Geloof-gevulde Hoop

Geloof-gevulde Hoop

Katie Shott

Verlede jaar het ek ‘n plaaslike museum besoek om ‘n kunsuitstalling te besigtig van agtien portrette van verskillende persone wat deur “The Troubles” geraak is—’n moeilike tydperk in die geskiedenis van Noord-Ierland, my tuiste. Dit was fassinerend om te sien hoe ‘n baie talentvolle plaaslike kunstenaar die verskillende individue uitgebeeld het en om hulle verhale langs hulle portrette te lees.

Wanneer ek Hebreërs 11 lees, is dit hoe ’n geloofsuitstalling in my verbeelding lyk. Daar word soms na hierdie bekende gedeelte in die Bybel verwys as die Geloofshoofstuk of die Helde van Geloof gallery.

Terwyl die skrywer aan die Hebreërs ons herinner aan hierdie godvresende persone, is dit goed om deur hulle geloof bemoedig en geïnspireer te word; maar ons moet versigtig wees om nie een van hulle op ‘n voetstuk te plaas of te dink dat hulle ‘n soort supergeloof gehad het nie, want dit kan ons moedeloos laat voel dat ons nie aan hulle standaarde kan voldoen of in hulle voetspore kan volg nie. Almal wat genoem word, was mense, net soos ons, en elkeen het van God dieselfde gawe van geloof ontvang as toe ons gered is, uit genade, deur geloof. (Efesiërs 2:8).

Die enigste ware held in hierdie gedeelte is God self, die Een van wie ons geloof ontvang en waarin ons geloof geplaas word. Hier lees ons van God se getrouheid aan sy volk en hoe hulle vir Hom kon lewe, Hom vertrou en dien, omdat hulle ‘n geloof-gevulde, toekomsgerigte hoop in die einste karakter, beloftes en Woord van God geplaas het, ten spyte van hulle twyfel, onsekerhede, vrese en mislukkings.

Die openingsvers in Hebreërs 11 gee vir ons ‘n sterk definisie en goeie instruksie en vertel ons wat grondliggend was in die lewens van elkeen van die mense wat in die daarop volgende verse genoem word.

“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebreërs 11:1).

Die woorde seker en oortuig staan regtig uit in hierdie vers. Daar is geen ruimte of rede vir onsekerheid of twyfel nie. Geloof-gevulde hoop is nie dwase optimisme of wensdenkery nie. Inteendeel, dis geanker in ‘n onwrikbare grondslag vir die verlede, hede en toekoms.

Ons hoop is Jesus, die pionier en voleinder van ons geloof. Ons lewe, wat ons deur geloof wandel, begin en eindig uiteindelik slegs in Hom. Dus rig ons ons oë op Jesus.

Soos ons, het almal van wie ons in Hebreërs 11 gelees het in die beloftes van God geglo, op die Woord van God vertrou en in die lig daarvan gelewe. Miskien word een van jou gunsteling mense in hierdie gedeelte genoem en dit versterk jou hart weer om te lees en herinner te word aan hoe God in en deur hulle gewerk het om sy doel te bereik en sy beloftes te vervul.

In Noag se lewe sien ons geloof wat uitgeleef word in gehoorsaamheid en in die lewe van Henog, sien ons geloof wat in sy verhouding met God uitgeleef word. ‘n Groot deel van hoofstuk fokus ons aandag op Abraham, sy geloof word gedemonstreer deurdat hy sy vaderland verlaat het vir ‘n onbekende toekoms, op God se belofte vertrou het, selfs al is sy geloof getoets en al het dit onmoontlik gelyk dat God sy belofte kon vervul, hy het moedige vertroue en hoop getoon terwyl hy voorberei het om te doen wat glad nie sin gemaak het nie. Toe Abraham geen ander rede gehad het om te glo dat God dit nog sou doen nie, behalwe om oortuig te wees van God se karakter, het hy steeds hoop gehad.

Die apostel Paulus beskryf Abraham se geloofslewe so goed in Romeine 4 wanneer hy sê:

Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.” (v. 18–21).

Voel jou geloof swak?

Het jy al so lank gewag dat God antwoord of optree dat dit gelyk het asof Hy vergeet het? Vra Hy jou om ‘n stap in gehoorsaamheid te neem en dit lyk net of dit glad nie vir jou sin maak nie?

                                                                                                                                 Hou vandag moed. Ons het die geloofsreis van Abraham bestudeer en wees bemoedig! Abraham se God is vandag nog ons God. Hy het nie verander nie. Hy is steeds die getroue Vader wat sy verbondsbeloftes nakom. Hy vervul sy planne en voornemens vir sy mense, en Hy is steeds in staat om oneindig meer te doen as wat ons ooit kan vra of ons kan voorstel.

Abraham het verstaan dat om in die hoop van God se belofte te lewe, selfs wanneer dit onmoontlik gelyk het, beter was as om daarsonder te lewe. Hy het gekies om in hoop te lewe eerder as om toe te gee aan twyfel, wanhoop en teleurstelling.

Ons het daardie selfde keuse.

Een ander aspek van Abraham se geloof waaruit ons kan leer, is in die verse in Hebreërs 11 opgeneem: Hy het geloof-gevulde hoop gehad in die wete dat hierdie aarde nie sy tuiste was nie. Selfs die Beloofde Land was nie sy uiteindelike bestemming nie. Abraham het uitgesien na sy hemelse woning wat God belowe en voorberei het, en dit het by verre swaarder geweeg as enige aardse seën of vervulde belofte wat hy in sy geloofsreis op aarde ontvang het.

Ons het ook ‘n hemelse woning. Daar kom ‘n dag wanneer God ons óf sal neem om vir ewig by Hom te wees, óf anders sal die Here terugkeer soos belowe en sal Hy sy koninkryk inlei in ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Ons woning, waar daar nie meer siekte of skeiding, sonde of dood, trane of hartseer sal wees nie. Geen pyn of eensaamheid meer nie, geen twyfel of wanhoop nie.

Ons geloof sal sigbaar gemaak word, ons sal Jesus van aangesig tot aangesig sien en ons sal vir ewig by Hom wees. Dit is ons hoop.

Terwyl ek dink aan die hoop van die seker toekoms wat belowe word aan almal wat Jesus liefhet en volg, dink ek aan die miljoene vervolgde broers en susters oor die wêreld heen vandag wat aan hierdie hoop vasklou. Wanneer geloof in Jesus hulle hul gesinne, hul vryheid of hul lewens kan kos, wat ‘n getuienis is dit tog dat hulle sterk staan ten spyte van alles wat hulle moet verduur. My geloof word deur hulle s’n versterk terwyl ek hulle verhale lees en dit in gebed aan die Here opdra. Hy is hulle hoop.

En so, liewe vriendin, bid ek vandag en vra ons God van hoop om ons harte te versterk en te bemoedig, terwyl ons deur geloof wandel, met ons oë gevestig op Jesus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse