Durf Die Toekoms Aan Met Gebed

Gelukkig het koninklike families ‘n paar eeue gelede die mag verloor om iemand dood te maak omdat hulle verkeerd aangespreek is. Daar bestaan egter steeds protokolle om die koninklike familie in Brittanje te ontmoet. (Ek is seker dit geld ook in ander lande met koninklike families.) As jy Koning Charles ontmoet, moet hy as “U Majesteit” aangespreek word en die protokol is dat hy die gesprek aanknoop, lei en afsluit. As jy nie hierdie protokolle volg nie, is die ergste wat sal gebeur dat sy sekuriteitspan tussenbeide tree en jou uit sy teenwoordigheid verwyder.

Ons weet dat Ester deur die koning gekies is om sy koningin te wees. In werklikheid was sy maar net een van die talle vroue in sy lewe. Toe Mordegai ‘n beroep op Ester gedoen het om voor die koning te verskyn en die Jode se saak te bepleit, het sy die koning ‘n maand laas gesien! Sy het geweet sy moes hom met wysheid benader. Sy kon nie net inbars en haar versoek rig nie.

Haar lewe sou in gevaar wees as sy nie met die koning praat nie, maar om met hom te praat, kon ook haar lewe in gevaar stel indien hy aanstoot neem. Sy was regtig in ‘n moeilike posisie. Al die Jode se lewens het van haar afgehang. Wat ‘n oorweldigende verantwoordelikheid!

Daarom het sy gewag sodat sy eers vir drie dae kon vas en bid. Sy het haar kamerpersoneel gevra om dieselfde te doen en ook vir Mordegai om al die Jode in Susa bymekaar te kry om saam met haar te vas en te bid.

Ester het geweet haar God sou die pad voorberei. Hy kon vir haar wysheid gee en maak dat die koning haar goedgesind is. Dit het Ester in staat gestel om rustig te wees in die wete dat God alles kan doen, en dat geen plan van Hom onuitvoerbaar is nie (Job 42:2). Sy het tyd saam met die Koning van Konings deurgebring voordat sy voor die koning verskyn het.

Bring Eers Tyd Saam met God Deur 

Het jy al ooit ‘n moeilike gesprek gehad wat onvermydelik was, maar jy het nie geweet hoe dit sou verloop nie? Miskien moes jy met ‘n ouer familielid praat omdat hulle ekstra hulp benodig. Miskien was dit iemand wat aanstoot geneem het oor iets wat jy gesê het. Dit kon ‘n spanningsvolle tyd wees, veral as jy moes wag.

Wat my betref, ek vermy konflik so ver as wat ek kan. As ek weet daar sal ‘n ongemaklike of moeilike gesprek gevoer moet word, is ek geneig om dit so vinnig moontlik agter die rug te probeer kry. Soms, in my dwaasheid, val ek sommer met die deur in die huis sonder om eers vooraf daaroor te bid.

Ester het egter groter wysheid aan die dag gelê. Dit was nie asof sy probeer het om tyd te wen in die hoop dat die probleem sou weggaan nie. Sy het gewag en na die Een toe gegaan wat “tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en verstand aan dié wat insig het” (Daniël 2:21). Sy het tyd saam met God deurgebring om herinner te word wie Hy is en Hom te vra om die weg voor te berei.

Wat doen jy in moeilike situasies? Keer jy in jouself en probeer self dinge uitpluis, of gaan jy in gebed na God toe? Hoe gemaklik is jy om ander te vra om vir jou te bid? Soms kan ons so maklik vir ander bid maar sukkel om met ons eie behoeftes en versoeke na God te gaan. Dit verg moed om kwesbaar te wees en te erken ons is nie in beheer nie, dat ons op God moet vertrou en ander vra om te bid.

Vrede wat Deur Gebed Kom   

Ek het ‘n paar wonderlike Christenvriendinne wat nie huiwer om gereeld te vra nie: “Waarvoor kan ek vir jou bid?” Ek het al die voordeel ervaar van ‘n klomp godvresende mense wat vir my bid. Verlede jaar het ek borskanker gehad. Gelukkig is dit vroeg opgespoor en die kanker kon deur chirurgiese behandeling, chemoterapie en bestraling verwyder word voordat dit versprei het.

My behandelingsreis het baie verrassings opgelewer. Maar die vrede wat God my gegee het, het my verbaas. Dit het alle verstand te bowe gegaan, en my hart en gedagtes bewaar (Filippense 4:7). Ek het geweet hoeveel liefde saam met my gegaan het met elke hospitaalbesoek en dat my toekoms veilig was in sy hande. Ek sal altyd dankbaar wees teenoor diegene wat my en my gesin met hulle gebede deur die moeilike dae help dra het.

Ek is ook bemoedig deur Corrie Ten Boom se woorde. Sy was ‘n Christen wat gevange geneem en na ‘n konsentrasiekamp gestuur is omdat sy Jode gehelp het terwyl Nederland gedurende die Tweede WêreIdoorlog beset was. Sy het gesê: “Moet nooit bang wees om ‘n onbekende toekoms aan ‘n bekende God toe te vertrou nie.”

Ons hele toekoms is onbekend. Ons kan met sekerheid ons toekoms aan God toevertrou; Hy is nie net in beheer nie maar ook vol liefde, genade en barmhartigheid. Dit beteken nie dat al ons dae maklik gaan wees nie. Trouens, ons word gewaarsku dat daar moeilike dae gaan wees, maar Hy het belowe om ons nooit te verlaat, ons nooit in die steek te laat nie (Deuteronomium 31:6; Hebreërs 13:5). Ons het hoop vir die toekoms, om die ewigheid saam met Hom deur te bring.

Dank en prys God vir wie Hy is en dat ons dae veilig in sy hande is. Reik uit na ‘n vriend of vriendin en vra: “Waarvoor kan ek vandag vir jou bid?” Bring dan tyd voor die genadetroon deur om vir hulle te bid.

Julie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs