Glo en Word Gevul

Glo en Word Gevul

Grace Ann Hopkins

Iets waaroor ek die afgelope tyd nadink is die idee van “wording”. A pragtige paradoks kom voor in die feit dat God gekom het om vir ons rus te gee, en tog ook om ons te beweeg tot verbetering, volwassenheid en volmaaktheid. Sy onvoorwaardelike liefde is teenwoordig in beide aksies. Hy is lief vir ons soos ons is en verlang om ons heilig te maak en ons heeltemal te vervul met die volheid van Homself.

Heiligmaking beteken om soos Jesus te word en om lief te raak vir Hom met ons hele hart, siel, verstand en al ons krag. Wanneer ons Jesus ken – werklik sy karakter en wie Hy is ken – begeer ons om soos Hy te raak. Hierdie wordingsproses behels die volgehoue werk om ons laste af te lê en ons oë op Christus, die Seun van God, in alle omstandighede te rig (Heb. 12:2). Hierdie tipe volharding lei tot ‘n toename in goeie dinge en ‘n afname in ons tekortkominge (Jak. 1:4).

Een aspek om as God se beelddraers soos Christus te word, is om met die wysheid van God gevul te word. Dit word dwarsdeur die Skrif bevestig. Die Here wil vir ons wysheid gee. Wysheid is ‘n goeie gawe, en elke persoon wat in Jesus Christus glo kan wysheid ontvang en daarin groei.

1 Korintiërs 2 sê vir ons dat ware wysheid nie van die wêreld afkomstig is nie, maar van die Gees van God self. Spreuke 3:19 openbaar dat God die wêreld deur wysheid geskep het. Kolossense 2:2-3 verklaar dat in Christus bestaan al die skatte van wysheid. As gelowiges, huisves ons die wysheid van God omdat God in ons woon. Dit is ‘n wonderbaarlike waarheid.

Spreuke 9:10 sê vir ons dat die ontsag vir Here die begin van wysheid is, en kennis van die Heilige, insig. Dit beteken dat ons wysheid ontvang deur ons aan God te onderwerp, Hom te vereer, en Hom te aanbid deur ons lewens aan Hom te gee. Ons word met insig gevul wanneer ons bely wie God waarlik is. Sy karakter van genade en waarheid manifesteer in sy Woord, naamlik in die persoon van Jesus Christus (Heb. 1:3).

Spreuke 2:6 sê vir ons dat die Here wysheid gee, en dat kennis en insig uit sy mond kom. Miskien voel dit vir jou asof God nie met jou praat nie. Ongeag waardeur jy gaan of hoe jy mag voel, kan ek jou verseker dat God besig is om te praat. Elke keer wat jy die Woord van God oopmaak, is sy stem daar. Elke woord wat in hierdie heilige boek voorkom is geskryf met jou in gedagte. Deur God se Woord te lees en dit toe te laat om in jou te woon, sal jy troos, vrede, vreugde, hoop, hernuwing, lewe en elke goeie ding ontvang.

Soos jy in hierdie seisoen die doelgerigte stappe neem om die laste af te lê wat jou terughou, begin bid om wysheid van Bo wat allereers sonder bybedoelings is, en verder vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg is (Jak. 3:17). Sulke wysheid is kosbaarder as edelstene (Spr 8:11). Dit is noodsaaklik dat ons wysheid in oormaat bekom sodat ons nie mislei word deur vals redenasies nie, maar geanker bly in die waarheid en dit met vrymoedigheid verkondig (Kol. 2:4). Mag ons volhard in ons soeke na die Here en sy wysheid, en vas staan in ons geloof in Christus Jesus (Kol. 2:5).

Wanneer jy vir God om wysheid vra, loof Hom dat Hy ‘n vrygewige en goedgunstige Vader is wat jou deur die krag van die Woord, Jesus Christus gereinig het (Jak: 1:5). Vra in geloof as sy kind. Glo, en jy sal heeltemal gevul word met die volheid van God.

 

Grace Ann

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse