Ek weet nie van jou nie, maar ek is ‘n tipe-A eersgeborene en boonop ‘n oud-onderwyseres. Wat beteken dit? Dit beteken dat ek daarvan hou om dinge die eerste keer reg te doen. Ek is ‘n oorpresteerder wat myself tot hoë standaarde verbind. Jy kan jou dus voorstel hoe moelik dit vir my dwarsdeur my lewe was om te besef dat ek nooit my neiging om te sondig sal ontgroei nie.
Hoewel ek wens dat wanneer ek sondig, ek om vergifnis kon vra en daardie sonde permanent in die verlede kon los, is dit nie hoe werk nie. My sondige natuur (hoewel ek nou deur genade verlos is) sal my altyd laat sondig aan hierdie kant van die hemel. Dit is waarom ek bekering voorop in my hart en gedagtes moet stel. Ek het dit daagliks nodig, en jy ook.
Herken en Hardloop
Bekering behels meer as om bloot jammer te sê of om hartseer te wees dat jy uitgevang is. Bekering is die daad om jou sonde te herken, in jou spore te stop, jou sonde teenoor God te bely, om te draai en na die genade en liefde van Christus toe te hardloop. In bekering is daar ‘n vennootskap tussen mens en God. Ons moet voor God kom staan in nederigheid en opregte berou vir ons sonde. Dit beteken dat ons nie verskonings of enige vorm van regverdiging moet maak vir wat ons gedoen het nie. Ons besef dat ons sonde ‘n oortreding voor ‘n heilige God is en dat ons sonde ‘n verbreking in ons verhouding met Hom teweegbring. Bekering is nie iets wat iemand anders namens ons kan doen nie of wat sommer deur ‘n godsdienstige praktyk vergoed kan word nie. Dit is daadwerklike verandering van hart, verstand en optrede.
Die Skrif sê dat die oomblik wat ons God om vergifnis vra, ons “sonde uitgewis sal word” sodat “tye van verkwikking van die aangesig van die Here kan kom” (Handelinge 3:19-20). Dit is ‘n belofte. Sodra ons bekering soek, hoef ons nie aan te hou werk vir God se vergifnis nie. Ons sonde is weg. Dit is uitgewis. Ons word gelaat met onmeetbare genade en die oproep om te wandel in vergifnis, vryheid en ‘n nuwe manier van lewe.
Hierdie is die wonder van die Evangelie. Danksy Jesus se lewe, dood, graf en opstanding, is aan ons wat ver van God af was die geleentheid gegee om naby gebring te word. Ons kan ‘n nuwe lewe en ‘n herstelde verhouding met Christus hê. God is immers geduldig en wil hê dat almal tot bekering kom. Hy smag daarna dat sy kinders wegdraai van hul sondige weë en draai na die Seun, die Messias, Jesus Christus.
Verlos en Herlei
Hierdie vergifnis duur voort dwarsdeur ons verhouding met Jesus, want ons sondige natuur sal by ons bly aan hierdie kant van die hemel. Wanneer ons ons geloof in Jesus plaas, word ons van die straf en mag van sonde verlos. Ons sal egter steeds met sonde worstel. Maar dit is waarom Jesus die Heilige Gees gestuur het om in alle gelowiges te woon. Dit is die werking van die Heilige Gees wat ons oortuig en lei om ons sonde te herken vir wat dit is in die lig en die groot liefde en opoffering van Jesus. Hoewel ons nie volmaaktheid sal bereik totdat ons eendag in die teenwoordigheid van Christus in die hemel is nie, weet ons dat ons die kragtigste hulpmiddel ontvang het om sonde te beveg: die Heilige Gees.
Tot dan weet ons dat ons Jesus se troon met vrymoedigheid kan nader, wetend dat ons sonde nooit te veel is vir sy genade nie (Hebreërs 4:16). Dit beteken nou wel nie dat ons maar kan aanhou sondig sonder berou omdat ons ‘n “Kom gratis uit die tronk”-kaartjie deur Christus se genade ontvang nie (Romeine 6). Dit beteken eerder dat ons nie daagliks in vrees hoef te lewe dat ons sonde ons permanent van Christus se liefde sal skei nie (Romeine 8:31-39).
In watter areas van jou lewe het jy jouself al gevang jou sonde regverdig, minimaliseer of verskoon? Neem dit vandag na Jesus toe. Bekering en genade is elke dag beskikbaar. Vandag kan die dag wees om ‘n nuwe tree vorentoe te gee in jou wandel met Jesus – een vol vryheid en vrymoedigheid.