Reis Na Nederigheid

Reis Na Nederigheid

Terria Moore

“Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.” – Filippense 2:3-5

Menslike interaksie is veeleisend! Dit kan onaangenaam, uitputtend en tydrowend wees. Ja….. daar het ek dit gesê. Dit laat jou twee keer dink voordat jy dieper indelf in die komplikasies en probleme van iemand se lewe as net met die alledaagse, niksseggende woorde wat ons geneig is om te gebruik.

Ek glo dat baie van ons ongelooflik verander het tydens die moeilike maande van isolasie wat ons gedurende die pandemie ervaar het. Ons is geforseer om die lewe alleen of slegs met ons huisgesin te behartig. Ons kon nie ons kerkdienste bywoon nie, gemeenskaplike aktiwiteite of bidure bywoon of selfs mekaar dien nie.

Na maande en maande van ‘n selfgesentreerde fokus, gebeur ‘n vreemde ding wanneer jy skielik terug in gemeenskap met ander teruggegooi word. Nederigheid en barmhartigheid verdwyn.

Ek het gevind dat ek herhaaldelik in my interaksie met ander mense baie kwaad geword het—oor hulle selfsugtige gesindhede, hul self-fokus en hulle onvermoë om hul gedrag te reguleer. In my frustrasie het ek hierdie drang gevoel om terug te trek na die gemak en afsondering van my eie huis.

Ek het my hart en gedagtes ondersoek en ‘n boom gevind met diep wortels wat begin het om die vrugte van bitterheid, ongeduld en wantroue te dra. Dit was ‘n verrassende openbaring.

Ek het gebid en die Here gevra om my boom te ondersoek en my te wys wat ek in daardie maande van isolasie gekweek het. Ek was vir ure op my knieë in gebed. Dit was ‘n ontnugterende gebed wat my huilend gelaat het.

Die Here het hierdie woord in my hart geset: nederigheid.

Die Heilige Gees het my gelei om die Evangelies te lees en om elke voorbeeld van Christus se nederigheid neer te skryf. Elke voorbeeld wat ek neergeskryf het, het my hart weer in verwondering oor Jesus Christus gebring.

Hier is Jesus, God se Seun, en tog, uit sy groot liefde vir ons, het Hy gekies om die majesteit van die hemel agter te laat en na die aarde toe te kom as ‘n mens. Hy het die vorm van ‘n dienskneg aangeneem en na ons deurmekaar wêreld gekom om ons in ons behoeftes te help en in ons lyding te deel. Hy het bespotting en weerstand verduur terwyl Hy ‘n onbaatsugtige, onbevoorregte lewe gelei het. Hy was gehoorsaam aan God die Vader, deur die lyding, die pyn en die verleentheid van die kruis te verduur, wat bedoel was vir my as gevolg van my sonde.

Om ‘n dissipel van Jesus te word is ‘n les in nederigheid. ‘n Nederige persoon herken en waardeer die impak van ander mense op haar lewe. Wanneer ‘n mens iemand anders se tekortkominge of foute sien, is dit nie die tyd om ‘n lys van hulle foute te maak of om my kwaliteite met hulle s’n te vergelyk nie.

Dit is ‘n geleentheid om my lens te herfokus, sodat wanneer ek na hulle kyk, ek Jesus sien. In plaas van om krities te raak, het ek barmhartig geword. In plaas van om gefrustreerd te raak, het ek navoeling.

Ons is die meeste soos Jesus wanneer ons mekaar dien. Ons wys ons dankbaarheid teenoor Hom deur gewilliglik en nederig die deurmekaar lewens van ander binne te tree en in hul lyding te deel. Ons ervaar groot vreugde wanneer ons die realiteit van Jesus se genade en liefde aan diegene wat dit die meeste nodig het, bring.

Om ‘n lewe van nederigheid te leef is nie maklik nie. Ek moet aanhoudend vir die Heilige Gees vra om te openbaar hoe dit lyk om dag vir dag, selfs oomblik vir oomblik, in nederigheid te wandel. God verheug Hom daarin om vir sy kinders sy karaktereienskappe te gee. Wanneer ons Hom vra vir die gawe van nederigheid, sal Hy dit vir ons gee.

Wanneer ek faal om barmhartig en nederig teenoor die mense in my lewe op te tree, nader ek vinnig tot God. Ek bely my frustrasies en woede. Somtyds neem hierdie belydenis meer tyd as wat ek gedink het dit sou, maar ek vra Hom altyd om my die geleentheid te gun om weereens sy mense te dien.

Genadiglik sien God my as ‘n meesterstuk, selfs wanneer ek ter dieselfde tyd nog ‘n onafgehandelde werk is.

My gebed is dat ons almal begin om Jesus na te streef: gereed en gewillig om ons persoonlike verpligtinge, gesindhede en gevoelens opsy te sit vir die hoër roeping om mense in Jesus se naam lief te hê.

Vrede en genade vir jou,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse