Maak Skatte Bymekaar

Maak Skatte Bymekaar

Katie Shott

Daar is ‘n ou gesegde “Geld kan nie geluk koop nie”, en ‘n bekende popliedjie wat lui, “Geld kan nie vir my liefde koop nie”. Die samelewing heg dikwels groot waarde daaraan dat al ons behoeftes deur finansiële welvaart en materiële besittings bevredig kan word.

Een van ons nasionale koerante hier in die Verenigde Koninkryk publiseer jaarliks ‘n “Rich List” van die top 350 rykste mense in die land. Die lys toon hoeveel miljarde of miljoene hulle werd is en hoe hulle hul geld gemaak het

As volgelinge van Jesus, weet ons mos dit is nie waar ware rykdom lê nie.

Ons kyk nie na die wêreld om ons waarde te bepaal nie, maar gaan eerder na God se Woord om te sien wat ware rykdom bepaal en hoe om ‘n Goddelike perspektief omtrent welvaart, rykdom en besittings te hê. Ons Skrifgedeelte vandag kom uit een van Jesus se preke, bekend as die Bergpredikasie, wat in Matteus hoofstukke 5-7 voorkom.

Daarin tref ons voorskrifte aan oor hoe om te lewe, en watter soort mense ons behoort te wees. Daar word ook na verwys as die Koninkryksmanifes, waar ons ontdek dat Jesus se onderrig van sy onderstebo koninkryk baie anders is as die weë van hierdie wêreld. Jesus leer ons (bo en behalwe baie ander voorskrifte in hierdie drie hoofstukke) hoe om te leef, hoe om lief te hê, hoe om te gee, en hoe om te bid.

Hierdie Lydensseisoen is ‘n goeie tyd om halt te roep en te herbesin oor ons gesindheid oor baie aspekte van ons lewe. Aangesien Jesus leer oor welvaart, rykdom, geld en om te gee, moet ons luister en ag slaan op wat Hy oor hierdie dinge vir ons te sê het.

“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” Matteus 6:19-21

Dit is duidelik dat ons net skatte in die hemel moet opgaar. Hoe lyk dit dan, en hoe doen ons dit?

Eerstens besef ons dat alles wat ons het, van God kom. Die spostel Paulus herinner ons in 1 Korintiërs 4:7: “En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?” Ons Hemelse Vader is die bron van alle seëninge en voorsiening. Hierdie erkenning dat alles wat ons het aan God behoort, help ons om weer ons houding teenoor die ware eienaar van alles wat ons besit, reg te stel.

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het….” Johannes 3:16

Nie net is God die eienaar nie, maar Hy is ook ons uitnemendste voorbeeld van iemand wat vrygewig is. Om te gee is die wese van wie God is. Hy het geweet dat ons ‘n Verlosser nodig het, en daarom het Hy Jesus vir ons gegee. Aangesien ons so ‘n onuitspreeklike geskenk ontvang het, sal ons seer sekerlik sy voorbeeld wil navolg met ‘n hartsgesindheid wat graag wil gee, liefde betoon, begeer om goed te doen, ander met goedhartigheid te seën, en in behoeftes te voorsien deur te deel wat aan ons gegee is.

Dit is uiters belangrik dat ons onthou dat enigiets wat ons gee, in elk geval nooit ons s’n was nie. Dit haal die hooghartigheid uit gee, want ons kan in die versoeking kom om baie ingenome met onsself te raak wanneer ons iets doen om ander in nood te help. Ons moet onsself herinner aan die waarheid in Dawid se woorde in 1 Kronieke 29:14: “Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het.”.

Gee gaan vanselfsprekend nie net oor ons finansiële middele nie. Selfs al het ons nie baie geld nie, het God ons op baie ander maniere geseën. Ons deel daardie seëninge deur ons tyd te gee, ons gawes en vermoëns aan te wend, getrou vir ander te bid, medelye te betoon, en praktiese hulp op ander se behoeftes te verleen. Ons gee uit ‘n hart wat Jesus liefhet en lewe om Hom te behaag

Ons kan vrywilligerswerk vir ‘n Christensendingorganisasie doen, uithelp by ‘n voedselbank in ons omgewing, of die baba oppas van ‘n enkelmamma wat nooit enige tyd kry vir haarself nie. Ons kan ons daartoe verbind om saam te bid met die jeugorganisasies of uitreikaksies by die kerk.

Om van onsself te gee, vra dikwels meer as om net ‘n finansiële bydrae aan ‘n liefdadigheidsorganisasie te maak. God se Woord sê ons moet vrygewig, blymoedig en selfopofferend gee sonder om iets terug te verwag.

Ons kan daarna streef om hemelse skatte te vergader deur in mense te belê. Deur ander te dien, eer ons God. Wanneer ons dit doen, sal ons, in die woorde van die apostel Paulus in 1 Timoteus 6:19 “’n skat opbou as goeie fondament vir die toekoms, sodat….(ons) die ware lewe kan verkry.” (2020-vertaling)

In 2 Korintiërs 8 wys Paulus ons ook op die pragtige voorbeeld van gelowiges in die Masedoniese gemeentes wat vrywillig, blymoedig en oorvloedig gegee het, selfs in hulle beproewende en armoedige omstandighede. Hulle het geweet watter seën en samehorigheid daarin lê om gelowiges te help. Hulle prioriteite was reg. Paulus sê in vers vyf van hierdie hoofstuk: “Eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil.” Paulus moedig dan die gelowiges in die gemeente van Korinte aan om hierdie voorbeeld na te volg en uit te munt in die genade van gee.

Wanneer ons in hierdie Lydenstyd dink aan alles wat ons in Christus Jesus ontvang het toe Hy Homself vir ons gegee het, mag ons herinner word aan die skat wat net te vinde is deur Hom lief te hê en vir Hom te lewe.

Kom ons maak van elke geleentheid gebruik om sy goedheid en seëninge te deel. Mag ons toeneem in die genade om te gee, en hemelse skatte versamel deur ewige beleggings vir die Koninkryk van God te maak in die lewens van ander in hierdie wêreld wat Hy so liefhet.  .

En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. 2 Korintiërs 9:8    

Week 4 Uitdaging:   

Deel daarvan om onsself leeg te maak om met Christus gevul te word behels om liefdadigheid te doen. Liefdadigheid is ‘n daad van geloof wat aandui dat ons glo dat God in ons behoeftes sal voorsien as ons uit ons oorvloed gee. Vra hierdie week vir God om aan jou te openbaar waar Hy wil hê jy moet finansieel gee. As jy voel jy het nie die middele nie, vra Hom om jou te wys hoe jy steeds liefdadig kan wees met wat jy wel het.

Week 4 Leesplan:

Week 4 Memoriseervers:

       

 

Katie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse