Week 2 – Saai Waarheid In Ons Harte

deur LyliDunbar | Januarie 29, 2018 | Jakobus

Ek en ‘n groep vroue het die afgelope 30 weke elke Dinsdag vir drie ure in ‘n klas deurgebring waar ons, onder leiding van ‘n gekwalifiseerde huweliks- en gesinsberader, vaardighede in die gesinslewe bespreek het. Een onvergeetlike aand het die onderwyser voor in die klas gestaan en woede vir my geherdefinieer:

“Woede is ‘n valse front – ‘n wegwyser na ander onderliggende emosies. Ons gebruik woede om ons skande, onvermoë en pyn te verdoesel.”

Regtig?  Ek het opgegroei in ‘n huis waar woede-uitbarstings die norm was.  Om seker te maak jy word ernstig opgeneem, het jy eenvoudig jou stem verhef en met meer agressie gepraat.  Dit was ons normale manier van kommunikeer.

Om vrede in die huis te bewaar, moes ek as volwassene van voor af leer hoe om ‘n gesprek te voer sonder om altyd op die aanvalspad te wees.  Ek moes letterlik die wortels van bitterheid om my egosentriese hart verwyder.

Wat ek geleer het deur wyse raad, stem perfek ooreen met die waarhede wat in die boek Jakobus gedeel word. Eiegeregtige woede is nooit gesond nie. Ons sal nooit die oorlog wen deur ons woorde as wapen te gebruik nie.

Die apostel Jakobus het geleef in ‘n tyd waarin opponerende partye passievol was oor menings, en hy het praktiese hulp aan die vroeë kerk verleen oor hoe om konflik te hanteer. Die weg van die wêreld is om ons eie wil te eis, maar in hierdie gedeelte ontdek ons God se vergelyking vir gesonde kommunikasie:

Wees vinnig om te hoor.

Die implikasie is tweevoudig:

1. Ons moet ‘n leerbare gees hê wat ywerig aan die opdrag van God se Woord gehoorsaam is. Soos ons God se Woord in ons eiegeregtige harte plant, bring dit sagmoedigheid voort. In plaas daarvan om aan te dring op ons regte, moet ons eerder in onderdanigheid ander se behoeftes voor ons eie stel.

Spreuke 18:15 “’n Mens met insig doen kennis op; wyse mense hou hulle ore oop vir kennis.

2. Ons moet daarna streef om ander se situasie te verstaan, eerder as om ons eie wil af te dwing. Ons mis dikwels die seer in die lewens van diegene met wie ons skouer skuur, omdat ons nie verby hul woorde luister na die hulproep van hulle gewonde harte nie.

Spreuke 18:2 “Die dwaas stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak.”

Wees stadig om te praat.

Onbeheerbare emosies lei tot swak kommunikasie.  Dis beter om jou woorde oordeelkundig te kies – of eerder heeltemal stil te bly. Ons moet biddend reageer en in genade uitreik na mense, eerder as om te reageer en beledigend te raak.

Spreuke 10:19 “Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig.”

Wees stadig om toornig te word.

Weier om selfgeregverdigde woede te dra soos ‘n wapen van eer. In plaas daarvan, los jou seer aan die voete van Jesus en laat Hom toe om vir jou te stry.

Spreuke 16:32 “‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem.”

Jakobus verduidelik hoe ons ontslae moet raak van die vleeslike, sondige onkruid wat ons harte verstrik. Soos ons God se Woord bestudeer, word ‘n saad van waarheid in ons lewens geplant. Elke keer wanneer ons nederig gehoorsaam is aan wat God sê, laat dit pragtige vrugte voortkom. As daar ‘n geskiedenis van woede in jou familie is soos in myne, kan God se Woord wat in jou hart toegepas word, jou hele lewensuitkyk verander.

Ons kan woede uitroei en geregtigheid in die plek daarvan plant.

Om na die welstand van jou hart om te sien is harde werk, maar definitief die moeite werd.

Bly in die geloof.

Lyli

Week 2 – Uitdaging Hierdie week fokus op om ’n “Doener” te wees van God se Woord. Moenie net God se Woord lees nie, leef dit uit! Hou jou tong wanneer jy in kwaadheid wil reageer, gaan die ekstra myl vir die persoon wie hulp nodig, vergewe, selfs al is dit seer en wees vrygewig … met jou geld, liefde en tyd.

Week 2 – Leesplan

Week 2 – Memoriseervers

______________________________________________

Word ’n Fasiliteerder

Dit is LGG se visie om kleiner groepe te hê, elk met hulle eie fasiliteerder, sodat die vrouens ‘n nouer gemeenskap kan vorm wat saam uit die Bybel leer en mekaar ondersteun, eerder as om net een groot groep met honderde lede te hê. Sal jy dit oorweeg om ‘n fasiliteerder van ‘n LGG groep te word? ‘n Fasiliteerder kan weekliks ontmoet met haar LGG Bybelstudiegroep in haar huis of by die kerk, of sy kan ‘n private groep hê op Facebook, WhatsApp, of met e-mail, waar sy dan daagliks tydens die LGG studies die versies en haar SOAP deel met haar groep. Daar is baie hulpbronne en ondersteuning beskikbaar vir fasiliteerders.

Sal jy dit biddend oorweeg om deel te word van hierdie ongelooflike bediening wat God vir ons gegee het, deur ons te help?

Indien julle belangstel, stuur asseblief vir ons ’n epos by [email protected]

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse