Die Gawe van Samekoms

Die Gawe van Samekoms

Katie Shott

Onlangs het hierdie gesegde by my opgekom, “Jy waardeer nie wat jy het totdat dit weg is nie,” en dit het my laat dink oor dinge in die lewe wat ons soms as vanselfsprekend aanvaar.

Dit is moeilik om te glo dat alreeds drie jaar verloop het sedert die begin van die Covid-19-pandemie wat ons wêreld kom verander het, soveel meer as wat ons ooit kon dink. Daar was baie dinge wat verander het of heeltemal tot stilstand gekom het toe ons ingeperk was en alhoewel ons almal op verskillende maniere moes aanpas, oorkom of ly, het een ding vir baie van ons baie duidelik geword: Ons is geskep vir gemeenskap! Die gevolge van isolasie word vandag steeds in die samelewing gevoel aangesien ons van familie en vriende moes wegbly. Vir baie was die enigste interaksie van aangesig tot aangesig deur ‘n televisie- of rekenaarskerm vir skool, kollege, werk en aanlyn eredienste.

Ek onthou die eerste Sondag wat ek op die rusbank gesit het, koffie in die hand en wag vir die lewendige aanlyn erediens van die kerk om te begin. Daar was ‘n nuwigheid en nogal handig. Ek moes nie vroeg opstaan om by die kerkterrein te wees as verwelkomingskomiteelid nie, of na die diens agterbly en opruim na die tee en koffie bedien was nie. Ek was dankbaar dat ek steeds op een of ander manier, selfs op ‘n afstand, kon inskakel met die familie van medegelowiges waarmee God my geseën het om deel van te wees.

Dit was egter nie lank voordat ek besef het dat as ons die keuse sou hê, “rusbankkerk” nie goed is vir die siel nie. ‘n Virtuele byeenkoms was geen plaasvervanger vir die teenwoordigheid saam met my broers en susters om ons Vader te aanbid, saam Sy lof te besing, vir mekaar en ons wêreld te bid, uit Sy Woord te hoor, aan gemeenskap deel te neem en deur die Gees aangespoor te word oor hoe ek sou reageer nie. Totdat ons nie meer kon ontmoet nie, het ek nooit ten volle besef watter enorme seën dit was om te kan “kerk toe gaan” en die Godgegewe gawe wat dit is om deel te wees van ‘n plaaslike kerk, te aanbid, te dien, te gee en te groei in gemeenskap.

Wat ‘n klein blik het dit nie gegee in die konstante werklikheid van die duisende, selfs miljoene, van ons vervolgde broers en susters wat smag om saam met ander gelowiges te kan vergader, om in veiligheid te aanbid en gesamentlike kameraadskap te geniet, maar hulle woon op plekke waar hierdie sou veroorsaak dat hulle gevange geneem word of selfs hul lewens verloor.

Kom ons staan stil in gebed dat hulle versterk sal word in hulle geloof, aangemoedig deur die teenwoordigheid van Jesus by hulle en dat hulle vrymoedigheid van gees en moed sal hê om voort te gaan om die lig en hoop van Christus in donker plekke te laat skyn. Ons gebede gaan waar ons nie kan nie en daarom staan ons nou saam met hulle.

Die kerkfamilie waarvan ek deel is, het Sondagoggende en -aande weer begin byeenkom en daar is lesse uit inperking wat God ons geleer het oor die gawe van bymekaar kom en die voorreg en verantwoordelikheid wat dit is om die plaaslike kerk by te woon, te behoort en te dien. Dit is nie ‘n opsionele ekstra vir ‘n gelowige nie; die Christelike geloofslewe was nooit bedoel om alleen uitgeleef te word nie.

Die Bybel gebruik beskrywende woorde om ‘n skets te skep van die liggaam, ‘n gesin, ‘n leër, lewende stene wat saamgebou word, om ons te herinner dat God ‘n volk na Hom toe geroep het. Om deel te wees van ‘n plaaslike kerk is God se goeie plan vir Sy kinders op aarde; ons kan dit regdeur die Nuwe Testament sien, selfs soos die Hebreërsskrywer in ons gedeelte vandag ons daaraan herinner dat ons nie “van die samekomste van die gemeente af wegbly ” of die belangrikheid, voordeel en seën van gemeenskap met ander gelowiges moet verwaarloos nie.

“Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom. ” – Hebreërs 10:24–25

Die dag van Christus se wederkoms kom nader. Om in die lig van Jesus se wederkoms te lewe, behoort te bepaal wie ons is en hoe ons leef. Om saam te kom om te aanbid behoort vir ons ‘n voorsmakie van die Hemel te wees, die toekomstige samekoms van God se volk wat uit elke stam, taal, volk en nasie in perfekte harmonie vergader.

Jy dink dalk, “Wag ‘n oomblik. Dinge is vêr van perfek in die kerk waaraan ek behoort.” Miskien is dit om hierdie rede dat jy opgehou het om gereeld kerk by te woon; dalk is jy deur ‘n medegelowige gewond, in die steek gelaat deur ‘n pastoor of het ‘n seer, negatiewe ervaring gehad en is dit makliker om weg te bly. Dit is ‘n moeilike situasie, en ek sal nie onsensitief wil optree of hierdie las as lig afmaak nie. Die kerk bestaan uit onvolmaakte sondaars, wat vereis dat ons op God se krag staatmaak om genade, geduld en vergifnis te betoon. Sommige mense is eenvoudig moeilik om lief te hê. (Laat ons, deur God se genade, nie een van daardie mense wees nie!)

Gelukkig het God vir ons die Heilige Gees gegee en die vrugte wat Hy in ons lewens voortbring, as ons in pas met Hom bly, rus Hy ons toe om hierdie uitdagende situasies te hanteer. Geen kerk is perfek of foutloos nie; probleme daarin is niks nuuts nie. Die apostel Paulus poog, in baie van sy skrywe aan Nuwe-Testamentiese gelowiges, om kwessies, meningsverskille en worstelinge binne die Christengemeenskap aan te spreek.    

Die Bybel gee ons wyse instruksies en duidelike leiding oor hoe om sulke dinge te hanteer, maar dit is so belangrik om te erken dat Jesus, die Hoof van die Kerk, die Een in wie se naam ons bymekaar kom om te aanbid, nooit Sy volk in die steek sal laat, verwerp, of verlaat nie. Hy is die Een wat langs jou wandel om jou te genees en herstel en jou sagkens verder te lei.

Dalk is dit nie jou ervaring van die kerk nie, maar kan daar dalk iemand wees wat jy ken wat met hierdie dinge sukkel? Ons gedeelte in Hebreërs is ook ‘n oproep om mekaar te motiveer en aan te moedig – is dit waartoe God jou vandag roep om te doen? Kan jy aan iemand dink wat lanklaas by die kerk was en die herinnering nodig het dat hulle gemis, waardeer, nodig en geliefd is as deel van God se familie in jou plaaslike kerk? Bid nou vir hulle en vra God om jou te wys hoe om hulle te bemoedig en aan te spoor!

‘n Kerk in my omgewing adverteer sy byeenkomste met die frase: “Ons kom bymekaar om te saai.” Terwyl ons ontmoet om te aanbid, gevorm en geformeer te word deur die Woord en die Gees, te reageer in lofprysing en gebed, bou ons samekoms ons op en rus ons toe om elke dag uit te leef as Jesus se volgelinge, waar ons as getuies ook al gestrooi is, Christus se verteenwoordigers, om te skyn en te dien.

Alles tot Sy eer,

Katie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs