As jy my sou vra wat my kosbaarste dinge in die lewe is, sou my plaaslike kerk onder die top drie op daardie lys wees, en ek neem dit werklik nie as vanselfsprekend aan nie. Ek het in 2016 na Glasgow verhuis met die plan om vir twee jaar daar te bly, maar God het my terug na Skotland gebring. Hier is ek amper ses jaar later! Toe ek oor hierdie besluit gebid het, was my grootste bekommernis of ek vriendskap, ‘n gemeenskap en mense sou vind om saam met my te dien. Die kerk waarin ek was tydens my eerste paar jaar in Glasgow, het nie daardie vlak van gemeenskap en diens weerspieël soos ek dit in die Skrif gesien het nie. Ek het geweet ek sou nie in hierdie stad kon oorleef sonder ’n gemeenskap wat die Bybelse werklikheid weerspieël nie. Al het ek nie ’n duidelike antwoord op hierdie kwessie gehad nie, het ek die besluit geneem om terug te kom sonder om te weet wat die toekoms vir my inhou veral ten opsigte van hoe om te floreer in ’n plaaslike kerk. Maar in God se oorvloedige genade het Hy op soveel maniere voorsien! Hierdie verse in 1 Korintiërs 12 en Efesiërs 1 beteken soveel meer vir my, omdat ek sien hoe dit uitgeleef word in ons klein kerkfamilie in die ooste van Glasgow.
Die Waarde van Ons Verskille
In 1 Korintiërs 12 wys die apostel Paulus vir ons hoe waardevol elke lid van die liggaam van Christus is deur dit te vergelyk met hoe ons eie liggaam funksioneer. As ’n deel van ons liggaam nie daar is nie, sal ons nie so doeltreffend of effektief funksioneer nie. Net so, sonder ’n verskeidenheid lede binne die plaaslike kerk, kan ons ook nie so effektief wees in die uitbreiding van God se koninkryk nie. Daarom is dit noodsaaklik dat ons die waarde van elkeen in die plaaslike kerk verstaan en daarna streef om die gawes wat God aan ons gegee het, in daardie konteks te gebruik. Ons gawes mag dalk heeltemal anders lyk as dié van die persoon wat op ’n Sondagoggend langs ons sit, maar dit maak dit glad nie minder waardevol nie.
In Efesiërs sien ons duidelik waar die sterkte van ’n kerk met diverse lede vandaan kom. Dit is omdat Christus die hoof is. Ons kan almal getuig van tye wanneer gevalle mense probeer het om die hoof van die kerk te wees. Dit stort altyd in duie. Loof God daarvoor, want dit wys hoe waar hierdie verse is wanneer die kerk onderdanig aan Christus is. Paulus haal hier Psalm 8:7 aan: “U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp” om te wys op die vervulling van Christus wat gesag oor die hele skepping ontvang het en as hoof van die kerk optree. Jesus se plek verander of verskuif nie met die tye of seisoene nie; sy gesag bly staan. Die vraag vir ons is: sal ons as gelowiges in die kerk ons aan daardie gesag onderwerp?
Die Rol van Ons Gawes
Ons kan luister na hierdie verse in 1 Korintiërs 12 en onsself toelaat om trots te wees op alles wat ons vir die kerk kan gee, asof hulle ons nodig het om te oorleef. Wanneer ons dit deur ’n selfgesentreerde lens lees, verdraai dit die beeld wat Paulus hier skets. Maar, as ons dit in die lig van Christus se posisie en die rol van die kerk lees, sien ons die skoonheid daarvan en hoe dit ons in staat stel om dissipels te maak en die koninkryk plaaslik en wêreldwyd te laat groei.
Om deel te wees van die liggaam van Christus, met Hom as die hoof, beteken dat ons nie individueel vir ’n afgesonderde doel werk nie. Om as ’n liggaam te funksioneer, is iets wat ons saam doen. Ons word almal gelyk deur Hom gevul om deur Hom gebruik te word – niemand minder as ’n ander nie! Dit beteken ook nie net om te dien nie, maar ook om mekaar te dra deur versorgende verhoudings (1 Korintiërs 12:25-26). Wanneer een persoon in ons plaaslike kerk ly, dra ons saam. Wanneer hulle juig, juig ons saam! Ons ervarings sal geweldig verskil, maar ons hoof bly dieselfde. Daarom is ons een in Hom. As gevolg van die evangelie is ons die voorreg gegun om een met mekaar te wees in alle seisoene en situasies. Wat anders as die evangelie, sou hierdie geleentheid kon bied? Dit is slegs deur die genade van God, wat ons so vrylik ontvang het, dat ons genade-gevulde kleipotte kan wees vir diegene rondom ons, terwyl ons binne die liggaam van Christus leef. Sy genade maak ons vry om so te leef, en sy Gees rus ons toe om dit getrou uit te leef.
‘n Voorreg en ‘n Vreugde
Ek sien al hierdie dinge so duidelik uitgebeeld in my plaaslike kerk (selfs al maak ons soms foute), en dit is vir my ’n vreugde en ’n geskenk. As ek op ’n Sondagoggend om my kyk, sien ek ’n verskeidenheid van mense, waarvan ek met baie amper niks in gemeen het nie. Maar Christus en sy evangelie is ons gemeenskaplikheid, wat dit ’n voorreg en vreugde maak om saam te werk vir sy Naam se onthalwe! As ek ons verskille sou uitlig op ’n manier wat eenheid verhinder, sou ek die skoonheid van wat God deur sy plaaslike kerk beplan het, misken. In plaas daarvan kan ek saamwerk met mense wat ander agtergronde, gawes en vermoëns as ek het, vir die doel om Christus te ken en groot te maak!
Claire
Week 6 Uitdaging:
Jesus roep alle gelowiges om by Hom aan te sluit in die missie om die koninkryk van God te bevorder. Ons het die geleentheid om dit te doen deur die Goeie Nuus van die Evangelie aan diegene rondom ons te deel. Bid oor wie die Here jou dalk vra om die Evangelie mee te deel en neem die dapper stap om dit te doen.
Week 6 Leesplan:
Week 6 Memoriseervers: