Op Jesus Gefokus

Op Jesus Gefokus

Melissa Fuller

“In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.” – 2 Korintiërs 4:8–10

Ons almal was al in sulke seisoene. Tye wanneer dit vir ons voel probleme kom van alle kante af. Seisoene waarin ons deur verlies en hartseer verpletter word. Situasies wat ons verwar. Verhoudings waarin ons verlate voel. Omstandighede wat ons platslaan en dreig om alles wat vir ons bekend en geliefd is, te vernietig.

Waarheen gaan ons dan wanneer ons sulke dinge in die gesig staar? Ons mag dit dalk regkry om almal om ons te oortuig dat ons piekfyn is, maar ons kan onsself ook net so lank bluf. Waarheen gaan ons dan wanneer ons stoksielalleen, sonder hoop en sonder enige vooruitsigte is?

Om in hoop te leef is ‘n stryd wat volgehoue krag en volharding verg. Die duiwel en ook ons eie twyfel en vrese kan ons beïnvloed en in die versoeking laat kom om hoop te verloor. Ons kan steeds in hoop leef wanneer ons swaarkry, al ervaar ons dalk moeilikheid. Paulus herinner die gemeente in Korinte aan die hoop wat hulle het deur vir hulle te sê wat waar is: hulle het moeilikheid ervaar, maar nie soveel dat dit hulle sou verpletter nie; hulle was raadop oor hulle omstandighede maar nie wanhopig nie; hulle is deur hulle vyande vervolg, maar nooit deur God in die steek gelaat nie; hulle is platgeslaan, maar nie vernietig nie.

Die rede waarom hulle nie verpletter, wanhopig, in die steek gelaat of vernietig is nie, is omdat hulle hul hoop onthou het. Deur die karakter van God en die belofte van Christus te onthou en daarin te glo, het hulle elke dag sy dood saam met hulle gedra. Hulle het nooit opgehou om in die lig van die waarheid te leef nie. Dit het hulle in staat gestel om getuies te wees teenoor diegene rondom hulle wat Christus nie geken het nie.

Hoop is die vertroue om op God te wag wanneer ons nie die toekoms kan sien nie. Volharding hou aan om ons hoop op die goedheid van God te plaas wanneer ons omstandighede vir ons sê om tou op te gooi.

Daar is seisoene en situasies waar dit onmoontlik lyk om met vertroue op God te wag. Wanneer verlies en teleurstelling en pyn en swaarkry ons tref, is om uit te hou die allerlaaste ding waarvoor jy krag het. Maar ongeag hoe ons voel, ons kan steeds aan hoop vashou. Ons gevoelens dikteer nie God se goedheid nie. Ons gevoelens keer God nie om ter wille van ons te werk en ons situasie op te los nie. Ons uitputting of moegheid verhoed nie dat God in ons behoeftes voorsien of ons hartsbegeertes vir ons gee nie.

Ons is nie verpletter wanneer ons oë op Jesus gevestig is nie.

Ons sal nie tot wanhoop gedryf word solank ons oë op Jesus gevestig is nie.

Ons word nooit deur Jesus in die steek gelaat nie.

En ons sal nie vernietig word nie want Jesus het alreeds die oorwinning behaal

Selfs te midde van swaarkry kan niks God se voornemens ongedaan maak nie. Geen hoeveelheid teenstand, vervolging, swaarkry of lyding kan God se plan verander nie. Omdat Hy teenoor ons getrou is, kan ons aan Hom getrou bly deur in hoop te volhard terwyl ons lyding verduur. Wanneer ons aanhou om ons geloof in Christus te plaas en sy dood en alles wat Hy vir ons gedoen het, onthou, leef ons in oorwinning. Die swaarkry wat ons vandag verduur, is eintlik maar gering en kortstondig vergeleke met die uitnemende grootheid daarvan om saam met Hom te wees. 

Die vreugde om Christus te ken sal altyd ons pyn en lyding, ons stryd en hartseer verreweg oortref. Mag ons weer ons hoop in Hom plaas, ongeag wat ons voel. Kom ons wag op Hom wanneer ons nie die toekoms kan sien nie; kom ons plaas ons hoop op sy goedheid selfs wanneer ons omstandighede vir ons sê om tou op te gooi.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse