
Ore om te Hoor
Brittany Salmon

Het jy al ooit ‘n goeie vriend gehad wat die evangelie al baie keer gehoor het en tog het hulle nog nie toegelaat dat dit hul harte sag maak en hul lewens verander nie? Of wat van jou? Het jy al die Goeie Nuus van Jesus gehoor, maar die Woord van God voel of dit op dowe ore (ons ore) val?
Die Skrifgedeelte wat ons vandag lees, spreek presies dit aan (as jy nog nie die gedeelte gelees het nie, neem ‘n oomblik om dit te doen en kom dan gou terug—ons sal net hier wees!).
Vandag lees ons hoe die Goeie Nuus van Jesus ‘n verskeidenheid reaksies kan ontlok, maar ‘n ware gelowige reaksie sal lyk soos ‘n saadjie wat in goeie grond geplant is. Dit sal groei en goeie vrugte dra. ‘n Ongelowige hart hoor hierdie Goeie Nuus en verwerp dit om verskeie redes.
Ek hou baie van hierdie verse. Jy sien, die manier waarop Jesus ander geleer het deur gelykenisse en stories te gebruik, het nog altyd tot my gespreek. En die beeldspraak van goeie grond teenoor slegte grond is een wat dikwels ‘n bietjie harder tot my spreek en my altyd laat nadink oor die grond in my eie hart.
Jesus het verduidelik dat daar drie maniere is waarop ‘n mens die Woord kan “hoor” en dit skiet nie wortel nie. Ons gehoor kan weerloos (v. 12), vlak (v.13), of afleibaar (v.14) wees.
Wanneer ek in hierdie lig daaroor dink, dink ek ons kan saamstem dat daar tye is wanneer ons almal in een van daardie kategorieë val. Verskillende seisoene het my gehoor al laat wankel, maar daar is goeie nuus! ‘n Oplossing kan gevind word in vers 18:
“Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy dink dat hy het, weggevat word.”
Wil jy ‘ore hê om te hoor’, soos ons gedeelte beskryf? Hierdie gedeelte sê vir ons dat die sleutel tot ons begrip nie is om ons ore te dwing om anders te wees nie. Dit is nie om teologiese kursusse te neem of kundiges te word nie. Dit is om tyd in God se Woord deur te bring, na sy stem te luister. Dit is om te kies om na die gebooie en lering van Jesus te luister en om sy Woord toe te laat om die grond van jou hart te versag.
Soms lei ek Bybelstudies vir vroue en onvermydelik is daar ‘n vrou wat na die tyd na my toe sal kom en iets sê soos: “Ek is ‘n Christen, maar ek verstaan net nie God se Woord wanneer ek dit alleen by die huis lees nie.” My gunsteling ding is om te kyk hoe hul oë verhelder wanneer ek sê: “Ek ook.”
Jy sien, om ore te hê wat hoor, gaan nie daaroor om die slimste teoloog in die vertrek te wees nie; dit gaan daaroor om ‘n sagte hart te hê wat soos die vrugbare grond in hierdie gedeelte is. Dit gaan daaroor om tyd alleen en saam met ander in ons geloofsgemeenskappe deur te bring om God se Woord te bestudeer en daarna te luister. Dit gaan daaroor om aandag te gee aan ons harte, en wanneer ons agterkom dat ‘n weerlose, vlak of afleibare gehoor begin wortel skiet, maak ons die veranderinge wat nodig is om sagte harte en oop ore te hê, gereed om te hoor.
Ek laat jou vandag met hierdie vraag om oor na te dink: Het jy ore wat hoor? Watter tipe grond word in jou hart weerspieël? En as jy na eerlike nadenke jouself in ‘n seisoen bevind waar jou hart nie die goeie grond weerspieël wat in hierdie gedeelte genoem word nie, watter stappe moet jy neem om tyd te maak om meer na God se Woord te luister?
Mag God jou hierdie week seën en jou bewaar en mag Hy jou ore gee om te hoor.
