Ek is lief vir die Here. Ek is so dankbaar dat Hy sy karakter aan ons geopenbaar het deur sy Gees en deur sy Woord. Mag ons nooit vergeet watter seën dit is om die hart van God intiem en persoonlik te ken nie. Hy is my God en Hy is jou God.
Dit is belangrik om God se karakter te ken. Wanneer jy vertroue het in wie God is, kan jy standvastig bly in jou huidige situasie, met die volgende wete:
- Hy is ‘n God wat jou nooit sal begewe of verlaat nie (Deuteronomium 31:8; Matteus 28:20).
- Hy is God bo alles en oor alles. Hy is soewerein oor jou situasie (Kolossense 1:15-20).
- Hy is ‘n God vir wie niks onmoontlik is nie (Lukas 1:37).
Waarhede soos hierdie versterk ons geloof en laat dit groei, wy ons harte opnuut aan gebed en fokus ons gedagtes op die ewige (dit wat rein en mooi is, soos genoem in Filippense 4:8).
In vandag se gedeelte sien ons hoe dat Joël by die volk van God pleit om na Hom terug te draai sodat hulle gered sal word – nie net gered nie, maar ook tot in hul volheid herstel word. Wanneer ek hierdie gedeelte lees, sien ek ‘n God wat vol genade is, konsekwent in liefde en Een wat ‘n passie vir sy mense het. Verder word ek daaraan herinner dat net God gebrokenheid kan herstel.
Onlangs het die Here aan my geopenbaar dat nederigheid en bekering voorlopers tot herstel is. Wanneer ons deur gebed en tyd in sy Woord terugkeer na die teenwoordigheid van die Here, ons behoefte aan Hom erken en te vra vir sy vergifnis vir ons sondes, laat ons God toe om sy herstelwerk te doen. Vir my is herstel God se goddelike werk om my gedagtes met sy waarheid te vernuwe, my hart met sy wil in lyn te bring en my siel met sy vreugde te herversadig.
Wanneer ons kies om weer in die volheid van God se teenwoordigheid te lewe, neem die goeie, die ware en die mooi hul plek in – want dit is wie God is. God kan enigiets doen met ‘n hart wat ten volle oorgegee is en aan Hom toegewy is.
Liewe vriend of vriendin, ek wil jou herinner dat God die God van herstel is. Hy wil nie hê jy moet in veroordeling en skaamte lewe nie. Hy het gekom om jou vreugde te herstel, jou identiteit te bevestig, jou siel te versterk en jou in sy huis te vestig (1 Petrus 5:10-11). Wanneer die vyand jou aan jou verlede herinner, herinner hom hardop aan die karakter van God.
- God is vol genade; Sy onverdiende guns is op jou lewe (Efesiërs 1:6).
- Sy ontferming is elke dag nuut (Klaagliedere 3:22-23).
- Hy vergeld jou nie volgens jou sondes nie (Psalm 103:10).
- Hy het jou sondes van jou geskei so ver as wat die ooste van die weste is (Psalm 103:12).
- Jou oortredinge is uitgewis (Jesaja 44:22).
- Niemand wat by God skuil, sal veroordeel word nie (Psalm 34:23).
Maak nie saak waar jy jou op jou geloofsreis bevind nie, jy kan na die Here draai. Duisend jaar is soos ‘n dag en ‘n dag is soos duisend jaar in die huis van die Here (2 Petrus 3:8). Een oomblik saam met die Here is kragtiger as baie oomblikke van sonde. Dit is omdat Jesus reeds sonde, vir jou, aan die kruis oorwin het (Kolossense 2:14). Hy is in staat om jou te red en elke deel van jou lewe te verlos wanneer jy jou geloof in Hom plaas. Hy het jou lief met goddelike, onvoorwaardelike liefde.
Wandel nou in die vryheid wat kom van die wete wie God is.