
Wees lief vir jou naaste
Mary Leslie Racine

Ons het aangesit vir ‘n heerlike aandete saam met ons vriende en toe daag ons kelnerin op. Ek weet nie of sy ‘n slegte dag gehad het of wat nie, maar sy was nie bly om daar te wees nie. Sy was inisieël ‘n bietjie kortaf teenoor ons, toe het sy gefrustreerd gesug en uiteindelik het sy haar oë gerol omdat ons nog nie geweet het wat ons wil bestel nie. Ek kon nie glo hoe sy teenoor ons opgetree het nie. Om eerlik te wees, ek het haar ‘n bietjie kortaf geantwoord. Ek bedoel, ons het niks aan haar gedoen nie en sy het ons so sleg behandel.
Hoe wou God hê dat ek op daardie oomblik moes optree? Sy opdrag was om my naaste lief te hê soos ek myself lief het. Ek ken nie hierdie meisie nie en ek sal haar dalk nooit weer sien nie, maar God sê “om my naaste lief te hê soos myself”. In die verlede sou ek nie aan haar as my naaste gedink het nie. Sy bly nie langs my nie en sy is nie ‘n vriendin nie, sy is verseker nie my “naaste” nie. Die woord naaste in Matteus 22:39 beteken enige persoon saam met wie ons woon of wie ons die kans het om te ontmoet.
As ek aan die definisie van naaste dink, is dit baie wyer as die persoon wat langs my woon. Dit sluit my man en kinders, my vriende, my medewerkers, die kassier by my gunsteling winkel en ja, selfs die onvriendelike kelnerin by die restaurant in. Aangesien my naaste enigiemand is wie ons die kans het om te ontmoet, sluit dit alle mense in met wie ons in aanraking kom. Dus is my opdrag as Christen, om enige persoon met wie ek in aanraking kom, lief te hê net soos ek myself liefhet.
Wanneer ek daaraan dink om myself lief te hê, dink ek daaraan hoe ek seker maak dat ek goed vir myself sorg, hoe ek myself met grasie, sagmoedigheid en vriendelikheid probeer behandel. Ek wil hê wat die beste is vir myself en soveel meer. Ek moet dieselfde gesindheid hê teenoor diegene met wie ek in aanraking kom.
My man is baie goed daarmee om sy naaste lief te hê soos homself. Ons spot altyd dat hy ‘n ongelooflike gawe het om mense te kry om hulle hele lewensverhaal vir hom te vertel. Een keer was ons uitstedig by ‘n restaurant en hy het vir ons kos gaan bestel. ‘n Paar minute later het ‘n man verbygestap en my man het gesê: “Hello John! Geniet jou neef se troue en mag jy veilig terugkom huis toe.” Ek het aan hom genoem dat dit vreemd was dat hy iemand in hierdie vreemde stad raakgeloop het wat hy ken. Hy het geantwoord dat hy eintlik net in die ry met hom begin praat het en dat die man hom sopas al daardie goed vertel het. Ek was natuurlik nie verbaas nie, want dit is net wie my man is. Ons sê altyd hy het nog nooit ‘n vreemdeling ontmoet nie. Ek het hom al voorheen gevra hoekom dit so is en hy het geantwoord: “Jy weet nooit wie jy gaan ontmoet en wat God gaan doen deur jou ontmoeting met hulle nie.” Ek dink hy sê in wese, ek wil my naaste liefhê soos ek myself lief het.

Week 4 Uitdaging:
Deel daarvan om ander lief te hê soos jouself is om om te gee vir hulle behoeftes en jouself in hul skoene te plaas. Hier by Love God Greatly doen ons dit deur Bybelstudies vir vroue te voorsien in meer as 40 tale. Ons is dankbaar om hierdie studies in Engels te hê en wil hê dat ander vroue in nie-Engelssprekende lande dieselfde geleentheid moet hê. Hierdie week vra ons jou om saam met ons op hierdie missie te gaan deur ons te help om die nasies met God se Woord te bereik! Ons het elkeen ‘n rol om te speel in die verspreiding van die Goeie Nuus van God se liefde tot aan die uithoeke van die aarde. Wees hierdie week doelgerig en stel Love God Greatly bekend aan mense wat met ons hulpbronne geseën kan word.
Week 4 Leesplan:

Week 4 Memoriseervers:
