Jesus Christus is Waardig!
Grace Ann Hopkins
Ek het gesondig en dit ontbreek my aan die heerlikheid van God. In sy tere liefde het Jesus alles opgeoffer om my die lewe te gee. Ek het Hom broodnodig.
Hoe dikwels vergeet ek hierdie eenvoudige waarhede? Hoe dikwels laat ek toe dat onbenullighede in die pad staan van my Godgegewe doel? Wat is my Godgegewe doel? Deur God se genade het Hy aan my geopenbaar dat my doel is om Hom lief te hê en Hom heelhartig te dien terwyl Hy in en deur my werk om my meer soos Christus te maak.
Die waarheid is dat Jesus vir ons sondes aan ‘n kruis gesterf het, begrawe is, weer opgestaan het en sonde en die dood oorwin het. Hy sit nou aan die regterhand van God in die hemel (Romeine 8:34). Wat Jesus vir ons gedoen het, moet nie ligtelik opgeneem word nie.
In Openbaring 5 sien ons ‘n geweldige manjifieke prentjie van die lof wat Jesus Christus verdien. Vers 13 sê dat die hele skepping – nie een van hulle ontbreek nie – vir Jesus sal sing en verkondig dat Hy alle lof, eer, heerlikheid en krag waardig is. Elke knie sal buig, en elke tong sal bely dat Hy die Here is (Filippense 2:10-11).
Hoe sal dit wees om elke oggend so op Jesus te reageer wanneer jy wakker word? Glo jy dat Hy jou lof werd is? Om aan Hom die eer te gee wat sy naam toekom, moet ons eers sy offer verstaan.
Geskep vir Verhouding
Kolossense 1:16 praat van Jesus en sê dat alle dinge deur Hom, tot Hom geskape is. Hierdie Skrif openbaar aan ons hoe en hoekom ons geskape is. Ons is inderdaad deur God geskape vir ‘n verhouding met Hom, want Jesus is die beeld van die onsigbare God (v. 15). Weens ons sonde is ons egter van ‘n heilige God geskei.
Romeine 3:23 sê dat ons almal gesondig het en aan die heerlikheid van God ontbreek. Romeine 6:23 sê dat die gevolg van sonde die dood is, maar die gawe van God is die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here. Jy sien, God het sy enigste Seun, Jesus, gestuur om die dood te sterf wat jy verdien het. Jesus het deur elke vorm van pyn gegaan om die Weg te wees vir jou om vergewe te word en naby God te wees en om vir ewig saam met Hom te lewe.
Miskien het jy die Evangelie voorheen gehoor, of dalk het jy dit nog nooit so gehoor nie. Vandag kan jy vir ‘n feit weet dat God jou geskep het omdat Hy jou liefhet en daarna verlang om in ‘n verhouding met jou te wees. Jy kan weet hoe desperaat jy ‘n Verlosser nodig het, want jou sonde verbied jou om oorvloedig en vir ewig te lewe. Bowenal kan jy jou verheug in die offer van Jesus namens jou.
Deur sy bloed het Hy jou uit die duisternis oorgebring na sy Koninkryk van lig, waar daar algehele verlossing en volle vergifnis van sondes is (1 Petrus 2:9, Kolossense 1:13-14).
Jesaja 53:11 sê dat Jesus, selfs te midde van die diepste angs aan die Kruis, tevrede was met die wete dat Hy jou geregtigheid koop. Jou Verlosser het jou lief. Jy was die vreugde wat aan Hom voorgehou is by die Kruis (Hebreërs 12:2). Toe Hy geslaan en gebreek is, het Hy aangehou, omdat Hy jou wou hê. Jy was destyds in sy gedagtes, jy is ook nou in sy gedagtes.
Nadat ons hierdie kragtige waarheid uit die Woord van God ontvang het, is ons enigste reaksie om Jesus te loof, dit is wat God begeer (Psalm 116:17). Ons is geroep om lewens van aanbidding te lei en alles op te offer om Jesus te ken en lief te hê (Romeine 12:1). Wanneer ons ons geloof in Christus plaas, het ons volle, onbelemmerde toegang tot God, want die bloed van Christus bedek ons (Hebreërs 4:16). Mag ons mense wees wat elke uur van die dag die troonkamer van God binnehardloop en sing: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid!” (Openbaring 5:13). Jesus Christus is waardig! Amen.
Week 2 Uitdaging:
Terwyl dit die geboorte van Jesus is wat ons met Kersfees vier, kan ons nie sy geboorte skei van dít wat Hy kom doen het nie. Hy het ‘n volkome sondelose lewe gelei en toe het Hy Homself geoffer om vir ons sonde te betaal. Jesaja 53 praat oor die Lydende Dienaar. Lees Markus 10:45. Wat was Jesus se doel om aarde toe te kom? Hoe stem die woorde van Jesaja ooreen met hoe Jesus vir ons gely het?
Week 2 Leesplan:
Week 2 Memoriseervers: