Wat Is Die Bron Van Jou Geluk

Deur Angela | Julie 23, 2018 | Waarheid Oorwin

Dit kan ongemaklik wees om oor geld te praat, so kom ons praat eers oor oliebolle.

Hou meeste mense van oliebolle? Ja.

Kan oliebolle jou gelukkig maak? Net op ‘n vlugtige, aardse manier.

Sal oliebolle jou seermaak? Dit hang af. As jy af en toe een eet, sal dit nie, maar om té veel, té gereeld te eet, is nie ‘n goeie idee nie.

Is hulle euwel? Nee, maar hulle kan ‘n versoeking skep om te ooreet en kos kan ‘n afgod in ons lewens word.

Die vergelyking is nie perfek nie, want oliebolle sal nie die huur betaal nie, maar geld is baie dieselfde.

Mense hou van geld, maar dit kan slegs oppervlakkige, tydelike geluk bring. Dit kan nie vreugde of tevredenheid bring nie. En geld kan so maklik vir ons ‘n struikelblok wees en ‘n afgod in ons lewens word.

Dit is vir my interessant dat geld so duidelik en herhaaldelik in die Bybel genoem word – beide in die Ou en Nuwe Testament. Daar is meer as 2000 verse oor geld, maar ten spyte daarvan dat die Skrif ons so duidelik waarsku oor die gevare van geld, hou dit aan om ons te verstrik.

Prediker 5:9 “Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg nie. Ook hier kom dit tot niks.”

Hebreërs 13:5 “Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’”

Geld sal jou nie vreugde of tevredenheid bring nie.

Dit is ‘n leuen wat die wêreld ons voed. Elke advertensie vertel ons dat as ons net daardie ding het, sal ons meer gelukkig en op die een of ander manier beter wees. Meer, meer, meer.

Ek kan uit ervaring praat, want ek het ‘n deel van my lewe geleef in die wêreld van geld. Die wêreld van om uit private stralers uit te klim in uitspattige klere om deftige etes te hê. Ek moet erken, die geld het prettige ervaringe en unieke geleenthede gekoop.

Maar dit het ons familie seergemaak. Dit het ons afgelei daarvan om op God en familie gefokus te wees, na om op die wêreld en samelewing gefokus te wees. Dit het ons mislei. In sekere opsigte het dit ons vernietig.

Dit het nie oornag gebeur nie. Dit was ‘n stadige verdowwing. Maar geld het stadig op die leer van ons lewens opgekruip totdat dit hierdie onverdiende voetstuk posisie as ‘n afgod ingeneem het.

Ek kan daardie jare van my lewe oor en oor speel soos ‘n fliek. Ongelukkig speel die treinramp steeds in stadige aksie uit vir sommige van die mense vir wie ons lief is – vir familie en vriende wat ons net wil skud en sê, “Word wakker! Julle maak ‘n fout!” Ons oogklappe is gelukkig verwyder sodat ons met pynlike helderheid kan sien hoe die najaging van geld en die dinge wat dit in hierdie wêreld kan doen, voortgaan om verwronge prioriteite te skep, om onvergenoegdheid te laat broei en om onbedoelde pyn te veroorsaak.

Ek het gehoor dat daar gesê word dat daar in elkeen van ons ‘n gat is wat die vorm het van God – dit beteken dat die pyn en hunkering in ons siele net waarlik deur God bevredig kan word. Dit is nie ‘n gat wat die vorm het van ‘n nuwe kar of ‘n groot huis of ontwerpersklere nie. En, om die waarheid te sê, om onsself met daardie dinge te probeer vul, laat dit voel soos ‘n groot, swart, bodemlose put, want hulle doen niks om ons te vervul nie. Om die dinge van hierdie wêreld na te jaag, laat ons ons eie sterte jaag. Ons word in die versoeking gebring om te glo dat meer altyd beter sal wees, maar ons is altyd besig om te wonder hoekom ons steeds leeg voel.

Geld kan nie vreugde of tevredenheid, vrede of hoop, geloof of redding koop nie.

Maar, geld is nie inherent euwel nie. Geld word ongesond in ons lewens wanneer dit iets word wat ons aanbid, of iets word wat ons uit selfsug opgaar. Geld laat ons toe om kos en beskutting vir ons families te voorsien, en die geld wat mens nodig het om die basiese benodighede te voorsien maak die lewe definitief makliker. Geld gee ons ‘n geleentheid – en ‘n verantwoordelikheid – om daardie fondse te gebruik om vrugbare koninkrykswerk te doen. Ons kan goeie dade doen met ons geld, en ons moet goeie dade doen met ons geld.

My man is die mees ruimhartige mens wat ek ken, en hy sê dikwels, met ‘n glimlag op sy gesig, “Jy kan niks van dit saam met jou neem nie,” bedoelende dat ons geen van ons aardse besittings met ons sal neem wanneer ons Hemel toe gaan nie. Dit klink laf, maar staan stil en dink ‘n oomblik daaraan. Die dag wat jy Christus van aangesig tot aangesig sal ontmoet, sal nie Hy of enige iemand anders iets oor jou besittings of jou rykdom sê nie, maar ek kan myself voorstel dat Hy bly sal wees oor lewens wat ruimhartig geleef is en hulpbronne wat doelgerig en effektief gebruik is om die evangelie te versprei.

Die goeie nuus?

  • Dit is nooit te laat om te herfokus en om te begin om goeie dinge met ons geld te doen nie.
  • En, daar is geen hoeveelheid geld wat vir God onbenuidend is nie. Onthou, hy het duisende met ‘n paar visse gevoed. Markus 12:42-43 vertel die verhaal van die weduwee se gawe, “Daar het toe ‘n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê, ‘Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het.’” Om arm te wees volgens die wêreld se standaarde, is nie dieselfde as om arm te wees volgens God se standaarde nie. Ons kan almal ruimhartige, getroue rentmeesters wees van die geld wat aan ons gegee is.

Geld is nie die geldstelsel van Christendom nie. Inteendeel, mag ons ryk in gees wees met die skat van ons harte gefokus op die ewigheid.

Genade en vrede,

 

 

 

Week 5 Uitdaging: Wat maak jou gelukkig? Wat is die bron van jou geluk? Neem hierdie week tyd om hierdie vraag eerlik te beantwoord. Deel jou antwoord met jou groep, of skryf dit neer in jou joernaal. Watter veranderinge kan jy maak sodat Christus die bron van jou geluk is?

Week 5 Leesplan

Week 5 Memoriseervers

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse