Geanker

Geanker

Ebos Aifuobhokhan

Ek het in Januarie 32 jaar oud geword en ek het al deur ongelooflike baie moeilike dinge in my lewe gegaan. Dinge wat ander mense wat tien jaar ouer as ek is, sal laat sidder as gevolg van die omvang daarvan. Somtyds spot ek met myself en noem myself ‘n jong mens met ‘n ou siel. Daar was oomblikke wat ek vir God gesê het dat ek te jonk is om hierdeur of daardeur te gaan. Wat my egter gesond van gees gehou het, wat my gehelp het om aan te gaan toe ek net vir myself jammer wou wees, was die feit dat ek een dag sou wakker word en dit alles sou verby wees. In plaas van vrae, sal ek antwoorde hê.

Hierdie hoop was nie geanker in die feit dat ek myself kon verwyder uit watter storm ek ookal op daardie oomblik was nie. Nee, daardie hoop was geanker in die feit dat ek ‘n kind is van God, die Een aan wie alle krag in die hemel en op die aarde behoort. Ek is die dogter van Jesus Christus, wat na die aarde toe gekom het, as ‘n mens geleef het, wat nie deur die wêreld oorwin is nie, maar wat die wêreld oorwin het. Dis aan Wie ek behoort. Daardie enkele, ewige feit hou my geanker deur die storms van die lewe.

Hierdie hoop in die persoon van wie God is, wat Hy kan doen, wat Hy gedoen het en wat Hy sal doen, is ‘n anker vir ons siele. Hierdie anker breek nie onder druk nie, hierdie anker is nie mensgemaak nie, dit is nie vandag swak en môre sterk nie. Dit is seker en standvastig. Dit kan vertrou word. Ons God is ‘n skans van krag wat nog nooit geskud is nie, wat nie geskud kan word en wat nooit geskud sal kan word nie.

Jesus het oorwin, om ons onthalwe. Jesus, wat beproewinge, swaarkry en lyding deurgegaan het en oorwin het, Hy is ons anker. In ons storms is ons geanker aan God, wat ons nie kan faal nie. Wanneer ons onsself daagliks aan sy Woord voed, word ons versterk en herinner aan Wie ons geanker is. Ons hoop is in die vervulling van God se beloftes aangaande ons lewens, dus lees ons sy Woord en nader tot Hom deur gebed en in gemeenskap met ander eensgesinde gelowiges.  

Ek het ‘n sewe-maande-oue seun en wanneer ek na die foto’s en videos van hom kyk toe hy net ‘n paar weke oud was, is ek in verwondering oor hoe baie hy gegroei het. Hy groei en hy is sterker omdat hy gevoed is en omdat hy besluit het om te drink toe hy gevoed is. As hy nie gedrink het nie, sou hy nie ophou om my seun te wees nie, maar hy sou nie gefloreer het nie. Dit is dieselfde met ons verhouding met God. Jesus het voor ons uitgegaan en ‘n hoop verseker wat nie geskud kan word nie. As gevolg van ons broosheid as mense, is ons geneig om hierdie hoop te vergeet wanneer die storms van die lewe teen ons vasslaan. Wanneer ons dus daagliks sy Woord lees, word ons herinner aan Wie ons geanker is en dít hou ons hoop lewend.

Mag jou hoop altyd lewend wees.  

Vrede,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse