
Ek sal jou hand neem
Lyli Dunbar

Ek het voor die wyd uitgestrekte oseaan gestaan en met vreesgevulde oë gekyk hoe die golwe meedoënloos teen die strand gebots het. Die muur van water was hoër as my 10-jaar oue kleine lyfie en ek wou nie ingaan nie, want ek was seker dat ek in die diep donkerte ingetrek sal word en sal verdrink.
Aan die anderkant van daardie golwe, kon ek egter my tannies en ooms in ‘n sirkel sien staan met glimlagte op hul gesigte. Op een of ander manier het hulle die reusagtige aanslag van water oorkom. Hulle het ooglopend meer moed as ek gehad, Ek het daarna gesmag om by hulle uit te kom, maar my hele liggaam het gebewe. Daar is geen manier nie, het ek gedink. Hierdie bangbroek sal hier bly en maar net in die sand speel.
In nederlaag het ek begin om op my knieë neer te sak, toe ek skielik ‘n sterk hand voel wat na my uitreik en my hand neem. Ek het opgekyk na die glimlaggende gesig van my pa. “Waarvoor wag jy, my meisie? Dis ‘n wonderlike dag om te swem.”
Skielik het ek gevoel hoe ek deur die krag van sy beweging saamgeneem word. Ons het oor die golwe gedryf. Toe ek afsak, het hy my opgelig en drywend gehou. In ‘n baie kort tydjie was ek veilig oor die opwelling van die gety en het ek tyd saam met my geliefdes geniet. O, die vreugde wat ek sou misloop as ek nie my vader se hand vertrou het nie!
Deesdae staan ek by ‘n ander strand en staar ‘n ander struikelblok in die gesig. Ek moet bely dat ek bang is om vorentoe te beweeg. Die golwe van beproewing is meedoënloos, maar ek weet ek sal uitmis op die groter seën wat God vir my voorberei het as ek Hom nie vertrou om my hierdeur te dra nie.
Die profeet Jesaja het geskryf aan God se mense wat in ballingskap in ‘n vreemde land gewoon het. Die nageslag van Israel, ver van hul tuiste en baie diep ontmoedig, het swak en weerloos gevoel. God self het met hulle gepraat en sê:
“Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou moenie bang wees nie, Ék help jou.’” – Jesaja 41:13
Kom ons herinner onsself vandag aan hierdie waarhede terwyl ons veg om die geloof te behou:
- God sal ons krag wees wanneer ons swak is. Ons hoef nie sterk te wees nie. Sy krag sal enige struikelblok oorkom.
- Die Almagtige het belowe om ons op te hou wanneer ons nie onsself kan ondersteun nie. Ons hoef nie te vrees dat ons dit nie gaan maak nie. Die Here Self sal ons oplig.
- Die Skepper wat die heelal geskape het, beheer ons toekoms en sy planne vir ons kan nie deur die vyand weggewas word nie.
Vriendin, jou hemelse Vader wil jou by die hand neem en jou lei deur watter ontberinge jy ookal in die gesig staar. Moenie die stryd gewonne gee nie. Jy is God se kind en Hy sal jou nooit los om te verdink in moedeloosheid nie. Laat Hy jou lei na die ander kant waar jy meer vreugde as wat jy ooit gedink het, sal ervaar. Waarvoor wag jy? Vertrou God ten volle en duik diep in die oorvloedige lewe in wat Hy vir jou beplan het.
