‘n Nuwe Kyk na die Geboortetoneel

Die Geboortetoneel van Christus is die kragtigste en mees uitsonderlik aangrypende uitbeelding van nederigheid in die ganse geskiedenis. Elke Kerstyd lees ons gesin die verhaal van Jesus se geboorte. Ons lees hoe benoud Josef en Maria was  omdat daar nie vir hulle blyplek in die herberg was nie. Ons sien hoe Jesus tussen die diere sy opwagting maak, in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê word. Dan lees ons van die engel van die Here wat aan die skaapwagters verskyn, ‘n hemelse leërskare wat God prys, en van die skaapwagters wat hulle na Betlehem haas om die Christuskind te sien.

Die Bekendheid van die Kersverhaal

Net soos Maria bewaar ons hierdie verhaal in ons harte. Tussen die versierings, feesvierings, bedrywighede en geskenke van die Kersseisoen deur, probeer ons ons harte en gedagtes instel op die heerlikheid van hierdie geboortetoneel. Maar ek moet eerlik wees. Elke jaar wil ek meer op Jesus, en minder op die taaklyste van die feestyd fokus. Tog raak ek oorweldig en uitgeput deur alles wat ek gedoen moet kry en kry dit nie reg om werklik alles in te neem wat Hy gedoen het nie. Ek kan die glansrykheid van die Koning midde-in die Kersfeesdinge misloop. Toe ek hierdie blog begin skryf het, het ek die Here gevra om my iets anders in die geboorteverhaal te wys. Iets wat ek weens die oorbekendheid van Christus se geboorte misgekyk het. Dít is wat Hy vir my gewys het.

Betekenis in die Onbeduidende

Eerstens, die stal was God se plan. Elke keer wanneer ek lees “omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie”, raak ek benoud. Ek stel my voor hoe hulle van die een herberg na die ander skarrel, desperaat om ‘n skoon, veilige plek te kry vir Jesus se geboorte. Ek raak angstig as ek dink hoe die jong Maria op daardie tydstip moes gevoel het. Hoe kon iemand ‘n vrou wat in kraam is, wegwys? Maar dit was nie ‘n fout nie. God het Josef en Maria in daardie spesifieke situasie geplaas, met al die frustrasies en vrese wat dit waarskynlik meegebring het, vir sy doel.

Lank gelede, in die vroeë 5de eeu voor Christus, het Miga 5:1 voorspel: “Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede!” Christus is nie in die grootste familie van Juda gebore nie, of in ‘n koning se paleis soos die meeste sou verwag het nie. Trouens, Hy is in die nederige, skynbaar onbeduidende dorp Betlehem gebore.

Maria en Josef was oënskynlik gestrand, maar dit was nie die geval nie. God het hulle presies daar gehad waar hy hulle wou hê. Christus Jesus, ons Verlosser, het in die nederigste van alle plekke, in ‘n stal, tussen die diere van die veld in die wêreld gekom. God plaas elkeen van ons in sulke soort plekke. Stalle. Dit is nie waar ons wil wees nie. Dit is allesbehalwe waar ons “behoort” te wees. Dit is ongemaklik. Dit is onwelriekend. Dit is oënskynlik afgeleë. Op sulke tye kan dit lyk asof God van ons vergeet het. Tog, net soos met Maria en Josef, kan dit ons onverwagte plek in die lewe wees wat ons presies midde-in God se wil plaas.

Om Christus in te Neem

Tweedens, die krip was God se plan. Ons gesin se geboortetoneel was ‘n geskenk van my beste vriendin. Die styl daarvan is meer modern as tradisioneel en my gunstelingstuk is die krip. Die Jesus-figuurtjie is sorgvuldig op ‘n lagie regte strooi in ‘n krippie neergelê. Die weerloosheid en eenvoud van daardie toneel gryp altyd my hart aan. Maar toe ek weer hierdie geboorteverhaal lees, het die volle betekenis daarvan my omgeboul.

Ons weet dat die pasgebore liggaam van Jesus Christus in ‘n krip neergelê is. En die meeste van ons weet reeds dat ‘n krip ‘n voerbak is. Maar het julle geweet dat die woord manger afgelei is van die Latynse woord manducare wat “om te kou of te verslind” beteken?

Ek worstel al jare lank met Jesus se woorde in Johannes 6. Ons is nie in staat om die bloederige aard van Jesus se “dit verseker Ek julle” dat “as [ons] nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het [ons] nie die lewe in [ons ] nie”. Nou verstaan ek dit. Jesus Christus, wat volledig God en volledig mens is, het gekies om sy goddelikheid te bedek, om die beperkinge van tyd te betree, ‘n menslike liggaam aan te neem, beperk te word deur die grense van mensheid, pyn en lyding te verduur, die dieptes van hartseer en vreugde te ervaar, aan ‘n kruis te sterf, en uit die dood op te staan. Hy het dit alles gedoen deur eers as ‘n babatjie te kom, en in doeke toegedraai in ‘n voerbak te lê.

Jesus het gesê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe” (Johannes 6:51). Net soos ons eers brood moet kou en dan insluk om ons fisiese liggame te voed, moet ons die brood wat Christus is, “eet” of “inneem”. Ons kan met ons verstand weet dat Jesus die enigste Weg is, kou aan die waarheid van wie Hy is, maar voordat ons Hom nie inneem en daardie waarheid insluk nie, het ons nie die gawe van die ewige lewe ontvang nie. Ons moet die feit dat Jesus Christus die enigste manier is waarop ons met God versoen kan word, “verslind” of verteer. Dan kan ons God se voorsiening vir die ewige lewe wat hier op aarde begin en vir ewig duur, geniet.   .

Ons Vodde vir Sy Heerlikheid

Ten slotte was dit nog altyd God se plan dat sy heerlikheid deur sy armoede geopenbaar sou word. Die stamwoord vir “arm” in die Nuwe Testament is ptochos, wat “iemand wat gebrekkig is aan hulpbronne” beteken. Waarom sou die God van die heelal hoegenaamd “arm” wou word? Kolossense sê dat ALLES in die hemel en op aarde deur Jesus en vir Jesus geskep is. En dat Jesus voor ALLES is en dat in Hom ALLES in stand bly. In werklikheid het Jesus ALLES, allesbehalwe behoeftig. En tog, “hoewel Hy ryk was, het Hy … arm geword”. WAAROM?

Hy het dit “ter wille van [ons] gedoen, sodat [ons] deur sy armoede ryk kon word” (2 Korintiërs 8:9). Dit is die groot ruiltransaksie. Sy glansryke rykdom vir ons armoede. Ons armoede vir sy glansryke rykdom. Dit is die uiterste uitdrukking van liefde. DIT IS GENADE. Onpeilbare, onbegryplike, ongeëwenaarde, en onveranderlike GENADE. Sulke genade is net moontlik as gevolg van Christus se “gesindheid”. Hoewel Jesus volledig God was, het Hy nie gelykheid met God beskou as iets waaraan vasgeklou moet word nie. Sy gesindheid is nie deur sy realiteit bepaal nie. Sy realiteit is deur sy gesindheid bepaal. Hy het gekies om homself te verneder, sy heerlikheid te versluier, om homself leeg te maak, die gestalte van ‘n slaaf aan te neem, homself in ‘n voerbak te plaas, en die brood van die lewe te word! Gevolglik het God die Vader gekies om “Hom ook tot die hoogste eer [te] verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is”.

Mag hierdie Kerstyd in jou “dieselfde gesindheid wat daar ook in Christus Jesus was” teenoor mekaar voortbring. En mag julle meer ten volle begryp dat die nederige baba in die krip dieselfde Een is voor wie elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Hy die Here is, tot eer van God die Vader.

Uitdaging vir die Week:

Terwyl ons hierdie week ons ​​studie met die engelelied voltooi, vra jouself af wat jy kan doen om te groei in jou kennis van God se heerlikheid. Bid bowenal dat God die oë van jou hart toenemend sal oopmaak vir sy glorieryke heiligheid. Jy sal dit dalk nuttig vind om Paulus se gebed in Efesiërs 3:16-21 vir jouself te bid. Gaan ook voort om Maria se lied te memoriseer. Hersien wat jy die afgelope drie weke gememoriseer het en begin om die laaste gedeelte, Lukas 1:54-55, te memoriseer.

Leesplan vir die Week:

Memoriseervers vir die Week: 

 

 

Melinda

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs