Wat Om Te Doen Wanneer Die Vloedwaters Styg

Deur Angela | September 11, 2071 | 1 & 2 Timoteus

Ons leef in ‘n tyd waar die nuus en die mense op sosiale media daarvan hou om vir ons te vertel dat ons net vir mense soos ons omgee. Hulle versprei ‘n boodskap dat ons net omgee vir diegene wat soos ons lyk, soos ons praat en leef waar ons leef. Maar, ons sien dat die waarheid uitkom deur inspirerende verhale van mense reg oor die wêreld en hier waar ons woon.

Ek het dit persoonlik gesien hierdie week terwyl ek na die nuus gekyk het uit my droë huis in Dallas, terwyl mans, vrouens en families alles verloor het in die verskriklike vloedwaters van orkaan Harvey.

Vir weke en maande het ek berigte gelees en video’s gesien van mense wat met mekaar baklei omdat hulle meer gefokus was op dit wat hulle geskei het, as dit wat hulle verenig het.

En toe kom Harvey. En die nuusberigte het verander.

Hierdie laaste week het ek gesien wat ‘n groep mense kan doen wanneer hulle verenig om mekaar te help. Wanneer hulle saam fokus om probleme op te los, lewens te red en dít wat verloor is, te herbou.

Ja, ons leef in ‘n gevalle, wrede, pynlike wêreld. Daar is geen twyfel daaroor nie, maar selfs in die donkerste… is God altyd daar, besig om deur Sy mense te werk.

Ek kon dit hierdie week sien soos gewone mans en vrouens vorentoe getree het om uit te help.

En ek wonder net, wat ons almal vorentoe tree en verenig rondom verse soos 1 Timoteus 2:4… “wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom…”

Wat as ons verenig om diegene wat in die malende vloedwaters van ongeloof is, te bereik? Wat as ons doelgerig ‘n punt daarvan maak om met ons liefde, ons tyd en God se Waarheid uit te reik na diegene wat nie soos ons lyk, soos ons klink of leef soos ons nie?

Wat as…?

Dink net wat God kan doen deur ‘n groep vrouens met daardie fokus, met daardie passie en daardie begeerte om ander met God se Waarheid te bereik… sodat niemand in die vloedwaters van ongeloof sal omkom nie.

“Alle mense” in 1 Timoteus 2:4 beteken nie net dié mense wat soos ons lyk, soos ons klink of dieselfde burgerskap as ons het nie. “Alle mense” beteken mans, vrouens, kinders van alle rasse, alle tale en alle nasies.

Want ons weet uit Openbaring 7:9

“…Hierna het ek ‘n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan…”

Vriende, God wil hê dat ALLE mans en vrouens gered moet word deur Jesus Christus… nie net dié wat soos ons lyk, soos ons klink of leef waar ons leef nie.

Ek word so herinner aan die verhale van hierdie dapper mans en vrouens in Houston wat hulle lewens gewaag het om ander se lewens te help red, ongeag hulle verskille, soos hulle die gevaar binnegegaan het om lig en hoop aan dié wat besig was om te sterf, te bring.

Ons word almal geroep om dieselfde te doen.

Van die 20e September af, verenig ons vrouens van:

Venezuela

Indië

Kanada

Australië

Hongarye

Suid-Afrika

Indonesië

Pole

Nigerië

Tsjeggiese Republiek

Brasilië

Nederland

China

Italië

Duitsland

Frankryk

en natuurlik van Amerika af. Hierdie gewone, maar kragtige vroue sal na my huis in Dallas, Texas toe kom vir ‘n weeklange opleidings Intensief… en ek vra vir julle gebede.

Want ek wil nie hê ons moet net 1 Timoteus 2:4 lees nie… ek wil hê dat ons daardie vers moet UITLEEF.

Ons sal 1 Timoteus 2:4 ter harte neem en hierdie ongelooflike vroue toerus en oplei om terug te gaan na hulle lande en ‘n katalis van verandering te wees wat God se Woord gebruik om diegene wat verdrink in hulle vloedwaters van ongeloof te bereik. Deur die lewensreddende waarheid wat in 1 Timoteus 2:5 te deel… dat daar net een weg na God is… deur Sy Seun, Jesus Christus.

Maar ek wil nie hê dat ons dit alleen moet doen nie. Dit is té belangrik, dus nooi ek julle, liewe vriendinne, om saam met ons in hierdie ongelooflike werk te staan en vra ek dat julle vandag begin bid tot die einde van ons Intensief, die 27e September.

Bid met ons, want dit neem jou en my, wat saam werk as die Liggaam van Christus, wat bid, dien en gee wat ons kan, om te kan doen wat slegs Hy kan.

Bid asseblief vir:

– Veiligheid vir almal se vlugte.

– Beskerming vir almal wat betrokke is, en vir ons families.

– Voortgesette finansies vir uitgawes wat nog nie gedek is nie.

– Dat God op ongelooflike wyses sal werk.

– Dat die krag van die Heilige Gees op ons sal wees.

– Vir wysheid en insig soos ons voorberei om hierdie nasies te bereik.

Laat ons saam werk om 1 Timoteus 2:4 in aksie oor te sit en die vloedwaters binne te gaan…met arms by mekaar ingehak, biddend, terwyl ons uitreik, soek en help… net soos wat Jesus vir ons gedoen het.

“wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het…” 1 Timoteus 2:6

Want God begeer dat ALLE mense, mans, vrouens, kinders van elke streek van die wêreld gered moet word en Hom ken. Maar ons leef in ‘n wêreld wat vertel dat daar baie weë na God is. As kinders van die Koning weet ons dat dit nie waar is nie. Daar is net een weg na God: deur Jesus Christus. Jesus het Sy lewe vir hierdie missie gegee. Hy is die Redder waarna ons harte smag. Sy missie moet ons missie word… Sy begeertes ons eie, want niemand is buite God se genade nie.

Een vrou, een gemeenskap… een nasie op ‘n slag.

Vriende, die vloedwaters is besig om te styg, en dit is tyd om in te spring en te help!

Kom ons Praat: Op watter maniere kan jy 1 Timoteus 2:4 in aksie in jou lewe oorsit? Watter deel van hierdie ongelooflike evangelieverhaal het God jou toegerus om te speel?

Hê God Groots Lief!

 

 

Week 2 Uitdaging: Wy jouself daaraan toe om elke dag vir ons opkomende Love God Greatly Intensief te bid, soos ons streef om 1 Timoteus 2:4 tot aksie oor te sit in ons bediening.

Week 2 – Leesplan

 Week 2 – Memoriseervers

___________________________

 

Vriende.

Ek en Jerine is deur Love God Greatly genooi om na Dallas, VSA te kom vir opleiding vanaf die 20ste September tot die 27 September 2017. Hierdie opleiding word geborg en soos julle weet is ons studiemateriaal gratis, en wil ons borge graag weet wat dit vir mense beteken om hierdie studies in hulle eie tale te hê, en hoe hierdie studies lewens verander. Ons kom met ‘n versoek en wil graag van julle weet hoe hierdie studies julle lewens verander het, en wat dit vir julle beteken om hierdie studies in Afrikaans te kan doen. Julle kan ‘n boodskap hieronder los of vir ons ‘n privaat boodskap stuur by [email protected]. Dit hoef nie lank te wees nie. Selfs twee of drie sinne sal baie beteken.

Ons wil ook net vir julle in kennis stel dat daar vir die twee weke wat ons weg is nie ‘n blog gaan wees nie, ons gaan nie die tyd hê om die blogs te vertaal nie. Julle kan die Engelse blogs gaan lees by https://lovegodgreatly.com/lgg-blog/

Liefde Velia en Jerine.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse