Week 1 – Vrees vir die toekoms

Deur Jen Thorn | Maart 5, 2018 | Vrees en Angs

In die boek Jeremia sien ons dat die volk van God deur koning Nebukadnésar gevange geneem en in ballingskap na Babilon weggevoer is. In hulle oë was die toekoms donker en angswekkend. Hulle het geen idee gehad of hulle ooit weer hulle land sal sien of wat met hulle sou gebeur in Babilon nie. Sal hulle gesinne opgebreek word? Sal hulle mishandel en gemartel word? Gaan hulle slawe wees?

Jeremia self was nog in Jerusalem toe hy hoofstuk 29 geskryf het. Dit is ‘n brief wat die mense hoop gegee het dat God hulle sal red, en alhoewel dit op daardie tydstip nie so gelyk het nie, weet God wat Hy doen. En sy planne is altyd die beste.

Aan die begin van ons studie oor vrees en angs kan ons ‘n lang lys maak van dinge wat ons bang en angstig laat voel. Een van daardie dinge is sekerlik die toekoms. Miskien voel jy dat jou toekoms somber lyk. Jy staar jouself blind teen die huidige omstandighede en voel dat die toekoms nie sal verander nie. Jy kan jou bekommer oor jou oudag, oor hoe om die kinders deur universiteit te kry, jou huwelik of bloot net oor hoe om deur hierdie week te kom. Hoe ons oor die toekoms dink, of dit nou oor môre of 20 jaar van nou af is, kan vrees en angs by ons ontlok.

Hoe verander ons ons perspektief op die toekoms op so ‘n manier dat dit ons help om rus in die Here te vind?

Ons moet God ken

Deur die hele Skrif wys God ons wie Hy is, hoe Hy is en wat Hy doen. Hy leer ons dat Hy almagtig is, wat beteken dat Hy dinge kan doen wat ons nooit op ons eie kan doen nie. Hy is liefdevol en vriendelik, wat beteken dat Hy nie wreed of gemeen kan wees nie. Hy is getrou, wat beteken dat Hy nie op sy Woord kan teruggaan of sy volk kan versaak nie. Hy is genadig, wat beteken dat Hy met medelye, omgee en simpatie vir Sy mense gevul is. En Hy het ‘n plan.

Sy plan bring vertroosting vir Sy mense want, nie net is Sy plan volmaak omdat God volmaak is nie, maar God weet ook die beste manier om alles so te reël dat Sy plan tot volle verwerkliking kom. Om God te ken, kalmeer die angstige hart.

Ons moet God glo

Om God te ken, is nie genoeg om te begin om ons vrese oor ons toekoms te verdryf nie. Ons moet ook glo wat God sê. Ons moet glo dat, terwyl ons nie kan sien wat die toekoms inhou nie, God alles sien. Ons het nie veel beheer nie, maar God beheer alles. Ons is dalk verward en het wysheid nodig, maar God is nooit verward nie en Hy het al die wysheid.  Hy gebruik dit om Sy planne uit te voer. Al voel dit vir ons of die toekoms voortdurend verander, dit onvoorspelbaar en onstabiel is, bly God ‘n standvastige rots en in Hom is ons lewens, en veral ons toekoms, stabiel en veilig.

Die planne wat Hy vir ons lewens het is dalk nie maklik nie. Dit kan swaarkry behels, en die onbekende kan skrikkerig wees, maar ons moet nie in vrees lewe nie. Ons moet onsself telkens daaraan herinner dat ons ‘n God dien wat die son laat stil staan het, wat vir 40 jaar lank sy mense met brood uit die hemel gevoed het, en wat Homself opgeoffer het vir ‘n volk wie se toekoms nou meer rooskleurig is as wat ons ooit kan dink.

Ons perspektief op die toekoms sal verander wanneer ons God ken en glo wat Hy sê, en dit sal die vrees vernietig.

“Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.  Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ‘n veilige toevlug.”

Jesaja 26:3-4

Kyk na Jesus,

 

 

 

 

 

 

WEEK 1 Uitdaging:

  • Maak ‘n lys van al die dinge wat jou bang maak vir die toekoms, of dit nou môre of oor 20 jaar is.
  • Watter waarhede oor God is vir jou moeilik om in te glo in jou vreesbevange situasie? Vra die Here om jou geloof in daardie areas te versterk.

WEEK 1 Leesplan

WEEK 1 Memoriseervers

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse