Ons Verlosser Leef
Mary Leslie Racine
Prys die Here dat ons ‘n Verlosser het wat lewe en wat eendag op die aarde sal staan! Jesus, ons Verlosser, leef. Ek dink aan Lukas 24:1-10 waar Lukas beskryf hoe die vroue vroegoggend na die graf gegaan het en die graf leeg gevind het. Vers drie sê: “en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie.”
Ek probeer myself in hul posisie plaas. Ek dink ek sou ‘n reeks emosies ervaar: verwarring, hartseer, vrees, ens. Die Bybel teken aan dat hulle verward was (Luk. 24:4). Ek sou ook wees. Die engele het hulle herinner aan Jesus se woorde van hoe Hy vir hulle gesê het dat Hy weer gaan opstaan. Ek is mal oor die engel se eenvoudige, dog diepsinnige woorde aan hulle, “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek.”
Verlos en Vergewe
Jesus wat lewe, verander alles. Toe Adam en Eva in die tuin gesondig het, het hulle sonde en dood in die wêreld gebring. Ons het almal ‘n sondeprobleem. Die Bybel is baie duidelik in Romeine 3:23 “Almal het gesondig en is ver van God af.” Daar is geen persoon op aarde (behalwe Jesus) wat vry was van die teenwoordigheid en mag van sonde nie.
Ons sonde stel ons in die skuld by ‘n heilige God. Nou moet ons, of iemand anders, vir daardie skuld betaal. Ons het verlossing nodig. Romeine 3 gaan voort om in vers 24 te sê dat “hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus”. Jesus verlos ons van ons sondeskuld.
Hy is ons Verlosser. Hy het die straf vir ons sonde op Hom geneem met sy liggaam aan die kruis. Hy het gesterf vir jou sonde, en vir my sonde. Vergifnis en oorwinning word in Hom gevind.
Oorwinnend Opgewek
Die verhaal van verlossing eindig nie by sy dood nie. Hy is in ‘n graf begrawe en drie dae later het Hy weer opgestaan. In 1 Korintiërs 15:17 staan daar: “En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes.” Dit gaan voort in vers 19 om te sê: “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.”
Christus se opstanding is sentraal in ons geloof. As Christus nie opgestaan het nie, dan het Hy nie mag oor die dood nie. As Hy nie mag oor sonde en dood het nie, dan is ons geloof sinloos. Maar lof aan God dat dit nie die geval is nie!
Ons weet dat Hy wel opgestaan het. Daarom het Hy die dood oorwin. Ons weet dat die dood nie vir ons die einde is nie. Ons het ‘n opgestane lewe saam met Jesus om na uit te sien! 1 Korintiërs 15:26 herinner ons daaraan dat “die laaste vyand wat vernietig word, is die dood”. Jesus het hierdie oorwinning oor die dood deur sy dood en opstanding behaal. Watter ongelooflike nuus!
Eendag sal ons ook weer opstaan en by God in die hemel wees. Ons sal vir ewig voor die troon van God aanbid. Hierdie waarheid is vir ons bereik deur Jesus met sy dood en sy opstanding. Eendag sal Jesus terugkeer en op die aarde staan. Diegene wat op Hom vertrou het, hulle sal vir ewig by Jesus wees. Prys die Here dat ons ‘n Verlosser het wat lewe en wat die sonde en die dood namens ons oorwin het.