, dat hy so baie van my en my man se reëls hou dat hy altyd sy skoene bêre, nooit snags opstaan nie, en dit haat om met merkpenne op die muur te skryf. So ‘n aanname is verkeerd. Ons het die muurkuns om dit te bewys.

Vir elke reël waarop my seun hom beroem dat hy dit nakom, is daar baie meer gebreekte reëls in sy dae. Dit is omdat my seun, soos alle mense, selfsugtig gebore is en geneig is om net homself te plesier. Hy hou daarvan om die reëls wat gesagsfigure hom oplê, na te kom net wanneer hy syns insiens daardeur bevoordeel word. Vir ‘n tweejarige is dit nie dikwels nie.

Ek en my man moet ons kinders leer dat die nakoming van reëls nie daaroor gaan om gevolge vry te spring, beloon te word of die witbroodjie te wees nie. Ons moet ons kinders leer om bly te wees oor ons Godgegewe gesag as ouers. Ons doen dit deur vir ons kinders te wys dat hulle bly kan wees oor ons liefde vir hulle. Hulle kan daarop staatmaak dat ons met goeie bedoelings, wyse raad en barmhartigheid reg staan wanneer hulle droogmaak.

Ja, ek worstel elke dag hiermee. Ek is nie eens naastenby die perfekte ma nie. Op moeilike dae kies ek uit selfsug woede of ongeduld. Met huisgodsdiens sukkel ek deur Bybelstories en verse, en ek weerkaats nie altyd Christus se liefde in my interaksie met hulle en ander nie. Deur God se genade probeer ek op ‘n manier lewe wat vir my kinders wys dat hulle seker kan wees van my liefde vir hulle, maar daar is ‘n groter Gesag as ek wat hulle nooit sal teleurstel of in die steek laat nie. Ouers se gesag is maar net ‘n skaduwee van die liefdevolle, genadevolle grense wat God vir sy kinders het.

‘n Gehoorsame Hart 

Net soos jong kinders moet ons as Christene ook leer om vreugde te vind in die Wet-gewer vir wie Hy is en wat Hy gedoen het. As gehoorsaamheid aan God aangedryf word deur dinge wat afhanklik is daarvan om ons kitsplesier te verskaf – skuldgevoel, vrees of trots – sal daardie gehoorsaamheid verkrummel sodra ‘n sterker dryfveer in ons lewens kom. My skuldgevoel mag dalk dieper wees wanneer ek ‘n Bybelse etiek handhaaf wat ons samelewing as liefdeloos beskou, as wanneer ek buite God se grense lewe. Ek is dalk banger vir die gevolge daarvan om verwerp te word deur vriende of familie wat niks met godsdiens te doen wil hê nie, as om God teleur te stel. Ek is dalk meer gesteld op aansien, roem of om rykdom te vergader as op my lys van “goeie Christen” wees.

Wanneer die begeertes van ons hart meer neig na dit wat ‘n einde het – die tydelike plesier van hierdie wêreld soos om skuldgevoelens en vrees te vermy of trots na te strewe – word ons blind vir die ewige, blywende vreugde wat gevind word in Christus en wie Hy is. Gehoorsaamheid wat afhanklik is van die tydelike is nie blywend nie want genot in die tydelike dinge verander in droefheid wanneer daardie tydelike dinge van ons af weggeneem word of ons teleurstel.

Wanneer dit goed gaan, kan ons dalk vir ‘n rukkie opgewonde raak om vir die armes te gee, maar wanneer ons gevra word om goedhartig te wees teenoor iemand wat ons te na gekom het, begin ons huiwer. Vir my tweejarige is dit maklik om sy speelgoed op te tel as daar lekkergoed belowe word, maar minder maklik as dit tyd is om sy speelgoed te bêre en reg te maak vir die bed. Skielik is dit dan nie meer so lekker om die reëls te gehoorsaam nie.

Ons kan selfs ons ongehoorsaamheid begin regverdig deur voortdurend te sê: “God, ek is darem nie ‘n moordenaar nie! Ek is nie ‘n dief nie! Ek is darem nie so sleg soos daardie ou nie!” Skuldgevoelens, vrees en trots kan ons ‘n ruk lank motiveer om God se opdragte te gehoorsaam, maar dit kan nie regtig ons harte verander nie. Slegs die diepe, bevredigende liefde van Jesus Christus sal ons daartoe lei om waarlik vreugde te vind in sy gebooie en die beloning van dieper intimiteit met Hom te geniet.

Rus in God se Veilige Liefde 

Wat ek eintlik wil hê, is dat my seun my moet gehoorsaam, nie omdat hy bang is om kamer toe gestuur te word of om ‘n lekkertjie te verdien nie, maar omdat hy vertrou dat ek hom liefhet en net die beste vir hom wil hê. So moet dit ook met ons hemelse Vader wees. Ons gehoorsaam Hom omdat ons glo dat Hy waarlik die wyse, heilige, genadevolle, alwetende, almagtige Skepper is, en niks kan vir ons ‘n groter beloning gee as ‘n florerende, liefdevolle, gehoorsame verhouding met Hom nie.

Stel jou voor wat Ester moes gedink het oor die nakoming van God se gebooie. Ek dink ‘n vraag wat op dié punt in Ester se verhaal by my opkom, sou wees, “God, waarom moet ek U nou gehoorsaam?” As banneling wat van haar familie weggeneem is en in die paleis van ‘n heidense koning bly, kon Ester dalk gevoel het dit is nutteloos om in God se weë te bly wandel. Maar wanneer Ester se hele lewe omgekeer word, het sy vertrou op wat sy van God geweet het, en sy het getrou voortgegaan om in sy weë te wandel. Hoewel ons dit nie nou al in die verhaal sien nie, gaan ons later die diepte van God se liefde vir sy kinders sien wat deur Ester se gehoorsaamheid bewys word.

Ek moedig jou aan, liewe vriendin, om vandag ‘n ruk by Jesus te sit en rustig te raak in die wete dat dit ‘n seën vir jou is om binne God se grense te leef en sy opdragte te gehoorsaam. Dit is nie om jou lewe van lyding te vrywaar of om jou sy lieflingkind te maak nie, maar omdat God Hom reeds oor jou verbly. In sy vreugde het Hy vir jou die pad aangedui wat jy moet loop. Deur Jesus Christus is ons reeds sy hoogs begenadigde en innig geliefde kinders, en dit is die moeite werd om ons oor te verheug.

Andrea

Week 2 Uitdaging:

Hoe kan jy die roeping uitleef om in die wêreld (jou gemeenskap) te wees, maar nie van die wêreld te wees nie?

Week 2 Leesplan:

 Week 2 Memoriseervers:

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs