Ek is al vir ‘n geruime tyd ‘n skrywer vir die Love God Greatly bediening. Dit is vir my ongelooflik hoe bevoorreg en geseënd ek is om in die Skrif te delf, verskillende verse te bestudeer en die kwesbare dele van my hart te deel. In al hierdie jare is hierdie die eerste keer ooit dat ek weer ‘n vers ontvang waaroor ek vroeër geskryf het. Ek moet erken dat ek selfs na al hierdie jare steeds worstel met God se besluit. Ek wil graag met julle my dagstukkie oor Jona 4 deel wat ek op 3 September 2018 geskryf het. Dit bring steeds trane in my oë. Dit is steeds ‘n hartverskeurende stryd. Tog is God getrou om my te troos, te kalmeer en aan te moedig om elke dag vorentoe te gaan.
“Hy het tot die Here gebid en gesê: ‘Ag, Here, ek het geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde, U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.'”
Jona 4:2
Dit was ‘n koue wintersdag toe ek die brief ontvang het. Dit was in die dae toe mense nog briewe geskryf het. Daar was geen terugsendingsadres nie – geen aanduiding wie dit geskryf het nie. Ek het my oë vlugtig oor die brief laat gaan totdat die volgende woorde skielik my aandag getref het: “God het my vergewe en ek bid jy sal ook.” My hart het stil gaan staan. Ek het onmiddelik besef van wie die brief is en waaroor dit gaan.
Ek was dadelik gevul met woede. Ek kon dit nie glo nie. Hou durf hy! Hoe het hy gedink dat ‘n eenvoudige brief hom sou verskoon van jare se seer, pyn en mishandeling? Gou het ek besef dat my woede nie net op Hom gerig was nie.
Ek het woedend teenoor God uitgeroep. Hoe kon U, Here?!? Hoe kon U die man vergewe wat my verkrag het? Hoe kon U hierdie man my ‘broer’ in Christus maak? Ek haat hom, Here, so U moet hom ook haat! Waar is my geregtigheid???
Ek het siek gevoel. Vir dae lank het ek woedende, aggressiewe trane gestort. Ek het gekerm. Ek was stuurs. Ek het ver van die kerk af weggevlug. Die woorde van die Bybel het hol en leeg geklink.
Ek was Jona.
“God het nie sy seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.”
Johannes 3:17
Die ironie is dat ek die vergifnis van my sonde beskou het as die bewys van God se barmhartige liefde vir my, en tog het ek sy sonde beskou as regverdiging vir God se toorn teenoor hom. Ek wou ‘n God in my eie beeld hê – Een wat my vrylik vergewe vir enige iets, maar wat my vyande erg straf vir alles. Maar dit is nie die God van die Bybel nie.
Dit is God se hart vir alles mense – vir alle sondaars – dat nie een persoon die ewigheid in die hel, geskei van Hom, sal deurbring nie. God wil deur die verlossing van sy Seun, Jesus, diep met elkeen van ons in verhouding wees. God stort sy onbeperkte barmhartigheid en medelye uit en wil nie hê dat enige een moet omkom nie. Van die presiese oomblik af wanneer iemand Jesus aanneem, ontvang hulle nie net sy vergifnis nie, maar ook sy perfekte regverdigheid. Jesus maak ons reg met God, op een oomblik en vir ewig. Dit is die evangelie.
“Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,”
Psalm 103:8-10
Ek is skaam om te erken dat ek, in my trotse woede en bitterheid, besluit het dat ‘n persoon nie waardig was vir God se vergifnis en barmhartigheid nie. My woede het die waarheid van God se Woord vertroebel. Ek het geworstel om die lig van die evangelie van Jesus te sien.
Toe Jesus, ons Goeie Herder, die nege en negentig skape gelos het om die een verlore skaap te soek, het dit onverstandig en roekeloos gelyk… tensy die een verlore skaap jy is. Jesus se passievolle strewe na sondaars beskryf wie Hy is. Daardie selfde passie moet God se kinders ook beskryf.
“Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”
Lukas 19:10
Selfs in my pyngevulde ongehoorsaamheid, het die Heilige Gees my sonder ophou gesoek. Sy oorweldigende liefde het my na Hom toe teruggetrek. Die sleutel tot ware vergifnis in my lewe was om nederig na te dink vir hoe baie God my vergewe het. Om my te keer om neer te sien op my vyande, moet ek aanhou om na die kruis te kyk.
Wanneer ek myself sien as beter as iemand anders, onthou ek dat my regverdige toestand voor God uitsluitlik gebaseer is op Jesus en wat Hy gedoen het, nie op enige iets wat ek gedoen het nie.
Wanneer ek nadink oor Jesus se folterende offer aan die kruis, onthou ek dat sy offer nie net vir my was nie, maar vir almal, insluitende diegene wat teenoor my sondig.
Wanneer ek aan die evangelie dink, onthou ek dat die grond gelyk is aan die voet van die kruis. Niemand is God se onuitputlike liefde waardig nie, en tog bied Hy dit gratis aan almal.
“want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.”
Psalm 103:11-12
Die dag sal kom wanneer Jesus terugkeer en Hy diegene wat Hom verwerp het, sal oordeel. Daardie dag is egter nog nie hier nie. Tot dan moet ons dus in liefde volhard…en heelhartig liefhê!
Ware Christelike liefde kom nie maklik nie. Dit is ‘n opoffering wat die wêreld nooit sal verstaan nie. As dit ons niks gekos het om mense lief te hê en hulle te vergewe nie, sal ons nooit waarde heg aan die opofferende liefde wat Jesus vir ons het nie. Hoe meer ons van Jesus het, hoe meer het ons lief soos Jesus.
Liefde is nie net eenvoudig wat God doen nie. Liefde is wie God is. Liefde offer Homself opofferend sonder diskriminasie, sonder huiwering en sonder oordeel.
Jesus het sy Vader en sy mense liefgehad tot die punt van die dood. Daar is niks wat Jesus nie sou opoffer in die naam van liefde nie.
Daar is geen plek waar Jesus nie sal gaan nie.
Daar is niemand met wie Jesus onwillig is om mee kontak te maak nie.
Daar is geen beperking op die hoogtes en dieptes waartoe Jesus sal gaan om die verlorenes te red nie.
Jesus het gekom om te red!
Wie het jy besluit is nie die liefde, barmhartigheid en vergifnis van Jesus Christus waardig nie? In watter situasie of omstandigheid benodig jy ‘n hart wat liefhet soos Jesus liefhet? Hoe kan ons vir jou bid terwyl jy daarna streef om God se geskenk van genade aan elke persoon wat Hy kies, met ope arms aan te neem?
Vrede en genade vir jou,