Soli Deo Gloria
Katie Shott
Op ons kaggel is ‘n klip met die woorde “Soli Deo Gloria” daarop gegraveer. Hierdie ou Latynse woorde herinner ons konstant daaraan dat alles wat ons doen, insluitend hoe ons leef, “alleenlik tot eer van God” behoort te wees.
Kom ons staan met die aanvang van hierdie Lydenstyd ‘n oomblik stil en dink opnuut na oor ons Verlosser en sy reis na die kruis, en besin oor hoe God verheerlik moet word. Vir die gelowige is dit ‘n oproep om elke aspek van ons lewe met inbegrip van ons gedagtes, woorde en dade te ondersoek.
In ons studie gaan ons hierdie week saam kyk na die geestelike dissipline van vas. Terwyl ons reageer op wat God se Woord sê, kom ons kyk waar ons God se heerlikheid in hierdie praktyk sien.
Mans en vroue regdeur die Bybel demonstreer hoe dit lyk om te vas. Hierdie aanbiddingsdaad is ‘n uitdrukking aan God van ons geloof, en ‘n erkenning van die erns van ons behoefte aan die Here in alle omstandighede.
Moses, Dawid, Ester, Paulus en Barnabas is maar net ‘n paar van die mense van wie ons in God se Woord lees wat gevas en gebid het om wysheid te vra, aan smart uiting te gee, om verlossing en beskerming te vra, berou te toon, oorwinning te behaal, God te aanbid, of ter voorbereiding van bediening. Uit hierdie voorbeelde sien ons dat gebed en vas hand aan hand gaan.
Dit is belangrik om daarop te let dat vas op sigself ons nie nader aan God bring, of enige rede gee om geestelik hoogmoedig te wees nie. Onthouding van voedsel maak ons nie meer heilig nie. Jesus het die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar in Lukas 18 juis vertel om teen hierdie houding te waarsku terwyl ons vas. Die Fariseër, selfvoldaan, het gebid en God gedank dat hy nie soos die tollenaar is nie. Om die waarheid te sê, het hy homself meerderwaardig geag omdat hy twee maal per week gevas en sy tiende betaal het. Uit hierdie gelykenis sien ons dat die beoefening van vas nie ter sake is as ons hart nie daarin is nie.
Die profeet Joël waarsku daarteen en skryf dat die Here sy volk oproep tot bekering: “Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie” (Joël 2:12-14).
Dit het geen waarde om dit maar net uit gewoonte of apaties te doen nie. Ons beoefening moet ‘n opregte begeerte weerspieël om ons voor die Here te verootmoedig en na ‘n intieme verhouding met Hom.
Ek moet erken dat ek nie ‘n gewoonte daarvan maak om die geestelike dissipline van vas te beoefen nie (ek dink nie om te vas voor ‘n tandheelkundige prosedure of vir bloedtoetse tel nie!).
Miskien het jy al, soos ek, hierdie praktyk oorweeg en skuldig gewonder of jou Christelike wandel te kort skiet omdat jy nie vas nie. Dit is wonderlik dat ons God, wat vol ontferming is, dit nie as ‘n wet neergelê het nie. Ons leef eerder deur genade. Indien ons nie vas nie, is dit nie ‘n aanduiding dat ons God minder liefhet nie.
Wanneer die Bybel egter vas en gebed as ‘n patroon in die lewens van God se mense voorhou, is dit dalk iets wat ons moet begin leer om persoonlik uit te leef. Jesus, ons grootste voorbeeld, het veertig dae alleen met sy Vader met gebed en vas in die woestyn deurgebring voordat Hy sy aardse bediening begin het.
Alhoewel vas tradisioneel beskou word as die onthouding van voedsel of drank vir ‘n tydperk, kan daar ander dinge wees waarvan ons kan vas – ‘n digitale vas van ons fone of sosiale media of om ‘n ruk lank weg te bly van televisie kyk. Ons kan almal toegee dat daar bepaalde dinge is wat ons daarvan weerhou om meer tyd saam met die Here deur te bring, sy Woord te oorpeins, in gebed te kommunikeer, na sy wil te vra, of ons in aanbidding aan sy goedheid te verwonder.
Ons kan die Heilige Gees vra om ons te wys hoe ons ons tyd kan herprioritiseer en wat ons in ons geloofswandel kan inbou – dinge wat ons kan lei tot ‘n inniger verhouding met ons God, vir Wie ons liefhet en graag dieper wil leer ken.
Daarom kan hierdie Lydenstyd miskien ‘n goeie tyd wees om ons behoefte aan meer van Jesus in elke area van ons lewe te erken. Ons kan ‘n hartsgesindheid aanneem wat begeer om alle afleidings opsy te sit en nader aan Hom te kom sodat Christus in alles in en deur ons verheerlik word.
Die apostel Paulus spoor ons in ons Skriflesing vir vandag aan:
“Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” 1 Korintiërs 10:31 (kursief bygevoeg vir beklemtoning).
Wat julle ook al doen….?
Alles tot eer van God….?
Hoe sou dit lyk as God se eer die hoofdoel en hoogste prioriteit van ons lewens was?
Hoe sou dit ons alledaagse leefwyse verander?
Soos ons ons wil, passie, begeertes, hoop en planne onderwerp, kan ons op die Heilige Gees staatmaak om ons te vul, te bekragtig en toe te rus om te verander of meer soos Jesus te wees, sodat elke area van ons lewe God verheerlik.
Wat ons ook al doen, mag ALLES net tot SY eer wees.