‘n Heilige Afkoms

‘n Heilige Afkoms

Grace Ann Hopkins

Daar is tye in my lewe wat ek eensaam, angstig en hartseer voel. In party seisoene ervaar ek hierdie emosies sterker as in ander. Ek dink die hele wêreld het hierdie emosies al intensief ervaar vanweë die krisisse waardeur ons wêreld al gegaan het en steeds gaan. Dit is niks nuuts nie, want elke geslag op hierdie aarde beleef die pyn van eensaamheid, angstigheid en hartseer, aangesien hierdie ‘n gebroke wêreld is. Dit is egter vir my belangrik om te beklemtoon dat dit allesbehalwe die doel is waarvoor ons geskape is.

Toe God ons geskape het, het Hy dit met ‘n opregte begeerte en vreugde gedoen. Hy het ‘n diep verlange in ons geplaas vir ‘n intieme verhouding, vrede en vreugde. Die bedoeling was dat hierdie hunkering primêr en volkome deur ‘n verhouding met God bevredig sou word. Toe die mensdom gefaal en teen God gesondig het, is ons van Hom geskei. Nou kan ons deel hê aan intimiteit met God deur die bloed van Jesus, die vleesgeworde God wat die volle prys vir ons sondes aan die kruis betaal het. Daarom vertel volgelinge van Jesus ‘n ander verhaal; hul storie eindig nie met pyn nie, maar begin met hoop. Wat geloof in Jesus anders maak, is nie dat die pyn van die wêreld verdwyn nie, maar dat gelowiges goddelike krag in hulle het en dat God altyd saam met hulle is, hul verlos van pyn en hoop gee vir ‘n glorieryke toekoms.

Die Woord van God is kragtig. Ek is in verwondering oor die woorde van 1 Petrus 4, wat deur God geïnspireer is. Hy sê vir ons dat ons nie net volle toegang tot Sy teenwoordigheid deur gebed het nie, maar dat ons gemaak is vir gemeenskap met ander sodat ons Sy liefde op ‘n tasbare wyse kan ervaar terwyl ons op hierdie aarde wandel. Dít is die kerk, en “kerk” is nie ‘n gebou nie, maar ‘n familie wat deur die bloed van Christus verbind is; dit is Christus se verheerlikte liggaam. Wanneer ek instap by ‘n plaaslike byeenkoms van gelowiges wat God se Woord liefhet, daarvolgens leef en gevul is met die Gees van liefde – die Gees van God – voel daardie mense dadelik soos my familie. Ek ervaar vrede en hoop, want ek weet ek is nie alleen in die geveg vir die waarheid, lig en lewe nie.

As kind het ek keer op keer gesien hoe medegelowiges na my gesin se behoeftes omsien. Toe elkeen in ons gesin siek geword het, was daar maaltye in ons huis vir ‘n week. Toe ons verblyf nodig gehad het, het my ouers iemand by ons kerk gebel. Toe ons hulp nodig gehad het om te trek, was mense van ons kerk gewillig om bystand te verleen. Toe ons familie deur ‘n moeilike tyd gegaan het, het ons kerk ons omring, in ons fisiese behoeftes voorsien en vir ons gebid. Dit is inderdaad waarvoor ons geroep word: gebed, liefde, gasvryheid, diens en bemoediging, van een na die ander en alles tot Hom, as antwoord op Sy groot liefde.

Hoewel die kerk ‘n lewendige bron van lewe en gemeenskap kan wees, is geen kerk volmaak nie, want geen mens is volmaak nie. Baie mense is al seergemaak deur kerkmense wat beweer dat hulle God liefhet. As jy al sulke seer ervaar het, wil ek hê jy moet weet dat menslike gedrag en sonde nie die liefde en omgee wat God vir jou het, ondermyn nie. Jou gevoelens is geldig en verdien om verwerk te word, want jy verdien om gehoor en met waardigheid en liefde behandel te word. Ek wil ons almal ook aanmoedig om intensief na God te soek, want almal wat God ken, ken liefde. Mag God vir ons die krag gee om diegene te vergewe wat ons seergemaak het en aan almal die goedhartigheid te betoon wat God aan ons bewys het.

Selfs terwyl ons van kerkwonde genees of met meningsverskille in die kerk worstel, is die belangrikste ding dat gelowiges gesamentlik fokus op die ewigdurende waarheid dat God geskep het, God liefhet en God red. Die bloed en die liefde van Christus is die sterkste krag wat gelowiges oral aan mekaar verbind. Elkeen het ‘n plek in die Liggaam van Christus waar hulle behoort, met God as Vader oor almal. Ek bid dat die Here jou sal lei na ‘n plek waar jy deel kan wees van so ‘n koninklike, heilige afkoms. Jy is daarvoor gemaak en verdien dit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs