Roep Uit in Geloof

Roep Uit in Geloof

Kelli Trontel

Het jy al ooit ‘n langdurige seisoen van swaarkry beleef?

Het dit al ooit vir jou gevoel asof jou lewe deur hartseer gedefinieër word?

Dan is jy nie alleen nie. Ek self het ook al groot verlies, hartseer en teleurstelling deurgemaak, en dit troos darem om te weet ons is nie alleen nie. Die wete dat ons susters in die geloof het met ‘n soortgelyke verhaal as waarvan ons in die Bybel lees, het ook vir my troos gebring. So ‘n geloofsheld is Hanna. Sy is bekend vir haar hartseer, maar net so bekend vir haar getrouheid, gehoorsaamheid en opoffering.

Een van die baie lesse wat ek hierdie afgelope paar jaar geleer het, is die wysheid om te weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Troubreuk en egskeiding was net die sneller wat die domino laat tuimel het en dit het vir jare so aangehou. Dit het ‘n langdurige rimpeleffek veroorsaak. Die egskeiding het nie net die einde van ‘n huwelik nie, maar ‘n skeiding van familie, bates, vriende en nog baie meer tot gevolg gehad. Die lewe het nie makliker geraak nadat die hofdokumente onderteken is nie—dit het moeiliker geraak.

Nadat ek gestroop is van die toekoms wat ek vir my voorsien het, het ek die teiken geword van agtervolging en teistering. My hart was reeds stukkend, maar dit het gevoel of hulle my siel ook wou breek. Die meedoënlose en onophoudelike aanvalle deur ‘n ander vrou was ‘n stryd waarop ek nie voorbereid was nie.

In 1 Samuel 1:6-7 lees ons dat Hanna se teëstander aangehou het om haar te spot om haar seer te maak. Dit het jaar na jaar so aangehou. Elke keer as Hanna na die huis van die Here gegaan het, het haar teëstander haar getreiter totdat sy gehuil het en nie wou eet nie.

Tog, selfs in haar veilige ruimte—haar aanbiddingsplek—is sy boonop valslik daarvan beskuldig dat sy dronk is! Sy was so op gebed ingestel en haar lippe het beweeg, maar sy het nie gepraat nie. Die priester het gedink sy is van lotjie getik! Ek kan die priester nie verkwalik nie want my eie kinders wou ook by my weet met wie ek so alleen in die stort praat wanneer ek my gedagtes verwoord en bid!  Vir diegene wat nie van beter weet nie mag die geloofsdaad en om vas te hou aan hoop waansinnig lyk.

In Hanna se gebrokenheid het sy aangehou bid en pleit vir haar hartsbegeerte. In haar vallei van skaamte, teleurstelling en mishandeling het sy standvastig gebly met ‘n rein hart, ‘n beskeie gees en ‘n onbreekbare hoop.

Christus is ons verdediger. Christus is ons redder.

Deur Christus en Christus alleen kan ons van krag tot krag gaan, selfs terwyl ons wag, selfs al hou ons styf aan ‘n blywende hoop vas. Christus is die hoogste gesag, selfs wanneer mense hulle teen ons uitspreek.

Daar is nêrens opgeteken dat Hanna ooit uitgevaar het teen diegene wat so sleg van haar gepraat het nie. Sy het die standaard vir ons almal gestel. In plaas daarvan dat sy terugbeledig het of sake in haar eie hande geneem het, herinner Hanna ons daaraan dat om ‘n vaste fondament en hoop in die lewensbron te hê, is waar ons vrede en ‘n onaantasbare vreugde sal ervaar.

Ek wil jou vandag bemoedig dat die Here alles sien. Die Here het my in my nood gesien, en toe ek onlangs deur ‘n hofsaak is, het die Here my verdedig. Hy het my van blaam onthef. Hy het die saak reggestel.

Ek is heelhartig oortuig dat die Here die moeilikste omstandighede in ons lewens gebruik om ons voor te berei vir die plek en invloed waarvoor Hy ons gemaak het. As Hanna se moederskoot nie gesluit was en sy nie deur Penina getreiter is nie, sou sy jaar na jaar nog die intimiteit met en afhanklikheid van die Here ervaar het? Sou sy besef het hoe groot haar behoefte was om gered te word? Haar pyn het haar voorberei op haar grootste geskenk, haar seun.

Ons pyn sal ons by ons doel uitbring solank ons volhard en nooit moed verloor nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse