Wandel Met Integriteit
Deur Angela | Mei 24, 2019
Die profeet Miga het verseker in ‘n baie goddelose tyd geleef. Die Israeliete het keer op keer teen God gesondig. Hulle wou eerder lewe soos die nasies rondom hulle in plaas van om te lewe soos God hulle beveel het om te doen. Hulle het afgode aanbid en het geen respek gehad vir die wette wat God hulle gegee het nie. Hulle sonde het oordeel oor hulle gebring, en Israel en Juda is gevange geneem.
In vandag se verse lees ons van die Millenniale koningkryk van Jesus se wederkoms. Hy sal elke afgod wat mense in die plek van God aanbid het, vernietig. Hy sal alles waarop mense vertrou het in die plek van God, vernietig.
Hy sal doen wat die mense veronderstel was om te doen.
As Christene word ons geroep om anders te lewe as die wêreld. Ons word geroep om onberispelik en onskuldig te wees, om lig te bring na ‘n duister, korrupte en verdraaide generasie (Fillipense 2:15). Die kerk sien uit na wanneer Jesus sal terugkom en ons saam met Hom sal neem (1 Tessalonisense 4:13 – 18).
Die vraag wat ek vandag vir myself moet afvra is… hoe wag ek?
Ons as die kerk word geroep om ‘n regverdige lewe te lei wat uitstaan bo die wêreldse lewe. Ons word geroep om te wandel met integriteit. Dit beteken, hoe ander my in die openbaar sien, is presies wie ek is wanneer ek alleen is.
Ons lees in Psalm 50 ‘n beskrywing van die lewe van ‘n goddelose mens. Hierdie behoort ons kontrolelys te wees om ons te help dink hoe ons regtig lewe. Waarvan hou ek en belê ek my tyd, geld en inspanning in? Wat is my prioriteite? Watter soort mense spandeer ek tyd mee en wat doen ons? Watter soort dinge sê ek? Jok, skinder en/of beledig ek ander mense? Hoe behandel ek ander mense? Kan hulle vir Jesus in my sien, of is hulle verras om uit te vind dat ek ‘n Christen is?
Die antwoord op hierdie vrae sal bepaal of ek ‘n lig vir die wêreld is en of my kers vervaag. Ek moet anders wees. My lig moet helder skyn waar ek ookal is tot die dag van my dood.
“Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ‘n dief in die nag kom. En op dié dag sal die hemel met ‘n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, sal vergaan. Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. Leef in verwagting dat die dag van God kom, en beywer julle daarvoor “– 2 Petrus 3:10-12.
As ons opreg glo dat Jesus weer gaan kom, waarom leef ons nie ons lewens om God te verheerlik nie? Waarom staan ons lewens nie uit bo die lewens van hulle wat nie die Heilige Gees in hulle het nie? Ons geloof in Jesus se wederkoms behoort ‘n verskil in ons lewens te maak.
Liewe vriendin, onthou dat alles op die aarde gaan verdwyn. Al die dinge wat ons bymekaar maak, ons groot huise en aardse besittings sal vergaan. Wanneer jy vandag se verse oordink, maak dit ‘n prioriteit om getrou te wag en met integriteit te wandel. Streef na heiligheid en goddelikheid in plaas van aardse besittings tot Jesus weer kom en laat jou lig helder skyn.
Tevrede in Sy diens,