Deur WhitneyD | Oktober 13, 2017
Gedurende die laaste jaar het ons baie stil oggende langs ‘n reus deurgebring. Hy was nie 2 meter in lengte nie, maar hy het ‘n groot hart gehad. My Kubaanse oupa was vir 70 jaar getroud, het hard gewerk en baie liefgehad. Hy was die patriarg en middelpunt van ons familie en sy dood was ‘n ongelooflike verlies vir ons familie.
Wanneer jy weet dat jou tyd beperk is, is elke oomblik met ‘n wyse man heilig. Jy wil luister. Elke woord is belangrik. Elke gesprek is betekenisvol.
2 Timoteus 4 is Paulus se swanesang – sy laaste brief, geskryf met die wete dat sy lewe binnekort gaan eindig. Paulus het die helfte van die Nuwe Testament geskryf onder die inspirasie van die Heilige Gees, en hierdie is sy finale woorde aan ons, die liggaam van Christus. Soos ek hierdie hoofstuk lees, sien ek Paulus se passie om ‘n duidelike boodskap aan ons te skryf soos ons voort beweeg in geloof.
My liewe susters, die lewe is moeilik. Paulus het dít beter verstaan as wat ons ons kan indink. Hy het elke dag van sy lewe vervolging, openbare vernedering, aanklagte en uiterste teenkanting ervaar, alles vir Christus. Maar deur elke aanval en teenspoed, het een ding konstant gebly in Paulus se lewe: die krag van Christus was groter as enige probleem wat hy in die gesig gestaar het.
Hier is wat Paulus wil hê jy moet weet: God sal jou die krag gee om dít wat hierdie mal wêreld na jou kant toe laat kom, tegemoet te kom. Jy mag teenkanting ervaar, maar God gaan jou innerlike sielskrag en ywer gee. God sal altyd sterk vir jou opkom. In jou swakste oomblikke, sal jou Abba Vader voorsien wat jy nodig het.
Paulus se passie om die Goeie Nuus van die evangelie te verkondig, het nie gekwyn nie. Selfs in die gevangenis het hy voortgegaan om die naam van Jesus te noem en vir mense na die hoop van verlossing te wys. Dit is ons opdrag. Ja, ons lewens mag in onrus wees, maar beproewing bied ‘n platform vir ons om ander te vertel van die Verlosser wie ons oorkombare krag gee. Soos mense na ons lewens kyk, wys ons hoe God ‘n werklikheid is en aan die werk is.
Ja, ons het ‘n vyand. Paulus het dit goed verstaan, maar hy het verstaan dat God se groter doel vir sy lewe was om sterk in die geloof te eindig. Terwyl hy in die tronk gesit het en hierdie brief geskryf het, was sy vertroue volkome in sy Verlosser geplaas. ‘n Leeu kan brul, maar hy kan nie jou siel verslind nie. Jy is ten volle beskerm deur die God wat elke tree van jou reis saam met jou wandel, totdat Hy jou na die hemel toe neem.
As ‘n kind het ek na ‘n klein Spaanse kerk gegaan met my oupa. My reus het my elke Sondag opgetel, en ek het stil langs hom gesit en na die preek geluister. Elke erediens het geeindig met ‘n doksologie – ‘n woord van lofprysing aan God. Ons het die naam van God hoog gelig op ons lippe, en dan by die deure van die kerk met vreugde in ons harte uitgeloop. Ons opdrag is om vir God se glorie te leef in ons huise, by ons werkplekke en in ons gemeenskap.
Paulus se finale uitdaging aan ons met lof:
Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.
Paulus het teenstanding vanuit ‘n posisie van oorwinning ervaar, omdat hy ten volle vertrou het in sy Verlosser. My susters, ons roeping is om die Een te loof wat ons reeds verlos het en voortgaan om ons te beskerm en te voorsien vir ons elke behoefte. God se kragtige teenwoordigheid sal jou nooit verlaat nie, en Hy het ‘n groter doel vir watter probleem jy ookal vandag mag ervaar.
Mag ons, soos Paulus, ons lewens leef tot die eer van God tot met ons finale asemteug. Mag ons laaste woorde spreek van God se getrouheid.
Hou die geloof
Lyli
_______________________________________________
Sluit by ons aan vir ons volgende studie: Filippense
Die studie begin op 30 Oktober
_______________________________________________
Stel jy belang om te help met vertaling, of om ons te help om vrouens te bereik in ander lande in hul moedertaal? Los ‘n boodskap by die kommentaar en sê in watter taal jy belangstel! Ons het altyd meer vertalers nodig en ook vrouens wat ‘n gawe het in grafiese werk, tegnologie, mentorskap… in AL ons tale. Ons wil graag saam met jou werk en meer vrouens bereik met God se Woord en Bybelstudie materiaal in 2017!