Opstandingshoop

Opstandingshoop

Katie Shott

HOOP.                                                                                                                     Is dit nie ‘n mooi woord nie? Een Afrikaanse woordeboek se definisie beskryf dit as ‘n wensende verwagting; vertroue dat iets wat jy verlang, sal gebeur. Maar dit is soveel meer.

Soos ek die afgelope ruk oor hoop nadink, besef ek hoe baie ek dié woord in gesprekke gebruik, maar hoeveel die betekenis in my alledaagse gebruik verskil van wat die Bybel leer.

Vir ‘n vriendin wat siek is, hoop ek sy voel gou beter. Wanneer ons planne maak vir die naweek wat voorlê, hoop ek die weer gaan lekker wees. Vir my niggie met ‘n pasgebore babaseuntjie hoop ek hy slaap deur.

Hierdie dinge is alles goed en wel en my hoop is opreg, maar eintlik is dit maar niks meer as ‘wensdenkery’ nie, of bloot ‘n ‘hoop so’, sonder om regtig te weet hoe sake gaan afloop.  

Daarteenoor tref ons ware Bybelse hoop aan wat gewortel is in die karakter van wie ons God is—die God van alle hoop; geanker aan die beloftes wat ons in sy Woord kry; hoop wat nie teleurstel nie; hoop wat onwankelbaar, vas en seker staan op grond van die persoon in wie ons ons hoop stel. 

Ek hou daarvan hoe die apostel Paulus ons in 1 Timoteus 4:10 herinner dat ons “ons hoop op die lewende God gevestig (het), wat die Verlosser is van alle mense”.  

Dit is die hoop wat ons almal nodig het.

Hoop op die Een wat ons liefhet en Homself vir ons gegee het.

Hoop op die almagtige, alwetende, altyd teenwoordige heerser oor almal, wat in staat is om meer te doen as wat ons ooit kan vra of dink.

Hoop in die Beloofde wat na die kruis gegaan en ons skande gedra het, verag en verwerp is, die straf verduur het en die prys vir al ons sonde betaal het. Die Een wat gely, gebloei en gesterf het sodat ons vergifnis en genade kan smaak wat ons nie kan verdien nie.

Hoop op ‘n seëvierende, opgestane Verlosser wat nie dood gebly het nie maar sonde en dood en hel oorwin het toe Hy opgestaan het sodat ons van die ewige lewe verseker kan wees.

Jesus Christus is ons lewende hoop.

1 Petrus 1:3 sê vir ons God het ons “die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop”.                                                       

Sonder Christus se opstanding sou ons niks gehad het om voor te hoop nie.

Miskien is die opstanding vir party van ons iets waaraan ons rondom Paastyd dink. Ons vier ons opgestane Verlosser en sing pragtige, besielende gesange en liedere oor die graf wat leeg is en die eer wat aan die opgestane, seëvierende Seun gegee word. Ek is mal oor Paassondagdienste. As tiener het ek behoort aan ‘n kerk wat elke Paassondagoggend met dagbreek ‘n aanbiddingsbyeenkoms op ‘n heuwel aan die rand van die stad gehou het. Terwyl die son opkom, het ons hardop uit die Evangelieverslae van daardie eerste Paasfees gelees en was ons saam bly oor Jesus se oorwinning.

As volgelinge van Christus draai ons hoop om sy opstanding en dit is ‘n waarheid waaroor ons nie net met Paastyd moet nadink en vier nie. Dit is ook nie ‘n soort “versekeringspolis-hoop” wat eers in werking tree wanneer ons self met die dood gekonfronteer word nie.

Die opstanding is fundamenteel noodsaaklik vir ons alledaagse geloof.

In ons Skrifgedeelte vandag, 1 Korintiërs 15, wei Paulus uit aan die kerk in Korinte waarom Jesus se opstanding werklik saak maak en watter verskil dit in ons lewens maak. Hy skryf dat hierdie boodskap allereers belangrik is, dit is die evangelie waarin ons vasstaan, en dit is die grondslag van ons hele geloof. Hy sê dat as Christus nie uit die dood opgewek is nie, dan is ons geloof nutteloos en sou ons steeds in ons sondes leef. Trouens, as ons net hoop gehad het vir hierdie lewe, is ons die bejammerenwaardigste van alle mense.

Watter hoop sou ons gehad het as ons geglo het in ‘n god wat dood is?

Watter hoop sou ons gehad het as ons nie seker was oor die ewigheid nie en nou net ‘n goeie lewe moes probeer lei het?

Watter hoop sou ons hê as ons nie die versekering gehad het dat al ons sonde van die verlede, hede en toekoms aan die kruis vereffen is nie?

Liewe vriendin, dit is hoegenaamd geen hoop nie. Ongelukkig is dit ‘n hopelose realiteit vir baie in ons wêreld vandag. Hoe nodig is dit vir hulle om die Goeie Nuus te hoor wat ons moet verkondig.

Opstandingshoop is vir ons ‘n alledaagse hoop en ‘n toekomshoop. Dit is ‘n hoop vir nou en wat nog nie is nie.

Ons het hoop vir vandag—wanneer dinge moeilik gaan, wanneer ons dalk wanhopig voel oor situasies wat ons moet hanteer, wanneer die diagnose is waarvoor ons bang was, wanneer ons verslaan voel as gevolg van die sonde wat ons so maklik verstrik, wanneer ons twyfel of wonder of God werklik die uitroep van ons hart hoor, kan Hy regtig iets goeds voortbring uit wat skynbaar so sleg, so donker, so onmoontlik lyk?

Ons hoop is Jesus.

Hoop op die Een wat nooit sal teleurstel nie, wat ons vertroue waardig is, wat ons van skuld en skaamte en mag van die sonde vrymaak, wat altyd goed is al is ons omstandighede nie. Die een wat in staat is om meer te doen as wat ons kan vra of dink. Die Een wat ons so liefhet dat Hy sy lewe vir ons gegee het. Die Een wat ons nooit sal verlaat of in die steek laat nie.

Ons het hoop vir die toekoms—die vaste en seker wete dat die dood nie die einde is nie, ons tot in alle ewigheid saam met Christus sal lewe, daar nie meer sonde of hartseer, siekte, skeiding of smart sal wees nie, en dat alles wat verkeerd was reg gemaak sal word.

Ons hoop is Jesus.

Hoop op die Een wat gesterf en weer opgestaan het, wat die sonde en dood en hel oorwin het. Die Een wat leef om vir sy volk in te tree, die Een wat ons aanspoor om te hoop en ons versterk om in opstandingskrag vir Hom te leef. Die Een wat weer gaan kom om ons saam te neem om vir ewig by Hom te wees.

Ons hoop is Jesus.

“Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus”                         – 1 Korintiërs 15:57.

Mag sy seëvierende opstandingshoop vandag ons harte versterk en bemoedig.

Week 3 Uitdaging:

Hoop is ‘n anker vir ons siele as gevolg van wie ons hoop in is. Spandeer hierdie week tyd om een van die Evangelies te lees en skryf neer hoe Jesus sy beloftes nagekom het terwyl Hy op aarde was. Hoe gee dit jou die vertroue dat Hy sy belofte om eendag terug te keer, sal nakom?

Week 3 Leesplan:

Week 3 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse