Die Aanbreek Van ‘n Nuwe Lig
Haley Crabtree
Iets waarvan ek regtig hou, is die eerste daglig in die vroeë oggend. Of ek nou lekker geslaap het of die hele nag rondgerol het, daardie eerste lig wat in my kamer skyn dui aan: dit is tyd om te gaan. Somtyds beteken dit ek moet opstaan en gereed maak vir werk. Afhangende van die dag, bring dit nie altyd vreugde nie. MAAR daar is baie dae waar daardie eerste lig my herinner aan die dankbaarheid dat ek wakker gemaak is en dat ek nou die gawe van hierdie dag kan beleef.
Wandel in die Donker Vallei
Een van my gunsteling gedeeltes in die Skrif is die lied van Sagaria, spesifiek Lukas 1:78-79. Ek het dit in my Bybel onderstreep en ‘n hartjie langsaan gemaak op die dag wat dit my hart aangeraak het. Ongeveer vyf jaar gelede het ek deur ’n lang en moeilike seisoen gegaan waar ek my geloof bevraagteken het. Ek het gevoel my lewe is die perfekte voorbeeld van Psalm 23:4, waar Dawid skryf: “Selfs al gaan ek ook deur donker dieptes…” My lewe het so donker gevoel. Ek was in ’n diep vallei, oordek deur ’n donker skaduwee, en my gebed en grootste verlange gedurende daardie tyd was om by die bergtop uit te kom waar die lig weer op my gesig sou skyn. Daar was dae wat ek my eers kon indink dat ek weer die lig sou ervaar nie.
God het egter in sy liefdevolle goedheid en genade saam met my deur daardie donker vallei gestap. Nadat ek baie harde, maar goeie lesse geleer het, het God my sagkens uit die vallei gelei. Ek sal nooit die oomblik vergeet toe ek by die bergtop uitkom en die lig my gesig tref en my siel vul nie. Dit het my verfris, versterk en hoop gegee om aan te hou beweeg. Dit was die moeilikste seisoen van my lewe, maar dit het my geloof op maniere hernu wat ek nooit kon droom nie.
Die Deurbreek van Lig
God is genadig om saam met ons deur enige vallei waarin ons onsself bevind, te wandel. Hy verlaat of versaak ons werklik nooit nie, selfs al voel dit so. Die feit dat ek nou aan die ander kant van daardie seisoen is en hierdie woorde kan skryf, is ’n getuienis van hoe lief God vir elkeen van ons is en hoe baie Hy vir ons omgee. As jy ooit in ’n donker seisoen is, hou aan om vorentoe te beweeg. Deel dit met jou naaste vriende en familie. Vra hulle om hul hande op jou te lê en vir jou te bid. Moenie die vyand toelaat om jou in die donkerte te hou nie!
Toe Sagaria gesê het: “Danksy die genadige ontferming van ons God. Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.” (Lukas 1:78-79), het hy aan God se volk gesê dat die 400 jaar van stilte van God uiteindelik tot ’n einde kom en dat die môrelig, Jesus, begin skyn het. Ek kan my voorstel dat sommige van die Israeliete ook gedurende daardie 400 jaar van stilte hul geloof bevraagteken het—net soos ek 2,000 jaar later. Maar God het nooit opgehou om hulle op te soek nie en Hy het nooit opgehou om getrou te wees nie. Wat vir hulle onmoontlik gelyk het, was alles deel van sy plan.
Die Skynende Lig
Jesus het die môrelig geword wat op ’n wagtende en hoopvolle volk deurgebreek het en hul lewens met lig gevul het. Hy was en is vir ewig die môrelig wat ons genadiglik vergifnis en verlossing en ewige lewe gebring het vir almal wat in Hom glo. Die dag toe Hy uit ’n maagd gebore is en in ’n krip neergelê is, was die dag toe die res van die skepping uitgeroep het: “Dit is tyd om te gaan.”
Mag ons ons gesigte na die Lig draai gedurende hierdie Adventseisoen en met vreugde vorentoe wandel, wetende dat die dag aangebreek het in ’n wêreld wat vroeër in donkerte gewandel het.